Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Bottervisse in die jêm: ’n Wroegende kunstenaar se herstelpad

Deur Melissa van Eeden, Fanie Nel, Leoné Prinsloo

Tydsduur: 70 minute
Genre: Romantiese Drama
Ouderdomsbeperking: 13 VL
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: Marisa Drummond
Draaiboek: Deon Opperman
Kinematografie: Darren Dressels
Musiek: Sebastian Scheepers
Redigering: Rob Verster
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Stelinkleding: Murray Kruger
Rolverdeling: Stiaan Smith, Nadia Valvekens, Dirk Jacobs, Leandie du Randt Bosch, Schelaine Bennett, Elizca Coetzer, Kyle Grant, Paula Davids, Runaldo Hendricks

Bottervisse in die jêm vertel die verhaal van hoe Christo Nienaber wat oor die dood van sy verloofde, Christine wroeg begin skilder in ’n poging om van sy pyn te kan vergeet. Dié siniese kunstenaar word met sy emosies oor sy verlede sowel as sy soeke na genesing gekonfronteer wanneer sy nuwe buurvrou, Monica Barnard se wysneus seuntjie, Buks homself ongenooid in sy huis sowel as in sy lewe inlaat. Dié romantiese, dog onsentimentele drama wat ’n goeie balans tussen hartverskeurende en skaterlag oomblikke handhaaf, beloof om kykers opnuut weer te herinner aan die belangrike rol wat hulle elkeen in ’n ander se herstelproses kan speel.

Die veelbekroonde dramaturg, Deon Opperman wat vir die televisiefilm, Hartstog sowel as verskeie televisiereekse soos Bloedbroers en Fluiters verantwoordelik was, het die bekende misdaadskrywer, Deon Meyer se gelyknamige kortverhaal in ’n draaiboek vir die klein skerm verwerk. Hierdie boeiende draaiboek bestaan hoofsaaklik uit dialoog tussen die verskillende karakters wat deur terugflitse na Christo en Christine se gelukkiger dae onderbreek word.

Die regisseurshand van Marisa Drummond wat ook die gewilde kykNET-sepie, Getroud met Rugby se regie behartig, is baie duidelik sigbaar in die deernisvolle wyse waarop die twee hoofkarakters uitgebeeld word. Sy slaag ook daarin om die hede en die verlede moeiteloos in mekaar te verwring sodat dié twee tydlyne nie slegs elkeen op hulle eie nie, maar ook as ’n eenheid kan funksioneer.

Stiaan Smith van Sy Klink Soos Lente faam slaag met sy hartroerende vertolking van Christo se innerlike stryd daarin om sy brose kant te openbaar asook om die kykers se nuuskierigheid oor sy verlede te prikkel. Nadia Valvekens wat veral as Pippa Liebenberg in Binnelanders bekend is, het haarself uitstekend van haar taak gekwyt met die geloofwaardige wyse waarop sy die rol van Monica vertolk. Dirk Jacobs oortuig ten spyte van al sy kinderlike nuuskierigheid en taalfoute nie heeltemal as haar wysneus seun, Buks nie aangesien ’n mens ongelukkig die indruk kry dat hy sy dialoog slegs opsê sonder om ook die nodige emosie daarvan oor te dra.

Die gebruik van dekor en kleur sowel as Christo se skilderye speel ’n belangrike rol daarin om die karakters byeen te bring asook om die hede en die verlede met mekaar te versoen. ’n Kleurpalet bestaande uit skakerings van rooi, geel en blou word deurlopend in hierdie film gebruik om verskillende boodskappe asook die gemoedstoestand van elke karakter binne ellke toneel aan die kykers te kan oordra. Musiek word ook in dié film deur die klanktegnikus, Sebastian Scheepers aangewend in ’n poing om heling vir die karakters se emosionele pyn te kan bewerkstellig asook om ’n spesifieke atmosfeer binne ’n bepaalde toneel te kan skep.

Hierdie film wat in sommige opsigte aan Jakhalsdans herinner, slaag daarin om met behulp van verskeie beelde en metafore, insluitende skilderye ’n mate van bevryding vir innerlike worstelinge te kan verleen. Bottervisse in die jêm met sy kinderlik naïewe blik op menslike gebrokenheid sal aanklank vind by diegene wat al die verlies aan ’n geliefde moes verwerk.