Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Boesman, my seun: Die verlede se houvas op die hede

Tydsduur: 69 minute
Ouderdomsbeperking: 16 SLV
Genre: Drama
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Deon Opperman
Kinematografie: Marius de Nysschen
Redigering: Regardt Botha
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Marius Weyers, Franci Swanepoel, Gustav Gerdener, Kaz McFadden, Ian Roelofs, Rouel Beukes, Matt Stern, Zack Mtombeni

Boesman, my seun vertel die verhaal van hoe ’n vervreemde seun na afloop van sy ma se dood weer na sy ouerhuis terugkeer om sy melktande te kom opeis wat sy vir hom gebêre het. Dit lei egter tot ’n konfrontasie met sy outokratiese pa teen wie se nasionalistiese sienings hy destyds as jong man gerebelleer het nadat hy die mees negatiewe aspekte van apartheid en militêre diensplig aan eie lyf ervaar het. Dié boeiende familiedrama waarin konflik binne gesinsverband ontgin word, beloof om kykers opnuut weer oor die sin en betekenis van die ouer-kind verhouding te laat nadink.

Deon Opperman het sy gelyknamige toneelstuk wat met die Hertzogprys vir Drama bekroon is in ’n film draaiboek vir die klein skerm verwerk. Dit bestaan egter hoofsaaklik uit dialoog tussen ’n pa en sy seun wat deur middel van terugflitse na verskeie gebeure tydens Boesman se grootwardjare en weermagdae onderbreek word. Hulle dialoog wat deur ’n stortvloed van vloekwoorde en krutaal gekenmerk word, dien as die vergestalting van ’n verlore geslag se psige, frustrasies, bitterheid en pyn in hulle poging om van hul verlede te probeer sin maak.

Die hoofkarakter, Boesman word onderskeidelik deur Ian Roelofs (Raaiselkind) as ’n kind, Kaz McFadden (Die Wonderwerker) as ’n tienerseun en Gustav Gerdener (Modder en Bloed) as ’n volwasse man vertolk. Hierdie akteurs lewer elkeen ’n belangrike bydrae tot die geloofwaardige voorstelling van sy ontwikkeling en uiteindelike lewensverloop. Marius Weyers (The Recce) in die rol van sy pa en Franci Swanepoel (Lien se Lankstaanskoene) in die rol van sy ma verdien egter ook spesiale vermelding vir die deernis en begrip waarmee hulle sy ouers in die hede sowel as die verlede vertolk.

Die regisseur, André Velts van Die Pro-faam slaag daarin om die rou en eerlike emosies wat vir die betrokke karakters vereis word in elkeen van hierdie akteurs te ontgin en op die skerm na vore te bring. Die kinematograaf, Marius de Nysschen wissel voortdurend tydens die pa en sy seun se gesprekke tussen lang en naby skote waardeur die verwydering tussen dié twee karakters enersyds en die intensiteit van hul onderskeie emosies andersyds beklemtoon word. Regardt Botha se briljante redigeringsvermoëns blyk baie duidelik vanuit die wyse waarop hy die konfrontasie van die hede en die geheime van die verlede byna moeiteloos met mekaar verbind om sodoende aan die introspektiewe aard van hierdie verhaal reg te kan laat geskied.

Boesman se melktande dien as ’n uiters gepaste metafoor vir sy verlore kinderlike onskuld waarna hy op soek is terwyl die armdruk kompetisie en oënskynlik onskuldige potjie dumbord met sy pa op ’n deurlopende magsmotief dui. Verskeie besonder aktuele temas binne die Afrikaneridentiteit insluitende apartheid en rassisme asook geloof en die kerk sowel as taboes soos homoseksualiteit, masturbasie en pornografie word in dié film vanuit duidelik omskrewe geslagsrolle binne die dogmatiese manlike perspektief aangespreek. Hierdie aangrypende verhaal kan egter ook as ’n verkapte outobiografiese teks beskou word vanweë die vele ooreenkomste wat dit met die skrywer se eie lewensverhaal as ’n aangenome kind toon.

Dié opspraakwekkende film slaag daarin om die konfrontasie tussen ’n vader en seun wat as gevolg van hulle uiteenlopende lewensingesteldhede van mekaar verwyderd geraak het op ’n  effektiewe wyse te belig. Dit neig egter ongelukkig plek-plek om in die konvensies van teater, die medium waarin dit sy oorsprong gehad het, terug te val, maar sonder om in enige opsig aan die relevansie van die inhoud afbreuk te maak. Boesman, my seun met sy regverdige kwota van ongemaklike vrae wat oor verskeie generasies heen strek, sal by alle ouderdomsgroepe aanklank vind, maar is beslis nie vir sensitiewe kykers geskik nie.