Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

‘Die Seemeeu’ in April op die silwerskerm

Albert Pretorius as Konstant en Rolanda Marais as Nina in aksie. FOTO: Verskaf

Christiaan Olwagen se derde vollengte film, Die Seemeeu, word op 5 April by fliekteaters landwyd vrygestel. Van dieselfde kreatiewe span, met ’n geselskap van teater-reuse, en die weghol sukses van Kanarie in 2018, beloof Die Seemeeu om nie teleur te stel nie.

Olwagen neem die klassieke teaterstuk, Die Seemeeu, deur Anton Tsjechof, en verplaas dit na Suid-Afrika in die 1990’s, bykans 100 jaar nadat dit geskryf is. Wat merkwaardig is, is dat die karakters uiters gemaklik in hierdie nuwe tydgleuf en omgewing bestaan, amper asof hulle geskryf is met die moontlikheid van só ’n verplasing in gedagte.

Elkeen van Tsjechof se volronde karakters wroeg met hulle eie vrese, verlange, twyfel en frustrasies, wat natuurlik as gevolg van hulle eie toedoen is.

Ons ontmoet die teaterdiva Irene (Sandra Prinsloo), wie sukkel om gewoond te raak aan streeksrade wat nie meer bestaan nie en kunstefeeste wat haar loopbaan se voorland is; haar sieklike ouer broer, Piet (Marius Weyers), wat wens hy het meer kanse gevat in sy lewe; die onsekere, verlore en vergete seun Konstant (Albert Pretorius) wie net sy ma se aandag en goedkeuring soek; die naïwe aspirerende aktrise Nina (Rolanda Marais) wie wil wegkom uit die kloue van haar ouers en die klein dorpie waar sy woon, en dan nie weet wat om te doen wanneer sy die geleentheid kry nie; die immer-teneergedrukte Masha (Cintaine Schutte) wie ’n liefdesdriehoek moet handhaaf; die opgewekte filosoof Dr Eugene (Gerben Kamper) wie alles van ’n afstand waarneem; die onafgewerkte plaasbestuurder Elias (Deon Lotz); sy onderdanige vrou Paulina (Martelize Kolver); die armoedige onderwyser Simon (Geon Nel); en die bekende skrywer Boors (Alyzzander Fourie).

Elkeen van die karakters dra by tot die gevoel van gevangenheid wat die vakansie op die familieplaas onder ’n vergrootglas bring. Olwagen se unieke styl wat buitengewone lang tonele insluit – ’n tegniek vervolmaak deur kinematograaf Chris Vermaak – dra by tot die suksesvolle verplasing van hierdie teaterstuk na film, een honderd jaar later, aan die ander kant van die wêreld.

Die Seemeeu is op ligging geskiet en in Hermanus in Mei 2017 deur Marche Media vervaardig. Rocco Pool behartig die stelontwerp en Mariechen Vosloo is verantwoordelik vir die kostuums, terwyl Mari Conradie vir grimering sorg.

Gesels gerus saam op Facebook, Twitter en Instagram met die hutsmerk #DieSeemeeu.