Sean-Marco Vorster: ‘Dis ’n storie oor tuimeldroeër liefde’

FOTO: Fathom Media

Huisgenoot en kykNET Films se tweede rolprent, Vergeet my nie, draai tans in filmteaters landwyd. Ons het met Sean-Marco Vorster, wat die rol van Hugo Derks vertolk gaan gesels.

LEES OOK: André Velts die man agter Huisgenoot en kykNET se tweede fliek

Vertel ons meer van jou karakter.

My karakter se naam is Hugo Derks. Hy’s ’n plaasjapie van Namibië af wat gereeld sonder ’n hemp en skoene rondloop. Hy is plat op die aarde met ’n rustigheid wat min mense verstaan voordat hulle sy wêreld in Namibië al gesien het. 

Waarom dink jy sal mense met die karakter kan vereenselwig?

Ek dink mense sal meer met Hugo en Mardeleen se storie vereenselwig eerder as net Hugo want saam maak hulle tog die span waaroor die liefdesverhaal gaan. Hulle beeld ’n storie uit van tuimeldroeër liefde. Liefde wat nie maklik kom nie en liefde wat beslis nie sonder harde werk kan behou word nie. Almal wat al hard moes beklei het vir liefde sal met die storie kan vereenselwig. 

Hoe was dit om met régte mense se storie te werk?

Nogals intimiderend aan die begin beslis. Dit was ’n proses om na aan die karakter te bly en in dieselfde asem ook die karakter my eie te maak vir die gehoor. Dit het gehelp om ’n duidelike paadjie te hê in verband met die groter prentjie van die karakter. Niks was onduidelik nie en so het dit het ook spasie geskep om op ’n kreatiewe manier gemaklik rond te speel. 

Hoe was dit om teenoor Margurite te speel?

Dit was ’n absolute fees. Ek ken haar nefies baie goed, al van skool af. Dit het nie baie lank gevat vir ons om mekaar goed te verstaan nie. Ek dink sy is ’n briljante aktrise wat nog groot goed in die industrie gaan bereik. 

Beskryf Vergeet my nie in vyf woorde.

Dit is ’n regte storie. 

Vergeet my nie is nou landwyd in rolprentteaters te sien.