Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Die dag is bros: Die magiese krag van poësie

Tydsduur: 71 minute
Ouderdomsbeperking: 16VL
Genre: Drama 
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Wessel Pretorius
Kinematografie: Marius de Nysschen
Redigering: Rob Verster
Musiek: Sebastian Scheepers
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Franci Swanepoel, Kaz MacFadden, Dean-John Smith, Juanita de Villiërs-Velts, Ian Roelofs, Luandri Reynders

Die dag is bros vertel die verhaal van hoe ’n voormalige dosent in Afrikaanse Letterkunde, Dr. Elsa van Zyl se enigste seun, Tertius en sy meisie, Karien Michaux albei in ’n bloedige motorkaping oorlede is. Sy verwerk dié trauma met behulp van ’n jeugmisdadiger, Brian wat ’n tweede kans onder haar vlerk gegun is asook haar verpleegster, Irma se ondersteuning. Hierdie aangrypende menslike drama beloof om kykers nie slegs enduit vasgenael te hou nie, maar ook om hulle geloof in hul medemens behoorlik op die proef te stel.

Wessel Pretorius het sy gelyknamige toneelstuk, waarvoor hy in 2016 ’n ATKV Mediaveertjie vir Beste Teks ontvang het, in ’n besonder boeiende draaiboek vir die klein skerm verwerk. Die skeidslyn tussen werklikheid en illusie vervaag egter dikwels in hierdie draaiboek waarin hy die verband tussen trauma en magiese realisme ondersoek soos duidelik blyk uit Elsa se oorlede seun, Tertius wat deurlopend as ’n aktiewe rolspeler uitgebeeld word. Brian se dialoog word nie slegs deur vloek- en krutaal gekenmerk as aanduiding van sy woede, haat, frustrasie en onvergewensgesindheid nie, maar ook deur die Kaapse dialek van Afrikaans wat met verskeie Engelse woorde deurspek is.

Dié draaiboek bevat intertekstuele verwysings na Sheila Cussons se gedigte, Klein Ballade en Die Swart Kombuis asook Nathan Trantaal se gedig, Ronelda wat in die vorm van voordragte deur onderskeidelik Tertius, Elsa en Brian voorkom. Eersgenoemde se eerste strofe dien egter ook as ’n leimotief wat herhaaldelik deur Tertius as vertroosting aangehaal word, wanneer hy die dood in die gesig staar. Die sentrale onderliggende tema van hierdie treffende film oor familie, vergifnis en blywende herinneringe is dus die wyse waarop die mens deur sy identifisering met letterkunde ’n spreekwoordelike skild teen die swaarkry van die lewe kan bekom.

Die regisseur, André Velts van Raaiselkind faam, het hom oudergewoonte uitstekend van sy taak gekwyt soos baie duidelik uit elke akteur se geloofwaardige vertolkings blyk. Die dag is bros spog met ’n indrukwekkende rolverdeling, bestaande uit Franci Swanepoel (Lien Se Lankstaanskoene), Kaz McFadden (Die Wonderwerker), Juanita de Villiërs-Velts (Knysna) en Dean-John Smith (Vaselinetjie). Laasgenoemde wat in 2016 met ’n Fiësta-toekenning vir Beste Manlike Byspeler in dié oorspronklike verhoogstuk bekroon is, slaag met sy vertolking van Brian daarin om die Kleurling-gemeenskap se onderdrukte opstandigheid teenoor die Blankes besonder akkuraat te vergestalt.

Marius de Nysschen se kinematografie word tydens die gedigte se voordrag gekenmerk deur skote wat voortdurend tussen ’n effe-hoek vanuit die luisteraar se perspektief en ’n hoog bo-hoek vanuit die verteller se perspektief wissel. Die fokustegnikus, Dean Hibbert maak van verskeie lang skote met ’n wisselende fokus tussen die voor- en agtergrond gebruik om sodoende ’n baie duidelike onderskeid tussen metafiksie en die werklikheid te kan tref. Rob Verster slaag met sy soomlose redigering daarin om gebeure in die hede, karakters se verbeeldingsvlugte en terugflitse na die verlede tot ’n eenheid saam te bind.

Die klanktegnikus, Sebastian Scheepers en beligtingstegnikus, Grant van Vuuren verhoog die dramatiese effek van gebeure tydens terugflitse na Tertius se kinderjare sowel as die kapingstoneel deur die herhalende geluid van ritselende swembadwater en flikkerende ligte. Die voortdurende geluid van windklokke in die agtergrond dui op die aanwesigheid van die metafiksionele terwyl verskilende soorte musiek asook geluide soos ’n juigende applous en geweerskote ingespan word om die karakters se terugflitse meer geloofwaardig te maak.

Hierdie postmoderne film skroom geensins om die brutale werklikheid rondom hedendaagse sosio-politiese kwessies soos geweld, diefstal, moord en verkragting in reaksie op ’n gewese Apartheidsregering in Suid-Afrika tot op die been oop te kloof nie. Die genesende krag van woorde bring egter hoop soos dit baie duidelik blyk uit Elsa en Brian se verhouding waarin hulle gedeelde liefde vir poësie aan albei onderskeidelik ontvlugting van hulle traumatiese verlede bied. Die dag is bros met verskeie intertekstuele verwysings, spesiale effekte en elemente van magiese realisme sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit ’n geliefde as gevolg van misdaad aan die dood moes afstaan.