Tim Theron gesels oor rol in ‘Griekwastad’

Tim ontspan op stel. FOTO: Anne Marais

Tim Theron vertolk die rol van Jacques Steenkamp op wie se boek die rolprent Griekwastad geskoei is. Dié rolprent draai tans op DStv Boxoffice. Ons het verder met Tim gaan gesels…

Vertel ons meer van jou rol in Griekwastad.

Ek vertolk die rol van Jacques Steenkamp, die joernalis wat in diepte die saak gevolg het, en dan ook die boek, Die Griekwastad Moorde, oor die saak geskryf het. Alhoewel die karakter op lewende persoon geskoei is, het ons besluit om nie te probeer om die regte Jacques na te boots nie, maar eerder ’n karakter te skep wat ’n spesifiek rol vervul. Ons karakter is net soos die speurder, Dick De Waal, op soek na die waarheid. Hy het egter ’n totaal verskillende invalshoek as Dick, en glo die waarheid moet oopgekrap en ontbloot word, maak nie saak hoe erg of wreed dit dalk mag wees nie. In die film is Jacques dus ook baie sinies en “jaded”, terwyl Dick steeds glo in die goedheid van mense, en homself sien as ’n buffer tussen die samelewing en die gruwel en hartseer wat hy daaglik teë kom.

Waarom dink jy is dit belangrik dat só ’n storie vertel moet word?

Ons het probeer om so ver weg te bly van enige sensasie rondom die moorde en die familie self. Vir ons was die aangrypende verhaal juis die storie van die speurder – ’n gewone mens soos ek en jy, wat telkens gevra word om in hierdie ongewone en ontstellende situasies in te gaan en die waarheid te soek. Terwyl ons almal op die kantlyn kan staan en spekuleer en wonder, moet hy spreekwoordelik sy hande vuil maak en die feite gaan oop krap. Dit is die storie wat Griekwastad vertel.

Hoe het jy voorberei om in jou karakter se skoene te klim?

Ek en Jozua Malherbe het baie oor die karakter gepraat, en ook wat die rol en taak was van die karakter in die film. Ek het na ’n paar vertolkings van soortgelyke rolle gekyk deur akteurs wat ek baie respekteer, en dan het ek natuurlik ook die boek etlike kere gelees om seker te maak ek het die feite onder die knie. Ons was ook gelukkig om vir ’n week of twee voor produksie begin het, saam te kon repeteer en so ook te skaaf aan ons karakters.

Wat sal kykers in die film sien wat hul nie noodwending in die boek sal raak lees nie?

Definitief die menslike aspek van ’n verhaal soos hierdie, en soos genoem, spesifiek gefokus op Dick De Waal en hoe hy moes sin maak van hierdie tragedie.

Waarom moet mense op 5 Mei die film huur?

Die resensie sover doen darem vir ons die praatwerk as dit kom by “hoekom”. Ons is ontsaglik trots op die film, op die kwaliteit van die werk van almal betrokke, en ons dink dit gaan kykers op ’n in diepte, en emosionele reis vat deur Dick De Wall se oë wat hulle nie sommer gou van sal vergeet nie.

As jy Griekwastad in vyf woorde kon opsom, wat sal dit wees?

Treffende, boeiende, onstellende, aangrypende vermaak. 

Griekwastad is nou op DStv Boxoffice te sien.