Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

9de kykNET Silwerskermfees: Skryf nóú in!

FOTO: Verskaf

Inskrywings vir die kortfilmkompetisie van die 9de kykNET Silwerskermfees is nou oop. Die kortfilm-projek bied elke jaar aan voornemende filmmakers die geleentheid om hul tande in hierdie medium te slyp.

Vanjaar is daar drie kategorieë. Die eerste is vir kortfilms van 24 minute en hier geld die reël dat vorige jare se uiteindelike deelnemers – met ander woorde die persone wie se films op die Silwerskermfees te sien was – nie in dieselfde hoedanigheid mag inskryf nie. As jy dus vorige jare die skrywer was, mag jy nie weer as skrywer inskryf nie, maar wel in ’n ander hoedanigheid soos byvoorbeeld vervaardiger of regisseur. Hierdie reël geld natuurlik nie indien jy nog nooit voorheen ’n uiteindelike deelnemer was nie.

Die tweede kategorie, ‘n nuwe kategorie vanjaar, is vir kortfilms wat op digitale platforms gewys kan word. Dit sluit musiekvideos, skerpskerts-sketse of enige eksperimentele werk in.

Die derde kategorie, ook ’n nuwe kategorie, is spesifiek vir die komedie-genre. Hierdie films is, soos die kortfilms in die alle genre kategorie, 24 minute lank. Beide die twee nuwe kategorieë, digitaal en komedie, is oop vir almal, ook deelnemers wat films by vorige feeste gehad het.

Voornemende filmmakers het tot 13 Maart 2019 om by www.silwerskerm.tv te registreer en voorstelle, wat tussen 250 en 300 woorde moet wees, elektronies in te handig.

Vorige wenners van die kortfilm-projek staan vandag hulle plek in die Suid-Afrikaanse filmbedryf vol met onder meer René en Corné van Rooyen (Vaselinetjie en die nuwe kykNET-dramareeks Alles Malan), Christiaan Olwagen (Johnny is nie dood nie, Kanarie), Bennie Fourie (Vuil Wasgoed, Hotel) en Nosipho Dumisa (Nommer 37) wat reeds naam as filmmakers gemaak het.

Die voorstellers van die top-konsepte wat gekies word, sal aan ’n skryfskool deelneem waar die finale draaiboek, onder leiding van mentors in die filmbedryf, geskryf sal word. Die top 15-konsepte sal vanaf April 2019 in produksie gaan en vervaardig word vir die 9de kykNET Silwerskermfees.

Inskrywings vir die bestaande kortfilm-kategorie sluit op 2 Mei 2019. Hierdie kategorie is oop vir bestaande kort-, dokumentêre- en eksperimentele films.

Die 9de kykNET Silwerskermfees vind plaas vanaf 21 tot 24 Augustus 2019

Voorleggings vir nuutgeskepte konsepte:

  • Inskrywings sluit 13 Maart 2019
  • Inskrywingsfooi: R250,00 per kortfilm-konsep (alle genres behalwe komedie)
  • Inskrywingsfooi: R250,00 per komedie-konsep
  • Inskrywingsfooi: R150,00 per digitale-konsep

Hoe om in te skryf:

  • Registreer op die Silwerskermblad by www.silwerskerm.tv;  
  • Kies in watter kategorie jy wil inskryf: Komedie, alle genres of digitale inhoud;
  • Voltooi die inskrywingsvorm volledig;
  • Tik jou konsep elektronies op die inskrywingsvorm. Moet nie jou naam op jou konsep aandui nie;
  • Betaal die inskrywingsfooi en handig in. Neem kennis: Ná betaling kan jy nie jou inskrywing verander nie.

KLIK HIER VIR DIE BEPALINGS EN VOORWAARDES VIR VOORLEGGINGS VAN NUUTGESKEPTE KONSEPTE.

Bestaande films:

  • Inskrywings sluit 2 Mei 2019
  • Inskrywingsfooi: R500,00 per inskrywing

Hoe om in te skryf:

  • Registreer op die Silwerskermblad;
  • Voltooi die inskrywingsvorm volledig;
  • Laai jou film elektronies op jou aansoekvorm. Die film moet tot 500MB saamgepers word;
  • Betaal die inskrywingsfooi van R500,00 en dien in.

KLIK HIER VIR DIE BEPALINGS EN VOORWAARDES VIR VOORLEGGINGS VAN BESTAANDE WERKE.

Deel die goeie nuus met jou vriende op sosiale media met die hutsmerk #Silwerskermfees. Volg Silwerskermfees op Facebook, Twitter, en Instagram.