Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Ander Mens: ’n Totale gedaanteverwisseling

Tydsduur: 105 minute
Ouderdomsbeperking: 16 LNV
Genre: Aksie-komedie
Vervaardigers: Herman Binge, Elmarie Botha, Wikus du Toit, Jaco Smit, Roelof Storm
Regisseur: Quentin Krog
Draaiboek: Quentin Krog, Sean Robert Daniels, Frannie van der Walt
Musiek: Melissa van der Spuy, Häzer van der Spuy</span
Kinematografie: Jacques Koudstaal
Redigering: Eva du Preez
Produksie-ontwerp: Bathoni Robinson
Kostuumontwerp: Mariechen Vosloo
Rolverdeling: Bennie Fourie, Marlee van der Merwe, Frank Opperman, James Borthwick, André Weideman, Laudo Liebenberg, Tim Theron, Roelien Daneel, Lida Botha, Jana Cilliers, Lika Berning, Clyde Berning, Neels van Jaarsveld, Lida Botha, Pascual Whakefield

Ander Mens vertel die verhaal van hoe ’n goedgelowige rekenmeester, Daniël Niemand se lewe onherroeplik verander nadat sy vrou, Pauline hom met hulle huweliksberader, Schalk, verneuk wat weer tot verskeie ander tragiese gebeure aanleiding gee. Nie net word hy deur Sersant Johannes Ackerman gebruik as lokaas om sy krimineelbaas, Frank Redelinghuys vas te trek nie, maar word verder ook byna die vyfde slagoffer van Luitenant Erica Kruger se getuiebeskermingsprogram. Dié spanningsvolle film oor ongemaklike gewone karakters wat ongewone, verrassende wendings in hulle lewens ervaar, beloof om kykers nie net enduit op die punte van hulle stoele vasgenael te hou nie, maar hulle ook behoorlik te laat skaterlag.

Die draaiboek deur Quentin Krog, Sean Robert Daniels en Frannie van der Walt is gebaseer op Zirk van den Berg se topverkoperroman, Nobody Dies (later vertaal as ’n Ander Mens) wat in 2014 met die kykNET-Rapportprys in die Rolprent kategorie bekroon is. Die verhaal word vertel vanuit die perspektief van Luitenant Erica Kruger wat ook as alomteenwoordige derdepersoonsverteller optree. Dié grensverskuiwende film se postmoderne aanslag blyk duidelik uit die feit dat dit ’n aanvang neem nadat die chaos breekpunt bereik het waarna sy terugskouend vertel van al die gebeure wat tot daardie oomblik aanleiding gegee het.

Quentin Krog van Ballade vir ’n Enkeling faam het homself oudergewoonte oortref as die regisseur met die oortuigende toneelspel wat elkeen van sy onderskeie akteurs lewer. Dié film spog met ’n indrukwekkende rolverdeling, insluitend Marlee van der Merwe (Trouvoete) Bennie Fourie (Die Pro), Tim Theron (Vuil Wasgoed), Roelien Daneel (Krotoa), Frank Opperman (Dominee Tienie), André Weidemann (Hoener Met Die Rooi Skoene), James Borthwick (Hotel) en Laudo Liebenberg (Kanarie). Eersgenoemde slaag beslis met haar geloofwaardige vertolking van die gewentenlose Luitenant Kruger daarin om empatie by die kykers te kweek. Dis egter Fourie wat die kollig steel met sy uitstekende vertolking van die bleeksiel, Daniël wat een van die lewe se slaansakke geword het en sukkel om vir homself op te staan.

Jacques Koudstaal se kinematografie word gekenmerk deur verskeie lang, wye skote van Du Toitskloof in die Kaap se prentjiemooi berglandskap waarteen die meeste van hierdie aksiebelaaide gebeure afspeel. Verder word daar voortdurend gewissel tussen skote vanuit hoog bo- en effe-hoeke, afhangende van die karakter vanuit wie se perspektief ’n spesifieke toneel waargeneem word. Dieselfde tipe kameralens as wat gebruik is in die 1970’s treffer, The Godfather, verleen ’n eiesoortige tekstuur aan die film. Dit word gekomplementeer deur die vindingryke redigering van Eva du Preez wat met behulp van kruisdowing daarin slaag om verskeie opeenvolgende tonele byna moeiteloos in mekaar te laat vloei.

Die oorspronklike musiek wat na aanleiding van die onderskeie karakters se name deur Häzer en Melissa van der Spuy vir dié film gekomponeer is, lewer ’n belangrike bydrae om die deurlopende spanningslyn enduit te behou. Die Libertas Koor met hul lewendige optrede onder leiding van Johan de Villiërs verhoog die dramatiese ironie van die afgryslike gebeure tydens die slottoneel.

Afknouerey, selfbeeld, respek, verhoudings, familiebande, geweld en misdaad is van die sentrale onderliggende temas wat tussen deur al die bloed en konsternasie ontgin word. Alhoewel hierdie moderne aksie-komedie ongetwyfeld op plaaslike bodem in terme van taal en styl grense verskuif, gaan die uitermatige vloek- en krutaal asook naaktonele beslis nie in almal se smaak val nie. Ander Mens met sy donker humor, spitsvondige dialoog, tong-in-die-kies geweld en ernstige ondertoon sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit deur die mense rondom hom/haar geboelie is.