Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Aksieriller | 2017 | 16 | Afrikaans

 

Regisseur: Byron Davis
Skrywers: Deon Meyer
Akteurs: Leandie du Randt, Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Bouwer Bosch, Danie Putter, Luan Jacobs, Edwin van der Walt en Tertius Meintjies

Jagveld

Emma le Roux (vertolk deur Leandie du Randt) is op pad huis toe — die familieplaas in die Groot Karoo. Mooi, sagte Emma, die pasifis en laerskool-onderwyseres. Sy het hierdie roete al ’n duisend keer gery, sonder voorval.

Maar nie vandag nie.

Want haar paaie gaan kruis met Bosman en Baz en Jay. En Boela en AJ en Piet.

Bosman is die baasbrein van die dwelmsindikaat. Hy is ’n psigopaat. Meedoënloos en geweldadig. Baz en Jay is sy meelopers, moordenaars, monsters. AJ en Boela, die rykmansseuns wat hoop om geloofwaardigheid en vinnige geld in dié wêreld te maak. En Piet, die bangbroek, die swakkeling wat alles en enigiets vir sy neef Bosman sal doen.

Emma sien hoe dié ses ’n polisieman skiet. En hulle sien vir haar.

Nou jag hulle haar soos ’n dier in die Groot Karoo. Sy’s mos maklike prooi. Dis gou-gou klaar.

Die probleem is, Emma is Jacques le Roux se kind. En Jacques le Roux was ’n Recce.

Dié jagtog wil nie volgens plan verloop nie. Dit ontrafel. Vinnig. Wat hulle dryf is nie meer haat of wraak nie: Nou is dit oorlewing.

Jagveld pak ’n genre aan wat dekades laas in Suid-Afrika, en spesifiek in Afrikaans, gesien is, naamlik die “aksieriller”. Met hierdie rolprent het die span agter Jagveld baanbrekerswerk gedoen en nuwe moontlikhede geskep vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf, en in die besonder vir die aksieriller.

Een van die uitstaande elemente van die prent en iets wat Suid-Afrikaanse gehore behoort op te val, is die keuses wat ten opsigte van die rolverdeling gemaak is, en hoe Jagveld die publiek se verwagtinge en persepsies van hierdie talentvolle akteurs heeltemal op hul kop gaan draai. Leandie du Randt, Suid-Afrika se liefling wat gewoonlik die beeldskone romantiese leading lady speel, en meer onlangs ook haar opwagting in ’n sepie gemaak het, word ’n aksieheldin met wie jy beslis nie wil skoorsoek nie en wat nie bang is om haar hande vuil te maak nie.

Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Bouwer Bosch, Danie Putter, Luan Jacobs en Edwin van der Walt, meer bekend vir hulle rolle in van Suid-Afrika se gewildste romantiese komedies en dramas, wys hul talent en veelsydigheid deur hulself te omskep in koelbloedige, gewetenlose bende-misdadigers.

Jagveld breek dus geslagstereotipes af, waarvan die beste voorbeeld waarskynlik Leandie se karakter Emma le Roux is, want Emma is beslis nie ’n hulpelose meisie wat deur ’n “groot sterk man” gered moet word nie. Sy kan op haar eie bene staan, skrik nie vir gevaar nie en deel net soveel houe uit as wat na haar kant toe kom. Emma le Roux is ’n karakter waarna vroue van alle ouderdomme kan opsien, ’n sterk vrou wat vir niemand hoef terug te staan nie.

Jagveld se draaiboek is dan ook uit die pen van die internasionaal bekende skrywer en meester van hierdie genre, Deon Meyer, wat gesorg het dat die teks en storie van wêreldgehalte is.

Nóg flieks