Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

‘Liewe Lisa’ moet kykers hul passie laat vind

FOTO: Verskaf

Hendrik Cronje, wat bekendheid verwerf het as Lukas in die SABC 2 sepie 7de Laan, is nou op die silwerdoek te sien as Daniel in Liewe Lisa. Hy het ook die skryf en regie van dié fliek behartig en ons het gaan aanklop om meer uit te vind:

LEES OOK: ‘Liewe Lisa’ tref die silwerdoek

Vertel ons meer van jou karakter, Daniel.
Daniel se lewe was baie voorspelbaar en hy het al die boksies ‘getick’ om ’n veilige gerieflike bestaan te volg. Hy het egter gevoel dat daar meer aan die lewe moet wees. Daniel het nog altyd onder druk van die samelewing geswig. Ons ontmoet hom waar hy oorweeg om die reëls vir ’n slag te breek.

Jy het vir Liewe Lisa drie rolle vertolk, naamlik regisseur, skrywer en akteur. Hoe het jy die balans tussen die drie handhaaf?
Tussen skryf en regie is dit maklik. Die draaiboek op ‘papier’ vergaan vir my as ons die tonele begin verfilm. Die draaiboek het ons gehelp om alles in plek te kry en te weet wat om te sê, maar die toneel neem baie keer ’n lewe van sy eie aan. My kop op stel is heeltyd regisseur tot op 99.9% voor ons aksie skreeu. Ek maak ’n harde kopskuif, speel die toneel as ’n akteur en sodra ons sny is ek weer regisseur. Ek kritiseer myself eers oor my toneelspel in die redigering proses.

Kan jy ons meer van die fliek vertel?
Liewe Lisa is ’n storie oor ’n jong man wat sy passie vind. Hy begaan foute en vind weer sy pad. Die fliek se boodskap is: Jy is vry om keuses te maak. Jy is net nie vry van die gevolge van jou keuses nie.

Is daar enige ooreenkomste tussen Daniel en Hendrik?
Ja! Daniel bevraagteken die ‘rat race’. Hy wonder oor hoe ons bestaan geaffekteer word deur elke liewe ding wat jy doen. Ek is dieselfde, ek is geneig om te oordink, maar dis iets wat ek probeer verminder.

As jy Liewe Lisa in drie woorde kom opsom, wat sou dit wees?
Vind jou passie.

Waarom moet mense die fliek gaan kyk?
Hopelik word mense herinner aan hul passies. Dat elke besluit jou lewe in ’n rigting kan stuur. En die besluit om Liewe Lisa te gaan kyk, kan jou lewe moontlik positief affekteer!

Hoe het Kompanjie Stories ontstaan?
Ek wou nog altyd stories vertel. Ek het draaiboeke geskryf en gedroom oor die dag wanneer ek die stories kan lewe gee. Ek het vele doodloop strate geneem en een dag het my broer, Johan besluit om aanboord te kom na hy Liewe Lisa gelees het. Hy is baie meer besigheids georiënteerd en so het Kompanjie Stories, ’n volwaardige produksie maatskappy geword.

Het jy enige raad aan diegene, wat nes julle, die onafhanklike roete wil vat?
Daar is soveel aspekte wat jy nie kan beheer of voorsien nie. As jy op die punt kan kom om aksie te skreeu, moet niks in jou pad staan om ’n toneel in die sak te kry nie. Daar gaan altyd iets wees. Of die weer, of ’n geraas, maar vind ’n manier om jou tonele in die sak te kry. Daar is gewoonlik ’n manier.

Watter ander projekte lê vir jou voor?
Ons is besig met die na-produksie van Relatief Jonk met Amalia Uys, Viljé Maritz en ook myself in die rolverdeling. Ek skryf ook aan nog ’n draaiboek genaamd Kroon Juwele wat ons later die jaar gaan begin vervaardig.

Liewe Lisa is nóú in rolprentteaters landwyd te sien. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram met die hutsmerk #LieweLisaFilm.