Ons top 5 flieks van 2016

In 2016 het ons gelag, gehuil, lief en verlief geraak. Ons resensent, Leoné Prinsloo, het haar top 5 flieks van 2016 uitgesonder. Intussen kan fliekvlooie ook hul vere reg skud vir drie splinternuwe flieks wat in 2017 die silwerdoek tref! 

5. Verskietende Ster

Phillip Schuman se wêreld voel of dit in duie stort die dag toe sy ma sterf. Dit is nou net hy en sy pa Tomas, die pa wat lankal reeds moed opgegee het op die lewe. Phillip kon maar net sowel saam met Maria gesterf het want na haar dood word Phillip verhoed om enigsins sy talent en passie vir musiek verder uit te leef. Die hoop om klavier by die skool te speel is tevergeefs waar die skool boelie met ‘n ysterhand regeer en die tingerige Phillip boonop vervreem word van die speelgronde. Spoedig vind Phillip kreatiewe maniere om sy talent as pianis uit te leef op die mees ongelooflikste manier, maar selfs dit lei tot ramspoedige gevolge.

4. Sink

Rachel, ’n Mosambiekse huis-hulp wat in Johannesburg werk, kom by ’n moeilike kruispad wanneer haar dogtertjie tragies sterf onder die toesig van haar werkgewer: Gaan sy terug na haar land van armoede of bly sy werk vir die mense wat verantwoordelik is vir die dood van haar kind, sodat sy haar visum kan behou en sodoende die res van haar familie in Inhassoro kan onderhou. Die omstandighede raak nog meer gekompliseerd wanneer sy uitvind dat haar werkgewers hulle eerste kind verwag.

3. Vir Altyd

Tydens beste vriende Nina en Hugo se grootwordjare was daar nooit ’n tekort aan avonture nie, maar nou is daar net pynlike herinneringe van die verlede oor. Op die ouderdom van 28 keer Hugo (Ivan Botha), ’n suksesvolle reisfotograaf, vir die eerste keer ná tien jaar terug na sy ouerhuis in die Paarl – onbewus daarvan dat dit die vooraand is van Nina (Donnalee Roberts), ’n aspirant-sprokiesboekskrywer en eienaar van ’n karaktervolle boekwinkel, se sprokiestroudag.

2. Modder en Bloed

Dit is die jaar 1901 en vertel die verhaal van Willem Morkel – ’n Boer en familie-man wie se vrou en enigste kind gedurende die Anglo-Boere oorlog deur Britse soldate vermoor word. Willem word aangehou as krygsgevangene in die St. Helena konsentrasie kamp onder die tiranie van Kol. Swannell, ’n imperialis met ’n onblusbare haat teenoor die Afrikaner nasie. Met die hulp van sy mede gevangenes, aanvaar Willem ’n aanbod wat lei tot die belangrikste wedstryd van hulle lewens.

1. Vir die Voëls

simone-nortmann-wdress

Vir die Voëls is geïnspireer deur die ware verhaal van Huisgenoot-leser Irma Humpel as jong bride-to-be in die laat sewentigs. Hubare mans was op die grens vir diensplig en vroueregte ’n stadig ontwikkelende konsep in Suid-Afrika, maar vriendskap en gesin was ’n tafel vol lekker braaivleis, verhoudings was definitief nie ’n Facebook-status nie en die lewe en liefde het net ’n klein bietjie meer opreg gevoel as ons moderne kits-bestaan.

Laat weet ons wat jóú gunsteling fliek was in 2016 op ons sosiale media.