Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

‘Liewe Lisa’ tref die silwerdoek

FOTO: Verskaf

Liewe Lisa, die debuutfilm van Kompanjie Stories, met Hendrik Cronjé en Elani Dekker in die hoofrolle, kan nou landwyd in teaters gesien word.

Daniel (Hendrik Cronjé) is deurmekaar en bekommerd oor sy toekoms. Hy gradueer binnekort en gaan sy loopbaan eersdaags begin, maar smag in die geheim daarna om iets anders met sy lewe te doen. In sy strewe na opwinding, en onsekerheid oor die toekoms, raak Daniel die pad byster weens roekelose gedrag.

Wanneer hy weer tot verhaal kom, ontmoet hy vir Lisa (Elani Dekker), die dogter van ’n invloedryke besigheidsman. Teen sy beterwete, raak Daniel verlief op Lisa.

Die foute van sy verlede haal hom egter in en Daniel groet die koers wat die lewe vir hom bepaal het en hy ontmoet vir Tom (Zane Meas) – ’n eenvoudige visserman. Daniel verwyl sy dae deur vis te vang en om met Tom te gesels oor die lewe en die liefde. Tom onthul ’n ander kant van homself aan Daniel en help die jonger man om sy ware potensiaal te bereik.

LEES OOK: Liewe Lisa: ‘Die perfekte Valentynsdag date’

Liewe Lisa is nie net die filmmakers se eerste produksie nie, maar het ook as inspirasie gedien vir die begin van ’n nuwe produksiemaatskappy, naamlik Kompanjie Stories, met die uitsluitlike missie om ware en oorspronklike storie-gebaseerde films aan die Afrikaanse mark te bring.

Die draaiboek is deur Hendrik Cronjé geskryf en is geïnspireer deur die film, The Graduate (1967). Vanweë Hendrik se groot behoefte om sy eie films te maak, het hy kragte saamgesnoer met sy broer, Johan T. Cronjé, en het hulle Liewe Lisa self vervaardig.

Liewe Lisa se regie is ook deur Hendrik Cronjé behartig, en hy vertolk die hoofrol van Daniel in die film. As skrywer was die rol van Daniel in sy brein gegiet, wat aan die produksie die ekstra voordele van die karakter gebied het.

Die regie van die film was nooit onderhandelbaar vir Hendrik nie, aangesien hy homself eerstens as ’n regisseur beskou, tweedens as ’n skrywer en derdens as ’n akteur. Om daardie redes het die broers besluit dat Hendrik die regisseur sou wees, asook die hoofrol sou vertolk.

Liewe Lisa se rolverdeling sluit ook in Zane Meas, Albert Maritz, Barbara-Marie Immelman, Stian Bam, Marco Spaumer, Crystal-Donna Roberts en meer. Die film word landwyd op 14 Februarie 2019 deur Filmfinity (Pty) Ltd uitgereik.