Rolanda Marais: ‘Die boek is die buitelyne, ons kleur die storie in’

FOTO: Verskaf

Rolanda Marais vertolk die rol van Henriette de Waal, die speurder Dick de Waal se vrou, in Griekwastad. Ons het gaan aanklop by dié aktrise. 

LEES OOK: Tim Theron oor rol in ‘Griekwastad’

Vertel ons meer van jou karakter in Griekwastad. 
Henriette de Waal is getroud Dick de Waal (Arnold Vosloo). Sy is saam met hom in die polisiemag en ook ’n hoër rang as haar man. Hulle het ’n ontspanne, gelukkige huwelik en is ondersteunend teenoor mekaar juis omdat hulle die uitdagings van hul werk verstaan. 

Het jy die boek gelees?  
Ek is versigtig om die boek te lees voor ek nie klaar verfilm het nie. ’n Draaiboek verskil baie van die boek. Film is ’n kreatiewe interpretasie deur die draaiboekskrywer, regisseur, redigeerder, akteurs en almal betrokke. Dis gebasseer op aantekeninge in die boek. Ek verkies om eers die draaiboek te bestudeer. Om ’n volronde unieke karakter te skep sonder vooropgestelde idees en sonder om my vas te kyk in feite. Die proses van film maak is soos inkleur. Die boek waarop dit gebasseer is is die buitelyne. Hoe jy dit inkleur is die kreatiewe span se verantwoordelikheid en voorreg. Die detail hoef dus nie geskoei te wees op waarhede nie. As dit kom by die detail het die kreatiewe span die vryheid om te kies watter ‘kleure’ hul die storie mee gaan ‘inkleur’.

Hoe het jy voorberei vir dié rol? 
Jozua het haar (die regte Henriette de Waal) ontmoet en kon vir my nogal heelwat vertel van die tipe mens wat sy is. Ek het geneem wat hy my vertel het asook wat die teks weggee van haar en toe my eie Henriette geskep.

Hoe verskil jou karakter van jou as mens?
Henriette is braaf en bang vir niks. Rolanda is nogal ’n bangbroek en soms oorversigtig met dinge. 

Waarom dink jy moet mense die film huur? 
Dit is ’n baie sensitiewe onderwerp juis omdat dit gebasseer is op ware gebeurtenisse en omdat Don nog lewe en almal die storie ken. Wat dit die moeite werd maak om te kyk, is om te sien hoe ’n baie bekwaamde span ’n hartseer en boeiende storie inkleur en dit omskep in ’n bitter goeie film.

Griekwastad is nou te sien op DStv Boxoffice en kan gehuur word vir net R35.