Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Die Skandaal: Skreeusnaakse wraakplanne

Deur Melissa van Eeden

Tydsduur: 70 minute
Genre: Komedie
Ouderdomsbeperking: 13 SL
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Hannes Müller
Kinematografie: Darren Dressels
Redigering: Natalie Varoy
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Neil Sharim, Vilje Maritz, Amalia Uys, David Vlok, Natasja Jacobs, Chantal Stanfield, Solomon Cupido, Hannes Brümmer

Die Skandaal handel oor allerhande kaskenades wat tussen die vier mure van ’n luukse wooneenheid kompleks afspeel. ’n Eksentrieke inwoner, Josie span saam met sy broer, Hardus, ’n hubare vrygesel om amok te saai onder al die kompleks se inwoners nadat sy planne vir die bou van ’n patio buitekant sy huis deur die bestuur van die kompleks afgekeur is. Hulle wraakplanne sorg vir ’n paar heerlike verrassings in dié suggestiewe komedie wat beloof om die kykers se lagspiere behoorlik te prikkel.

Hannes Müller wat vir die legendariese verhoogstuk, Groet die Grotman bekendheid verwerf het, was verantwoordelik vir die verwerking van Deon Opperman, Lizz Meiring en Eric Nobbs se gelyknamige verhoogstuk tot ’n draaiboek vir die klein skerm. Hy het homself uitstekend van sy taak gekwyt met vlymskerp dialoog asook pittige aanmerkings wat in sy skreeusnaakse draaiboek aangetref word. Die karakterisering van al die verskillende karakters sowel as die onderlinge verhoudings tussen hulle, insluitende die onderdanige, oorbodige en outoritêre figure vorm ’n integrale deel van die plotlyn.

André Velts wat ook die regie van verskeie ander films soos Die Pro en Jou Romeo behartig het, bring ’n eiesoortige benadering tot hierdie byna absurde komedie. Die klanktegnikus, Sebastian Scheepers se keuse van musiek tydens die openingstoneel dien reeds as ’n vroeë aanduiding van die onraad sowel as talle teenstrydighede wat op die kykers wag. Die slottoneel mag moontlik effens onafgerond voorkom, maar die film vorm ten spyte daarvan nog steeds ’n eenheid wanneer Josie en Hardus se wraakplanne uiteindelik seëvier.

Die Skandaal spog met ’n sterbelaaide rolverdeling bestaande uit Viljé Maritz (’n Man Soos My Pa), Amalia Uys (Sy Klink Soos Lente), David Vlok (Sterlopers), Neil Sharim (Bakgat!), Natasja Jacobs (Elke Skewe Pot), Chantal Stanfield (Getroud Met Rugby: Die Sepie), Solomon Cupido (As Jy Sing) en Hannes Brümmer (’n Pawpaw Vir My Darling). Laasgenoemde se uitmuntende vertolking van die buitelander, Raoul wat leer om Afrikaans te praat, slaag beslis daarin om die kykers met sy effens onskuldige, dog suggestiewe frases te laat skaterlag. David en Amalia se uitstekende vertolkings van Majoor en sy vrou, Diana onderskeidelik dui op ’n gewese verliefdheid tussen hulle ten spyte van al hul huidige woordewisselinge en rusies.

Die prominente rol wat kleur in Christian Joubert se produksie-ontwerp speel, kom veral na vore in die wyse waarop Josie se huis vanaf die oranje goudvis tot die pers lappe in die leefarea bont ingekleur is. Die kostuumontwerper, Madelaine Lötter se briljante keuses met betrekking tot al die verskillende karakters se uitrustings verleen ’n ekstra dimensie aan hulle onderskeie geaardhede soos dit duidelik  uit Frezia se neutrale kleur klere asook Ava se “playboy hasie” uitrusting blyk.

Hierdie film gaan beslis nie in almal se smaak val nie, maar slaag nietemin nog steeds daarin om met behulp van verskeie opwindende intriges sowel as ’n verrassende slot die kykers enduit te kan boei. Die Skandaal met sy dikwels obskure inhoud is beslis nie geskik vir jong kykers nie, maar sal eerder by volwassenes met ’n effens meer gewaagde humorsin aanklank vind.