Die Sneeukoningin 2: Ontmoet die karakters

Die verhaal van Die Sneeukoningin is gebaseer op die oorspronklike klassieke sprokie wat deur Hans Christian Andersen geskryf en in 1845 vir die eerste keer gepubliseer is. Die verhaal handel oor die stryd tussen die goeie en die slegte wat ’n klein seuntjie en dogtertjie – Gerda en haar broertjie Kai – aanpak.

In Die Sneeukoningin 2 word die storie verder gevoer. Na hulle oorwinning oor die Sneeukoningin het die trolle ’n smaak vir vryheid ontwikkel. Nadat die trol Orm ’n groot rol in die oorwinning gespeel het, het hy almal se held geword. Maar nou is dit nie vir hom genoeg nie.

Die Sneeukoningin 2 kry ’n splinternuwe temalied

Ontmoet die karakters

Orm (die trol en hoofkarakter)

Orm is ’n doodgewone trol en nie juis iets vir die oog nie – selfs nie volgens trolstandaarde nie. Orm se krag lê nie in die fisieke opgesluit nie. Sy ware meriete is van ’n heel ander aard: hy is slu en vlug van begrip.

Dit was juis sy vindingrykheid wat gehelp het dat hy nie deur die Sneeukoningin “gevries” is nie, maar is in plaas daarvan deur haar in diens geneem. Terwyl hy vir die Koningin gewerk het, moes hy soms die allervreeslikste, dikwels uit-en-uit gemene bevele uitvoer en het hy mettertyd, na elke opdrag, meer sinies en wantrouig geraak.

Maar ’n meisie met die naam Gerda kyk dieper as die bose trol se uiterlike en ontdek die ware Orm: ’n goedhartig, hartlike en die belangrikste van alles, eerlike trol! Saam slaag Orm en Gerda daarin om die heerskappy van koue en vrees te oorwin.

Na baie jare van rondswerf, keer Orm terug na sy huis in Trol Stad en na sy ouma. Hy werk nou as ’n steenkoolmyner en kan kwalik uitkom met wat hy verdien, al was hy die een wat die seël van die Sneeukoningin verbreek het en die trolkoninkryk ontvries het!

Die lewe van ’n eenvoudige steenkoolmyner pas doodeenvoudig nie by hom nie! Orm besluit dus om nuwe avonture aan te pak en nuwe leuens uit te dink – en hoe meer hy jok, hoe nader beweeg die wêreld aan nog ’n ysramp! Is Orm besig om die wêreld in die rigting te lei waar alles wees gaan vries?

Arrog (die superster)

Arrog kom uit ’n beroemde trolfamilie. Hy kan sonder ophou praat oor die wonderlike kordaatstukke van sy heldhaftige oupa. En tog het hy nog nie selfs sulke prestasies behaal nie en droom hy daarvan om te bewys dat hy die Prinses en die kroon waardig is.

Arrog kon uit ’n ryk gesin en dit het hom vreeslik baie selfvertroue gegee en narsissisties gemaak. Wanneer hy egter nie in die kollig is nie, hou hy op om voor te gee en word hy  ’n streng, maar regverdige en edel trol. Nadat hy die uitdagings wat oor sy pad gekom het, die hoof gebied het, besef Arrog dat afkoms en adellike herkoms nie saak maak nie en dat hy nie juis van die nie-adellikes verskil nie.

Orm se Ouma

Ouma, Oums of Ouma Rose (Granny, Gran of Grandma Rose) is ’n goedhartige en deernisvolle mens.  Sy is werklik lief vir haar kleinseun Orm en glo elke woord wat hy sê. Soos wat sy ouer word, raak sy toenemend vergeetagtig hoewel sy haar passies op die dansvloer toe sy jonk was onthou en hoe sy en die Prins op die maat van diskomusiek gedans het.

Baie jare gelede het die vorige Koning vir Ouma by die paleis uitgesmyt en sy seun (toe die Prins maar nou die huidige Koning) verbied om met haar te trou. En die lafhartige Prins het aan sy pa se wense toegegee.

Hierdie geskiedenis behoort aan die verre verlede en nou hou Rose huis, brei sokkies, bak pasteie en versorg haar enigste kleinseun, Orm, liefderyk.

Gerda

Gerda is die hoofheldin van Die Sneeukoningin. Sy is dapper, goedhartig en eerlik maar het ’n baie sterk wil. Sy het in ’n kinderhuis grootgeword en geleer om haarself te verdedig. Gerda is altyd reg vir ’n avontuur en sy sien “die goeie” in selfs die aakligste mense.

Haar ontvanklike, warm hart sê vir haar dat Orm in die moeilikheid is. En daarom besluit Gerda en haar vriende om haar ou maat te gaan besoek.

Die Koning

Die Koning se pa was ’n ongenaakbare en dominerende heerser. Die koning, aan die ander kant, is vatbaar vir indrukke en ietwat van ’n lafaard. Hy omring hom met helde en heldhaftigheid – iets wat nie binne sy eie vermoëns is nie. Toe hy destyds nog ’n prins was, was hy verlief op Ouma Rose, maar sy pa was gekant teen die verhouding en nou op sy oudag is die Koning alleen. Hy is baie lief vir sy niggie, Prinses Maribel, en kan nie wag vir die dag dat hy sy kroon aan sy erfgename kan afstaan sodat hy uiteindelik kan doen wat hy wil en nie wat van hom verwag word nie.

Maribel

Die Koning se niggie. Sy is ’n bedorwe brokkie en behandel almal om haar asof hulle haar speelgoed is. Maribel is veeleisend en wispelturig en ’n uitstekende manipuleerder van haar oom, die Koning. Maar alles verander in ’n oogwink toe die Noorde Wind haar wegwaai.

Lokum

Orm se vriend. Hy is ’n polisieman en gewoonlik  aan die lui kant en onverskillig. Maar hy is tog bereid om as die nood druk  ’n ou vriend te hulp te snel. Hy vertrek saam met Orm op ’n gewaagde avontuur.

Luta

Luta is ’n troetelwesel. Sy is Orm se ware vriend en gewete. Sy sal sonder enige huiwering haar lewe vir Orm waag, maar sy is nie blind vir sy leuens en sondes nie en sal hom vinnig daarop wys. Luta wen altyd haar argumente met Orm en is loshande die soepelste karakter.

Kai

Gerda se broer – ’n dromer, kunstenaar en digter. Hy is verlief op Alfida, die seerower, maar weet glad nie hoe om sy gevoelens te wys nie. Hy is bereid om vir Gerda en Alfida te help, maar is nie  in staat om self besluite te neem nie.

Alfida

Alfida is ’n seerower in murg en been. Sy is sterk, outoritêr en vasberade – maar sy het ’n sagte hart en is sterk voorstaander van regverdigheid. Alfida weet dat Kai van haar hou en hoewel sy die aandag wat hy op haar uitstort vleiend vind, het sy besluit om nie daarop te reageer nie omdat dit nie betaamlik vir seerowers is om verlief te raak nie!

Die Mynbaas

Die voorman by die myn waar Orm werk. Hy is ’n ware selfgemaakte trol. Frases soos “ek kan nie” of “dit is onmoontlik” irriteer hom: as hy iets kan doen, het niemand anders ’n verskoning nie! Die Mynbaas probeer om sy sekretaresse die hof te maak maar hy is nie baie ervare in sulke sake nie en elke poging wat hy aanwend word op die een of ander manier deur Orm in die wiele gery.

Die Sekretaresse

Die tipiese sekretaresse, ’n modebehepte vrou wat graag skinder. En mense wat nie vir haar belangrik is nie, sien sy glad nie raak nie.

Rahat

’n Sterk dog skadelose en eenvoudige myner. Hy hou van sy werk en wil niks anders doen of wees nie. Hy het nie baie vriende nie maar koester die vriende wat hy het en sal enigiets vir hulle doen.

Eric

’n Bankier wat geld bo enigiets anders in sy lewe stel. Hy sal selfs die mense naaste aan hom sonder om ’n oog te knip bedrieg, terwyl vreemdelinge sonder geld hom glad nie interesseer nie. Hy is slu.

Die Sneeukoningin 2 tref die silwerdoek op 25 November.