Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Bouwer en Bennie span saam vir nuwe “buddy komedie”

Hooffoto: Werner Botha | Plastiek

Vuil Wasgoed is gegrond op die gelyknamige kortfilm wat die toekenning vir Beste Kort Film by die 2014 kykNET Silwerskermfees gewen het. Bennie Fourie vertolk nie net weer een van die hoofrolle teenoor sy beste vriend, Bouwer Bosch in hierdie donker komedie nie, maar hy het ook weer die draaiboek vir die vollengte weergawe daarvan behartig.

Bouwer en Bennie het mekaar vir die heel eerste keer op die Potchefstroomkampus van die Noordwes Universiteit ontmoet waar hulle onderskeidelik BA Kommunikasie en BCom Regte gestudeer het. Bennie vertel van sy beste herinneringe aan sy studentedae was al die kultuur-aktiwiteite op kampus, veral sy optredes in hulle eie improvisasie komedie, Lagnes saam met Tim Theron wat die rol van Tom in Vuil Wasgoed vertolk. “Ek is spyt dat ek nie ook destyds op die Puk aan Sêr deelgeneem het nie, want dan sou ons heel waarskynlik op universiteit al vriende geraak het. Ons het wel van mekaar geweet, maar ons was nog nie toe beste vriende nie,” merk Bouwer skielik half in gedagte op.

Hulle het vir die eerste keer teenoor mekaar gespeel toe hul onderskeidelik die rolle van twee ondeunde studente, Arnoldus en Spys in die ensemble-film, Mooirivier vertolk het wat op dié kampus verfilm is. Buiten vir die hegte vriendskap tussen hulle wat uit hierdie ervaring gebore is, was dit ook waaruit die oorspronklike idee vir Vuil Wasgoed ontstaan het. “Dit was ’n ongelooflike groot voorreg om hierdie keer nie net weer teenoor Bouwer te kon speel nie, maar om ook saam met hom te kon vervaardig en dus saam besluite oor die film se bemarking te kon neem waaroor ons albei gek was. Dis regtig lekker om ’n projek wat soveel tyd saam met die ander persoon vereis saam met jou beste vriend te kan aanpak,” vertel Bennie opgewonde. Bouwer beaam dit deur te sê dat hulle nogal baie dieselfde aanvoeling vir komedie het wat hul definitief help om van mekaar af te kan speel en sodoende ook makliker te kan improviseer. Volgens Bennie kan Vuil Wasgoed uit en uit as ’n “buddy komedie” bestempel word en daarom glo hy dat die meeste kykers hulleself veral met die vriendskap tussen Wim en Kevin sal kan vereenselwig.

Bouwer, wat die rol van die wispulturige Wim in Vuil Wasgoed vertolk, is ook aanbieder van kykNET se regstreekse laataand vermaak- en kunsteprogram, Flits. Daar is volgens hom verskeie ooreenkomste tussen hulle soos hul obsessie met die tagtigerjare sowel as hul albei se impulsiwiteit en onvermoë om dinge vooruit te beplan. “Ek is ongelooflik opgewonde oor dié film en my eerste prioriteit op die oomblik is om seker te maak dat soveel as moontlik mense dit gaan ondersteun wanneer dit vrygestel word,” vertel hy.

Bouwer was deur die jare by die vervaardiging van verskeie musiekvideo’s betrokke en sy YouTube-kanaal is boonop ook een van die 100 gewildste Suid-Afrikaanse kanale op dié webwerf. Hy beskou ’n musiekvideo as ’n kortfilm sonder enige dialoog waarvoor dus presies dieselfde reëls as vir ’n vollengte film geld. “Daar was destyds heelwat bands op Potch, maar nie almal van hulle het baie geld gehad nie. Daarom het ek toe besluit om ’n kamera te koop en vir hul goedkoop musiekvideo’s te maak sodat ek kon begin leer hoe om dit te doen,” verduidelik hy waar sy passie vir dié medium vandaan kom.

Bouwer het aanvanklik as ’n lid van die SAMA genomineerde groep, Straatligkinders, en later ook as lid van die trefferduet, Dans Dans Lisa saam met Deon Meiring van Glaskas-faam bekendheid verwerf. Hy sonder egter sy liefde vir musiek bo sy passie vir films uit bloot omdat eersgenoemde vir hom baie meer persoonlik is. “Dit bly egter ’n ongelooflike voorreg om musiek en films sowel as musiekvideo’s te kan maak wat elkeen in sy eie reg ’n baie belangrike rol binne die plaaslike vermaaklikheidsbedryf speel,” sê hy dankbaar.

Bouwer is twee jaar gelede getroud met die bekende aktrise, Leandie du Randt wat die rol van die pittige student, Alecia in Vuil Wasgoed vertolk. Volgens hom was dit net soos met Klein Karoo en Mooirivier destyds weer eens ’n baie groot voorreg om teenoor haar te kon speel, selfs al het hulle dié keer net twee tonele saam gehad. “Dis altyd lekker om Leandie in haar werksplek te sien en haar uiters professionele benadering tot toneelspel te beleef, sê hy met soveel bewondering in sy oë. Hulle twee vertolk ook die hoofrolle in die opkomende Afrikaanse komedie, Thys en Trix wat aanstaande jaar uitgereik word.

Bennie, wat die rol van die verantwoordelike Kevin in Vuil Wasgoed vertolk, het vroeër vanjaar by die kykNET Silwerskermfees ’n toekenning vir Beste Akteur hiervoor ontvang. Hy verduidelik dat enigiemand met Kevin sal kan identifiseer wat al ooit in sy of haar eie lewe vasgevang gevoel het en ’n keuse moes maak om van koers te verander. Bennie is ook die skepper en mede-skrywer van die kykNET mokumentêr, Hotel, wat onlangs met ’n gesogte SAFTA Toekenning vir Beste Draaiboek bekroon is. Sy natuurlike aanvoeling vir komedie is volgens hom aan ’n uiteenlopende verskeidenheid van invloede te danke waarvan sy pa met sy derduisende grappies vir elke geleentheid heel waarskynlik as die grootste een daarvan beskou kan word. “Vir my gaan dit hoofsaaklik daaroor om myself in die gehoor se stoele te plaas om sodoende te kan uitvind of iets regtig vir hulle snaaks is. Die heel beste toets was nog altyd vir my om te kyk of dit wat ek geskryf het, daarin kan slaag om ’n klein groepie van my vriende te laat lag al dan nie,” verduidelik Bennie.

Hy was onlangs ook as Karel in Huisgenoot se eeufeesfilm, Vir Die Voëls en as Herman in die jeugfilm, Die Pro te sien, maar vind dit egter byna onmoontlik om tussen drama en komedie ’n gunsteling te moet uitsonder. “Ek glo in elk geval dat elke rol ietsie van albei moet hê omdat die lewe ’n vermenging van beide weerspieël,” verduidelik hy. Bennie is tans in die Kaap besig om Quentin Krog se nuwe film, ’n Ander Mens saam met Frank Opperman, James Borthwick, Marlee van der Merwe en Laudo Liebenberg te verfilm.

Dit blyk baie duidelik uit hulle wedersydse hoë agting en waardering vir mekaar se werk waarom daar al voorheen in die media na dié twee hegte vriende as een van Suid-Afrika se gewildste “bromances” verwys is. Bouwer beskryf Bennie as ’n ongelooflike opregte vriend wat vir hom omgee, na hom luister en hom altyd in moeilike tye ondersteun. “Hy besef nie self hóé groot talent hy werklik het en hoe goed hy eintlik daarmee vaar nie,” voeg hy byna ongelowig by. Bennie beskryf Bouwer se absolute onselfsugtigheid en sy vermoë om na ander mense te kan luister as sy beste eienskappe. “Sy enigste slegte eienskap is dat hy die hele tyd probeer om my op Tinder te kry,” sê hy tong in die kies.

Vuil Wasgoed met Bouwer Bosch, Bennie Fourie, Stiaan Smith, Tim Theron, Nico Panagio, Simoné Nortmann en Leandie du Randt Bosch in die rolverdeling het op 8 Desember in teaters landwyd draai.