Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Brett Michael Innes: ‘Moenie ’n copy en paste verwag’

FOTO: Mark Christopher Innes

Die bekroonde draaiboekskrywer en regisseur, Brett Michael Innes, het onlangs met ons gesels oor die nuwe Fiela se Kind wat vanaf 13 September 2019 landwyd in fliekteaters begin draai.

Innes is ook die draaiboekskrywer en regisseur vir Fiela se Kind.

Jy moes Dalene Matthee se immergroen roman vir die grootskerm verwerk. Watter uitdagings was daar?

Ek het die roman op skool geleer en die storie het my na aan die hart gelê. Dit was een van daardie stories wat ek my hele lewe lank saam gedra het. Ek dink die storie van Fiela en die verwarring en isolasie wat Benjamin voel, het ek self beleef. Vir my is dit ’n liefdesverhaal tussen ’n ma en haar seun en ek het daarom besluit om daarop te fokus in dié film. Die grootste uitdaging egter was die verwagtinge en kritici en om my en my span te beskerm teen opinies. Gelukkig het ons kykNET, sowel as Danie Bester van The Film Factory agter ons gehad, wat ’n veilige hawe vir ons geskep het.

Watter aspekte is daar in die fliek, wat nie in die boek is nie?

Daar’s so ’n klein paar veranderinge in die film, wat nie in die boek is nie en die groot dinge is uitgelaat. Eerder om elke karakter en storie in film in te sit, het ek besluit om die liefdesverhaal tussen Fiela en Benjamin vas te vang. Die Elias-storielyn met die olifante en die liefdesverhaal tussen Benjamin en Nina is ook minder in die fliek. Die elemente is steeds daar, maar geniet net minder aandag.

Hoe dink jy gaan die publiek reageer?

Die reaksie van die publiek sover is positief. Ons het nog met elke vertoning die trane laat rol. Die fliek mag dalk nie styl gewys, almal se smaak wees nie, maar die gehoor sal beslis emosioneel wees na die fliek.

Het jy enige inspirasie van die vorige film gekry?

Ek het doelbewus nie die vorige film gekyk nie, omdat ek die roman wou vasvang. Die vorige rolprent is ikonies en dit is nie nodig om dit oor te maak nie. Moet dus nie verwag dat jy presies dieselfde gaan sien wanneer jy die nuwe fliek kyk nie. Daar is geen punt daarin om om die ou weergawe te ‘copy en paste’. Die enigste ooreenkomste wat jy sal bespeur is tussen die fliek en die boek.

Vertel ons meer van die keuses van akteurs.

kykNET is ons primêre belegger en het dus die meeste sê oor die rolverdeling gehad. Hul motivering was, omdat Fiela sulke groot handelsnaam is, dat ons nie onsself moet beperk tot die ‘it crowd’, maar eerder die net wyer gooi. En dis presies wat ons gedoen het. Ons het van ons land se beste en onbekendste akteurs gesien – letterlik vir almal ’n kans gegee. Zenobia, wat bekend is vir haar rolle op die planke, het egter net vir ons uitgestaan en haar oudisie het daardie magic gehad.

Waarom dink jy moet mense Fiela en veral dié nuwe Fiela sien? 

Die storie van Fiela en Benjamin is soos ’n spieël vir ons Suid-Afrikaners – soos ons ouer word reflekteer die spieël hoe ons verander het. Toe Fiela vir die eerste keer uitgekom het, het dit ons gewys dat liefde en ’n verhouding oor die rasse lyn moontlik is. Dit was ’n groot waagstuk in daardie tyd en Dalene en Katinka moet op die skouer geklop word daarvoor. Maar tye het verander. Deur Fiela se lens kan ons die Komoetie-familie se frustrasies om Benjamin te soek en deur Benjamin word ons net weer gewys om al die boksies in die indentiteit speletjie te ‘tick’ ’n gemors kan wees. Liefde, identiteit, grond en ras – Fiela wys ons al die dinge en herinner ons dat ons al die dinge ervaar, elkeen op sy eie manier.

As jy die film in slegs drie woorde kon opsom, wat sal dit wees?

Liefde, identiteit, verlies.

Gesels gerus saam op Facebook, Twitter en Instagram met die hutsmerk #FielaSeKindFilm.