fliekNET: Hier is waarna kykers kan uitsien

Die jaar lê al op sy rug en soos Kersfees vir ons wink is dit vir kykNET lekker om aan te kondig dat die gewilde fliekNET-kanaal weer vanaf 1 Desember 2016 tot 31 Januarie 2017 op DStv Premium en Extra beskikbaar gaan wees. Dié tydelike fliekkanaal sal weer oudergewoonte beskikbaar wees op DStv-kanaal 198.

Karen Meiring, direkteur kykNET-kanale, verduidelik: “kykNET is deesdae sinoniem met Afrikaanse flieks en dit is ’n voorreg om die gehalte flieks van die afgelope paar jaar met ons kykers te kan deel.”

Kykers kan uitsien na die romantiese komedie Mooirivier wat vyf paartjies volg op hul reis na liefde. Daar is ook die Jeanne Goosen-komedie ’n Paw-Paw vir my Darling, wat spog met ’n uitsonderlike rolverdeling.

Dan sorg Albert Maritz vir ’n hartroerende vertolking in die drama ’n Man soos my pa.

Die kleinspan kan uitsien na die avonture van Maya die By, terwyl Edwin van der Walt en Vilje Maritz die tieners se harte ’n bietjie vinnger sal laat klop in die branderplank-fliek, Die Pro.

[fvplayer src=”http://stpaulsguesthouse.com/wp-content/uploads/2016/11/14981480_618162941699716_6920601913532612608_n.mp4″ width=”1280″ height=”720″ splash=”http://afrikaansefilms.com/wp-content/uploads/2016/11/Flieknet.jpg”]

Hier is die program vir die week:

Donderdag 1 Desember

19:00 – Ons Stories: Magic Moves

’n Jong danseressie moet na haar dansjuffrou-ma se pype dans en gaan studeer na skool eerder as om haar dansdrome te volg. ’n Rieldanser leer haar hoe om teen haar ma op te staan.

20:00 – Jimmy in Pienk

Jimmy is ’n stoere mielieboer wat na sy pa se dood uitvind dat die familieplaas bankrot is en twee geldwolwe skuld. Sy vervreemde skatryk oom is bereid om te help, maar met voorwaardes.

Vrydag 2 Desember

18:30 – Wie laaste lag

’n Werknemer wat vir die Ontvanger van Inkomste werk kom op ’n reuse-slenter met staatsgeld af waarby sy baas betrek word. As hy stief behandel word lek hy die inligting aan die pers…

20:00 – Mooiste Oktober

’n Verhaal oor ’n jong dokter, sy vriendin (’n onderwyseres wie se jonger broer ’n jeugmisdadiger is) en die venynige vooroordeel van die inwoners van die dorpie waarin die verhaal afspeel.

21:30 – Nantes

Danielle moet sak en pak terugtrek na haar pa, ’n bestuurder op ’n wynplaas, na haar verlowing verbreek is. Sy voel of sy nooit die hartseer sal kan afskud nie, tot daar iets gebeur…

Saterdag 3 Desember

18:00 – Wat maak Oom Kalie daar?

Gooi ’n opgesmukte burgermeester, ’n klomp blommekinders en ’n deurmekaar speurder saam op ’n plaas en jy kry ’n dolle komedie waarin misverstande seëvier. En dan is daar oom Kallie…

19:30 – Koebaaiklub

Anje word in beheer gelaat van ’n sukkelende begrafnisonderneming. Iemand bied vir haar en haar kollega geld aan om by ’n begrafnis te treur, waar hulle hulself oortref as roubeklaers…

20:00 – Hoofmeisie

’n Familie-komedie oor vier laerskool meisies, wat onder die invloed van hul kompeterende ma’s dieselfde droom deel – om hoofmeisie van Laerskool Stumbo Pops te word.


Sondag 4 Desember

18:30 – Eendag op ’n Reëndag

’n Menslike drama gebaseer op die gewilde radio-vervolgverhaal Die Rossouws van La Rochelle.

20:00 – Suurlemoen

Twee sestienjariges beland in moeilikheid: R30 000 se moeilikheid. Met hul oog op die prysgeld van ’n kompetisie, stig hulle hul eie rock band.

22:00 – Nommer Asseblief

Al die ou gesigte van die populêre TV-reeks is weer eens te sien in hierdie laglekker-komedie. Wanneer die ou spulletjie nog boonop betrokke raak by ’n dobbelpaleis, waai die hare.

Skakel in op DStv-kanaal 198 vanaf 1 Desember tot 31 Januarie vir die mooiste stories in Afrikaans. Die volledige skedule sal vanaf 1 Desember hier beskikbaar wees.