Toyota US Woordfees 2020: Dié films wys vanjaar

FOTO: Pexels

Die filmfees tydens die jaarlikse Toyota US Woordfees is ’n hoogtepunte op dié feeskalender. Kaartjies vir die rolprente kos R50 en R60 by die deur. 

Hier’s is die feesprogram:

Die verhaal van Racheltjie de Beer 

7 Maart om 20:30 en 13 Maart 2020 om 17:00

Tydens die De Beer-gesin – Herman, Racheltjie en klein Jamie – se trek na die goudvelde, raak hul ossewa onklaar en vind hulle noodgedwonge verblyf op ’n afgeleë plaas in die bergagtige Oos-Vrystaat.

Op die aand van Goeie Vrydag sluip Racheltjie en Jamie uit die huis om hul ma se lewe en dood te herdenk. Herman is gekant daarteen en betrap hulle. In ’n woede-uitbarsting besluit hy om summier die pad te vat. Die stormwolke en verwoede wind dwing hom egter om te wag. En dan kom Herman en Racheltjie agter dat Jamie uitgeglip het om sy verlore kalfie te gaan soek.

’n Soekgeselskap word uitgestuur terwyl Racheltjie die huis beman. Toe die eerste sneeuvlokkies val, besef Racheltjie dat Jamie waarskynlik na die mierneste gegaan het waar hulle ’n vorige keer die kalfie gevind het. Sy durf die wind en sneeu aan en kom uiteindelik voor ’n verskriklike keuse te staan.

Vraag-en-antwoord sessie:

Stian Bam, wat die toekenning vir Beste akteur op die kykNET Silwerskermfees 2019 ontvang het vir sy rol in Racheltjie de Beer, en Sandra Prinsloo, wat een van die ander hoofrolle in dié prent vertolk, sal ná die vertoning op 13 Maart meer vertel oor die verfilming van hierdie geliefde ou volkslegende. Hulle sal ook vrae uit die gehoor beantwoord. Dié gesprek vind plaas na die vertoning in die Pulp Cinema Neelsie en is gratis.

Fiela se Kind

8 Maart om 20:00 en 12 Maart om 20:00

Suidelike Afrika, 1865. Wanneer Fiela, ’n hardwerkende bruin vrou ’n driejarige wit seuntjie op haar voorstoep ontdek, het haar besluit om hom in te neem langdurige gevolge vir haar en die kind.

Ná ’n dekade in Fiela se sorg, neem regeringsowerhede Benjamin van haar weg en plaas hom terug in die sorg van die wit familie van houtkappers waarvandaan hulle glo hy kom. Fiela en Benjamin probeer in die volgende dekade desperaat om mekaar op te spoor.

Fiela het ’n seun verloor en verval geleidelik in depressie, ’n gemoedstoestand wat verder vererger word deur die mishandeling wat sy onder die gereg en Benjamin se nuwe pa moet verduur. Benjamin, aan die ander kant, beland in ’n verarmde omgewing waarin hy afgeknou word en gedwing word om ’n nuwe identiteit aan te neem.

Griekwastad

6 Maart om 20:00 en 13 Maart om 13:00

Die media skree “Plaasmoord!” in sensasionele voorbladopskrifte. Die mooie Marthella (net 14), boer Deon en sy vrou, Christel, is al drie koelbloedig geskiet. Net hul 15-jarige seun, Don, het ontsnap.

Onder die geweldige druk van ’n hele land se afgryse en verwagtinge moet speurder-kolonel Dick de Waal die waarheid op Griekwastad gaan soek. En dalk sy laaste hoop op onskuld in die proses prysgee.

Vraag-en-antwoord sessie:

Die regisseur en kinematograaf van Griekwastad, Jozua Malherbe, en die draaiboekskrywer, Tertius Kapp, sal ná die vertoning op 15 Maart meer vertel oor die proses om hierdie ware gruwelverhaal in ’n speelfilm te omskep. Hulle sal ook vrae uit die gehoor beantwoord. Dié gesprek is gratis in die Pulp Cinema Neelsie.

Poppie Nongena

8 Maart om 17:00 en 11 Maart om 20:00

Poppie Nongena vertel die aangrypende verhaal van ’n Afrikaanssprekende Xhosa-vrou wie se lewe om haar gesin draai terwyl sy probeer om stabiliteit te vind in ’n era van ondraaglike onrus in Suid-Afrika.

Dit speel af in ’n tyd waarin swart vroue deur boetes, arrestasies en verskuiwings gedwing is om hul tuistes te verlaat om in afgeleë gebiede, die sogenaamde swart tuislande, ’n nuwe lewe te begin.

Wanneer Stone, Poppie se man, te siek word om te werk, beskou die owerhede haar skielik as ’n onwettige burger in haar eie land. Sy voer ’n desperate stryd om wettiglik aan te bly en nie van haar kinders geskei te word nie.

Vraag-en-antwoord sessie:

Die vervaardiger van Poppie Nongena, Helena Spring, en die aktrise wat die hoofrol speel, Clementine Mosimane, sal ná die vertoning op 8 Maart meer vertel oor die proses om Elsa Joubert se klassieke roman in ’n speelfilm te omskep. Hulle sal ook vrae uit die gehoor beantwoord. Dié gesprek vind plaas in die Pulp Cinema Neelsie en is gratis.

Toorbos

7 Maart om 17:00 en 14 Maart om 15:30

Toorbos vertel die verhaal van ’n jong “bosvrou” se ontworteling in die tyd van die laaste bosbewoners van die Suid-Afrikaanse Knysna-woude in die 1930’s.

Karoliena Kapp se intieme verbintenis met die boomhart van die bos word ’n hindernis in haar verhouding met die man wat sy liefkry. Wanneer Karoliena met Johannes Stander trou, ervaar sy die onderdrukking van ’n selfsugtige, geldgierige samelewing. Haar lewe word ’n stryd om aan haarself getrou te bly.

Vraag-en-antwoord sessie:

Die regisseur en draaiboekskrywer van Toorbos, René van Rooyen, sal ná die vertoning op 7 Maart meer vertel oor die proses om Dalene Matthee se geliefde roman in ’n speelfilm te omskep. Sy sal ook vrae uit die gehoor beantwoord. Die gesprek is gratis en vind plaas in die Pulp Cinema Neelsie.