‘Vergeet my nie’ vandag landwyd in filmteaters

FOTO: Fathom Media

Vergeet my nie, die nuutste film van The Film Factory, in samewerking met Huisgenoot en kykNET Films, kan van vandag af landwyd in rolprentteaters gesien word – betyds vir jou Valentynsdagafspraak!

BESPREEK HIER BY STER-KINEKOR

BESPREEK HIER BY NUMETRO

Die film, gegrond op die ware liefdesverhaal van Hugo en Mardaleen Derks van Namibië, vertel die storie van Mardaleen (Marguerite van Eeden), ’n gekultiveerde student, vasgekeer in die klein dorpie Potchefstroom, smag na die liggies en kultuur van Londen. Na die aaklige verbrokkeling van haar verhouding, pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar beste vriendin, Lara (Kenley Swart). Hulle bly in Huis Konettie, saam met vyf ander Suid-Afrikaners wat in Londen werk.

’n Onverwagse romanse ontstaan tussen Mardaleen en haar Namibies-gebore huismaat, Hugo (Sean-Marco Vorster). Dit voel te goed om waar te wees en die oomblik wanneer dinge te ernstig raak en nie heeltemal verloop soos sy beplan nie, laat sy haar onsekerhede en vrese oorspoel in haar verhouding in.

Sy hardloop weg en gaan huis toe.

Hulle romanse vlam weer op wanneer hulle twee jaar later ontmoet, gevolg deur ’n uitnodiging van Hugo aan Mardaleen om vir hom in Namibië te gaan kuier. Haar naweek in Namibië ontaard in ’n nagmerrie. Afgesien hiervan, vra Hugo haar om te bly en om ’n nuwe lewe saam te bou, maar sy het ander planne en is hardkoppig. Mardaleen wil kultuur, die stad en liggies hê – die plaas is nie ’n plek vir ’n meisie soos sy nie.

Met regie deur André Velts en Marius De Nysschen as kinematograaf, sluit die rolverdeling onder andere in Marguerite Van Eeden, Sean-Marco Vorster, Kenley Swart, Amalia Uys, Pietie Beyers, Elani Dekker, Rick Strauss, Leché Joubert, Fiona Ramsey, Arno Greeff en vele meer. Vergeet my nie word uitgereik deur Filmfinity (Edms) Bpk.

“Dit is ’n groot eer maar ook ’n groot verantwoordelikheid om ’n werklike paartje se liefdesverhaal te vertel. Ek dink wel André Velts as regisseur en Tarryn-Tanille Prinsloo as skrywer het ’n fantastiese werk gedoen. ‘Vergeet My Nie’ is ’n wonderlike rolprent om te ervaar.” – Danie Bester, Vervaardiger.

“Hugo en Mardaleen Derks se liefdesverhaal  ‘Vergeet My Nie’ sal jou laat glo in toeval, liefde en vriendskap. Dit was my voorreg om hulle storie vir ewig vas te vang.” – André Velts, Regisseur.