Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

‘Skemerson’ werp lig op depressie

FOTO: Verskaf

Depressie is ’n siekte soos enige ander siekte; ’n mens hoef nie skaam te wees om hulp daarvoor te soek nie. Dít is die boodskap van ’n nuwe rolprent wat geestesiektes met empatie, respek en integriteit behandel.

In Suid-Afrika sal een uit elke drie mense in die een of ander stadium aan ’n geestesiekte ly en is daar daagliks 23 suksesvolle selfmoorde en ’n verdere 460 selfmoordpogings ‒ elke 24 uur.

Geestesiektes en die stigma wat daaraan kleef, is ’n belangrike kwessie wat aandag behoort te geniet. Dit is dan ook die sentrale tema van Skemerson (Sun Cry Moon), die nuwe rolprent met Philip Rademeyer as die regisseur en met Pietie Beyers wat die draaiboek geskryf het. Dit sal vanaf Vrydag 3 Mei 2019 landwyd in teaters te siene wees.

Dié film vertel die verhaal van ’n jong man, Sella (Beyers), wat besluit om sy eie lewe te neem. Toe hy egter op die 216 meter hoë Bloukrans-boogbrug naby Nature’s Valley staan om ’n einde aan alles te maak, hoor hy ’n jong vrou lag. Wanneer Emma (Anneke Weidemann), haar brose ma (bekroonde aktrise Elize Cawood) en Sella mekaar toevallig op die brug ontmoet, is dit die begin van ’n naweek wat al drie se lewens vir altyd verander.

Die rolprent is met die finansiële bystand van die farmaseutiese maatskappy, Cipla Suid-Afrika, gemaak wat ’n reeks medisyne vervaardig vir die behandeling van depressiewe versteurings.

Wouter Lombard, Cipla se Mededirekteur van Bemarking in die Sentralesenuweestelsel-portefeulje, sê dat baie mense nie hulp soek of behandeling ontvang nie omdat hulle bang is dat hulle gestereotipeer sal word.

“Ons het ’n veldtog van stapel gestuur om geestesgesondheid te destigmatiseer. Die brein is ’n orgaan en soos enige ander orgaan in die liggaam kan jou brein ook ‘siek’ word. Ons wil ’n bewustheid skep dat hulp beskikbaar is, maar selfs belangriker, dat daar hoop is. Depressie is ’n mediese toestand wat gediagnoseer en behandel kan word. Depressie gaan nie sommer vanself weg nie en dit is nie ’n skande om hulp daarvoor te soek nie.”

Skemerson help om die boodskap uit te dra dat depressie doeltreffend behandel kan word en dat hulp altyd byderhand is. “Ons wou graag die rolprent help befonds as deel van ons oogmerk om te baklei teen die stigmas wat met geestesgesondheidstoestande verband hou,” het Lombard bygevoeg.

“Toe Niel van Deventer en Pietie Beyers ons genader het, het ons dadelik besef dat ons dieselfde doelwitte nastreef ‒ om die boodskap uit te dra dat dit oukei is om nie oukei te wees nie en dat dit oukei is om oor geestesgesondheid te praat ‒ ’n onderwerp wat dringend aandag moet geniet.”

Skemerson is vir Beyers ’n persoonlike storie omdat dit deur ware gebeurtenisse geïnspireer is. “Dit is nie 100% my persoonlike storie nie, maar my ervaring met obsessief-kompulsiewe steuring (OCD) was die motivering vir die draaiboek én die rede waarom die prent gemaak is. Om uitdrukking aan my emosies op ’n gesonde en produktiewe manier te gee, was vir my ’n helende ervaring en ek hoop dat die storie ook ander mense sal help. ’n Sleuteltema van die rolprent is dat kwessies rondom geestesgesondheid normaal, algemeen en niks is om oor skaam te wees nie,” het hy gesê.

Die kanse dat mans aan die hand van selfmoord sal sterf, is vier keer groter as by vroue, wat beteken dat baie van hulle aan ongediagnoseerde geestesiektes ly. Gevalle van ongediagnoseerde depressie is ook aansienlik hoër by mans as vroue en navorsing dui daarop dat die kanse baie skraler is dat mans hulp vir geestesgesondheidsprobleme sal soek.

Rademeyer het genoem dat hy by tye self met sy geestesgesondheid gesukkel het en weet watter gevoelens van skaamte en isolasie dit kan veroorsaak. “Dit was belangrik om hierdie storie te vertel,” het hy gesê.

“Met Skemerson wil ons graag die boodskap aan gehore uitdra dat geestesgesondheidsprobleme algemeen is en niks is om oor skaam te wees nie.”

Van die tekens en simptome van depressie sluit in: konsentrasieprobleme, sukkel om besonderhede te onthou en om besluite te neem, moegheid, skuldgevoelens, gevoelens van hopeloosheid, slaaploosheid, geïrriteerdheid, rusteloosheid, belangeloosheid in dinge wat voorheen genotvol was, om jouself te ooreet of ’n verlies aan aptyt, volgehoue gevoelens van hartseer en selfmoordgedagtes.

Niel van Deventer (Dis Ek, Anna) en Pietie Beyers is die vervaardigers van Skemerson. Pietie Beyers (Binneland, Sy Klink Soos Lente), Elize Cawood (Vir Altyd, Die Wonderwerker) en Anneke Weideman (Die Wonderwerker, Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom) speel die hoofrolle in die rolprent terwyl  Philip Rademeyer (Wild, Klippe wat Val) die regie behartig.   

Cipla het ’n gratis beradingshulplyn in samewerking met die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsondersteuningsgroep (SADAG) van stapel gestuur om geestesiektes in Suid-Afrika te destigmatiseer.

As jy ’n vriend wil help of self hulp nodig het, kontak die SADAG Cipla-geestesgesondheidshulplyn by 0800 456 789, of WhatsApp 076 88 22 77 5, of besoek www.sadag.org vir meer inligting of hulp.

Skemerson word deur Indigenous Film Distribution in Suid-Afrika uitgereik.