Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Familie | 2016

 

Regisseur: Alain Gsponer
Rolverdeling: Bruno Ganz, Peter Lohmeyer, Anuk Steffen, Katharina Schüttler, Peter Lohmeyer

Heidi

Heidi is ’n hartroerende verhaal oor kinderwees, aanvaarding en vriendskap vir die hele familie. In die 1980s het sy Suid-Afrika bekoor met die ikoniese, geanimeerde kinderreeks op televisie. Nou is Heidi vir eerste keer op Suid-Afrikaanse fliekskerms – in Afrikaans.

Hierdie nuwe fliek-weergawe van die storie spog met die stemme van Suid-Afrika se mees bekende en gewilde akteurs. Jenna Dunster is Heidi, Charlene Brouwer is Klara, Ruan Wessels is Peter, Louis van Niekerk is Oupa (hy was ook die stem van Oupa in die TV reeks) en Rolanda Marais is Mejuffrou Rottenmeier. Henriëtta Gryffenberg het die regie vir die Afrikaanse oorklanking behartig.

Heidi, ’n weeskind, bring haar gelukkigste tye as kind by haar eksentrieke oupa Almöhi deur. Hy woon in ’n eenvoudige huisie in die Switserse berge, afgesny van die buitewêreld. Sy en haar vriend Peter pas saam Almöhi se bokke op en die vryheid wat die berge hulle bied, geniet hulle terdeë.

Maar hierdie sorgelose dae kom tot ’n einde toe Heidi deur haar tante Dete na Frankfurt geneem word. Die idee is dat sy by die ryk mnr Sesemann en sy gesin moet inwoon en ’n maatjie vir sy dogter Klara, wat in ’n rolstoel is, sal wees. Sy kan dan terselfdertyd onder die wakende oog van die streng kinderoppasser, Fräulein Rottenmeier, leer lees en skryf.

Hoewel die twee dogtertjies gou maats word en Klara se ouma ’n passie vir boeke by Heidi laat ontwaak, word haar verlange na haar geliefde berge en Almöhi by die dag groter… Heidi is ‘n fliek wat herinneringe terugbring, maar is ook ’n hoë gehalte fliek met asemrowende natuurtonele, goeie kamerawerk, uitstekende spel en storie wat belowe om nuwe generasies te betower.

Nóg flieks