Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Aantrekkingskrag: Die wetenskap versus die kunste

Tydsduur: 72 minute
Ouderdomsbeperking:13L
Genre: Drama
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Deon Opperman
Kinematografie: Marius de Nysschen
Redigering: Regardt Botha
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Johan Scholtz, Franci Swanepoel, Gustav Gerdener, Juanita de Villiërs, Natassja Pretorius

Aantrekkingskrag vertel die verhaal van hoe Professor Zak de Villiërs, ’n wetenskaplike en sterrekundige asook ’n taalkenner en -puris, saam met sy vrou, Leonor tuiskom nadat hulle ’n studente-opvoering van Hamlet waarin hul seun speel, bygewoon het. Zak het die Hoof van die Drama Departement, regisseur van Hamlet en studentevriend, Martin vir ’n drankie oorgenooi terwyl Leonor onbewus daarvan ook haar sepiester suster en Martin se gewese vrou, Sandy oorgenooi het. Hierdie menslike drama waarin die verband tussen die kosmiese heelal en die uitvoerende kunste oftewel tussen denke en emosies op deurlopende wyse ondersoek word, beloof om heelwat stof tot nadenke aan die kykers te bied.

Die veelbekroonde dramaturg, Deon Opperman wat ook vir dramareekse soos Bloedbroers en Fluiters verantwoordelik was, het sy gelyknamige verhoogstuk, Aantrekkingskrag in ’n weldeurdagte draaiboek vir die kleinskerm verwerk. Sy draaiboek word deur die vernuftige gebruik van Afrikaans gekenmerk waarin veelvuldige verwysings na die onderskeid tussen suiwer taalgebruik en anglisismes asook verskeie speletjies met idiome en dubbelsinnighede betrek word. Hy gebruik ook ’n baie interessante tegniek waarvolgens die karakters se aksies en dialoog voortdurend deur die professor se lesings aan sy studente in die vorm van monoloë onderbreek word omsodoende die kykers direk te kan aanspreek.

Aantrekkingskrag spog met ’n baie indrukwekkende rolverdeling, insluitende Johan Scholtz (Getroud Met Rugby), Gustav Gerdener (French Toast), Juanita de Villiërs-Velts (Droomdag), Natassja Pretorius (Ligte, Kamera, Liefde) en Franci Swanepoel (Abraham). Laasgenoemde slaag beslis daarin om empatie by die kykers te wek met haar briljante vertolking van Leonor wat baie lief is vir haar drankies en ook graag met mans flankeer. André Velts van Raaiselkind faam se ervare regisseurshand isbaie duidelik sigbaar in die geloofwaardige, dog unieke wyse waarop elke karakter se bydrae tot die gesprek onderskeidelik aan die kykers oorgedra word.

Die sleutelkuns-ontwerp in die titelsekwens deur Jacques “Jay” Loots sowel as die animasie van die heelal tydens die professor se lesings aan sy studente deur Quinn Lubbe versterk die geloofwaardigheid van die onderliggende temas wat in hierdie film aangespreek word. Marius de Nysschen se kinematografie wissel voortdurend tussendie gebruik van nabyskote op die professor se gesig tydens sy lesings oor die kosmos en hoog-bo skote op sy gaste tydens hulle gesprek oor verhoudings in die sitkamer. Regardt Botha slaag met behulp van in- en uitdowing as redigeringstegniek deurgaans daarin om ’n duidelike onderskeid tussen die professor se monoloë aan die kykers en sy dialoog met sy mede-akteurs te tref.

Hierdie aktuele drama wat ’n uitstekende balans tussen humor en spanning handhaaf, bring die leefwêreld van die mens deur middel van die wetenskap, die sielkunde en die uitvoerende kunste op ’n geniale wyse byeen. Dit slaag op ’n innoverende wyse daarin om die egtheid van menswees deur middel van konflik, konfrontasies en ontboeseminge tussen vyf karakters aan te spreek. Aantrekkingskrag met sy deurlopende verwysings na verskeie metafore, beelde en terminologie vanuit astronomie en drama as studievelde sal ongetwyfeld aanklank vind by die fynproewer wat daarvan hou om heelwat dieper as die blote oppervlak te delf.