Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Die reis van ‘Racheltjie’ binnekort op die silwerdoek

FOTO: Verskaf

Die hedendaagse kultuur gaan oor konstante heruitvinding. Alles wat oud is, word herverwerk om weer nuut te word. Dit is hoe Die Verhaal van Racheltjie de Beer, die nuwe rolprent met Matthys Boshoff as regisseur, se reis na die silwerdoek begin het. Dié rolprent begin op 18 Oktober 2019 landswyd in teaters vertoon.

Die oorvertel van die gevierde volksverhaal is op die debuutroman met die dieselfde naam deur die topverkoperouteur en bekroonde filmmaker, Brett Michael Innes, gegrond. Hy het in 2012 ’n lywiger en komplekser weergawe van Die Storie van Racheltjie de Beer geskryf, waarna dit ’n Suid-Afrikaanse topverkoper geword het. Daarna het hy sy boek vir die grootskerm aangepas en met Matthys Boshoff as die regisseur, het hulle ’n verhaal geskep wat hulde bewys aan sy grootwordwortels terwyl dit die gehoor na volwassenheid begelei.

Die geliefde storie vertel die verhaal van die De Beer-gesin. Nadat hulle ossewa onklaar geraak het, word hulle gedwing om skuiling op ’n afgeleë plaas in die Oos-Vrystaat te soek. Die winter het aangebreek en toe donker sneeuwolke oor die Drakensberge begin aanrol, tref ’n tragedie hulle. Dit is ’n aangrypende storie van swaarkry, opoffering en onselfsugtige liefde wat afspeel teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse bosveld gedurende die 1800’s.

“Toe ek die roman geskryf het, het ek ’n paar feite tot my beskikking gehad wat my die vryheid gegee het om die storie op ’n kreatiewe manier te ontwikkel,” het Innes gesê.  “My fokus was om insig in die karakters en hulle reis te bied, en empatie met hulle te toon nadat ’n tragedie hulle genoodsaak het om vrede met hulle pynlike verlede te maak. Die spanning tussen waarheid en fiksie het my die geleentheid gebied om ’n vars blik op Racheltjie se verhaal te gee waarby lojale volgelinge, jonger eietydse gehore sowel as mense wat nie haar storie ken nie, aanklank sal vind.

Baie skrywers voel aangetrokke tot volksverhale omdat hierdie verhale, vanweë hulle aard, bedoel is om van generasie tot generasie oorvertel en hervertolk te word en hulle vind aanklank by gehore omdat mense vertroud is met die vreemde, donker lande wat die tradisionele milieu van volksverhale is. Boonop is die taal en struktuur van volksverhale misleidend eenvoudig en bied dit ’n agtergrond waarteen die sleutelboodskappe baie meer uitstaan.

“As ’n draaiboekskrywer en regisseur is ek minder bekommerd of die storie waar is of nie, maar stel ek baie meer belang in die universele menslike waarhede in Racheltjie se storie,” het Boshoff genoem.  “Piet Roodt, eertydse professor in Afrikaans-letterkunde by die Universiteit van Pretoria, het een maal vir my gesê dat jy met ’n storie die waarheid lieg. Wat sê die storie van ons as mense, van ons aard en ons kultuur? Ek hoop dat hierdie avontuur-drama die gehore met ontsag sal vervul oor die natuur se skoonheid en krag, dat dit hulle die vasberadenheid van ’n jong meise wat met ’n lewensgevaarlike situasie gekonfontreer word sal beleef en dat dit hulle hartsnare sal roer,” het Boshoff bygevoeg. “Hopelik sal dit hulle laat nadink oor hulle verhoudings met diegene vir wie hulle die liefste is.”

Bekende akteurs speel in Die Verhaal van Racheltjie de Beer: Stian Bam (Modder en Bloed, Verraaiers), Zonika de Vries (’n Man soos my Pa, Dis Koue Kos, Skat), Marius Weyers (Dis Ek, Anna, Faan se Trein), Sandra Prinsloo (’n Man soos my Pa, ’n Pawpaw vir my Darling), Antoinette Louw (Bram Fischer, Nul is nie Niks nie), Seputla Sebogodi (Isidingo, Scandal, Rhythm City), Beate Opperman (Verraaiers, Roepman), en Charlie Bouguenon (Transformers: The Last Knight, Homeland, Vuil Wasgoed). Johannes Jordaan wat Racheltjie se boetie speel, vertolk sy eerste rolprentrol.

Die rolprent het by die 2019 kykNET Silwerskerm-fees weggeloop met die pryse as beste akteur (Stian Bam), beste produksie-ontwerp en het ook ’n spesiale VFX-toekenning ontvang.