Ses flieks in die eerste helfte van 2020 op die silwerdoek

FOTO: Adobe Spark

In 2020 is die sê ding ‘local is lekker’ beslis vanpas! Altesaam ses rolprente gaan in die eerste helfte van die jaar die silwerdoek tref. Hier is waarna jy kan uitsien:

POPPIE NONGENA (31 JANUARIE 2020)

Poppie Nongena vertel die aangrypende verhaal van ’n Afrikaanssprekende Xhosa-vrou wie se lewe om haar gesin draai terwyl sy probeer om stabiliteit te vind in ’n era van ondraaglike onrus in Suid-Afrika. Dit speel af in ’n tyd waarin swart vroue deur boetes, arrestasies en gedwonge verskuiwings gedwing is om hul tuistes te verlaat om in afgeleë gebiede, die sogenaamde swart tuislande, ’n nuwe lewe te gaan begin. Wanneer Stone, Poppie se man, te siek word om te werk, beskou die owerhede haar skielik as ’n onwettige burger in haar eie land. Sy voer ’n desperate stryd om wettiglik aan te bly en werp alles in die stryd om nie van haar kinders geskei te word nie.

VERGEET MY NIE (14 FEBRUARIE 2020)

Mardaleen, ’n gekultiveerde student, vasgekeer in die klein dorpie Potchefstroom, smag na die liggies en kultuur van Londen. Na die aaklige verbrokkeling van haar verhouding, pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar beste vriendin, Lara. Hulle bly in Huis Konettie, saam met vyf ander Suid-Afrikaners wat in Londen werk. ’n Onverwagse romanse ontstaan tussen Mardaleen en haar Namibies-gebore huismaat, Hugo. Dit voel te goed om waar te wees en die oomblik wanneer dinge te ernstig raak en nie heeltemal verloop soos sy beplan nie, laat sy haar onsekerhede en vrese oorspoel in haar verhouding in. Sy hardloop weg en gaan huis toe. Hulle romanse vlam weer op wanneer hulle twee jaar later ontmoet, gevolg deur ’n uitnodiging van Hugo aan Mardaleen om vir hom in Namibië te gaan kuier. Haar naweek in Namibië ontaard in ’n nagmerrie. Afgesien hiervan, vra Hugo haar om te bly en om ’n nuwe lewe saam te bou, maar sy het ander planne en is hardkoppig. Mardaleen wil kultuur, die stad en liggies hê – die plaas is nie ’n plek vir ’n meisie soos sy nie.

MOFFIE (13 MAART 2020)

Moffie vertel die storie van ’n jong dienspligtige wat die alledaagse wreedheid van die weermag in die 1980’s tydens apartheid in Suid-Afrika probeer oorleef. Dié rolprent is gegrond op die gelyknamige memoir deur André-Carl van der Merwe.

GRIEKWASTAD (27 MAART 2020)

Die media skree “Plaasmoord!” in sensasionele voorbladopskrifte. Die mooie Marthella (net 14), boer Deon en sy vrou, Christel, is al drie koelbloedig geskiet. Net hul 15-jarige seun, Don, het ontsnap. Onder die geweldige druk van ’n hele land se afgryse en verwagtinge moet speurder-kolonel Dick de Waal die waarheid op Griekwastad gaan soek. En dalk sy laaste hoop op onskuld in die proses prysgee.

FLATLAND (10 APRIL 2020)

Wanneer haar rampspoedige huweliksnag lei tot ’n onbeplande moord, vlug Natalie van haar man en ’n klein, afgeleë dorpie in die Karoo. Saam met haar opstandige, hoog swanger beste vriendin, Poppie, jaag hulle te perd die eindelose, koue landskap in. Kort op hulle hakke is Kaptein Beauty Cuba, ’n eensame polisievrou wat moet bewys dat haar lank verlore verloofde nie skuldig is aan Natalie se misdade nie. Die stryd tussen dié drie desperate vroue sorg vir ’n naelbytriller in die onherbergsame Groot Karoo.

TOORBOS (1 MEI 2020)

Toorbos vertel die verhaal van ’n jong “bosvrou” se ontworteling in die tyd van die laaste bosbewoners van die Suid Afrikaanse Knysna-woude in die 1930’s. Karoliena Kapp se intieme verbintenis met die boomhart van die bos word ’n hindernis in haar verhouding met die man wat sy liefkry. Wanneer Karoliena met Johannes Stander trou, ervaar sy die onderdrukking van ’n selfsugtige, geldgierige samelewing. Haar lewe word ’n stryd om aan haarself getrou te bly.

Gesels gerus saam oor die jongste Afrikaanse rolprente op Facebook, Twitter of Instagram