Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Dominee Tienie: Op soek na ’n oplossing

Tydsduur: 100 minute
Ouderdomsbeperking: 10-12 PG
Genre: Tragi-komedie
Vervaardigers: Piet de Jager, Salmon de Jager
Regisseur: Salmon de Jager
Draaiboek: Salmon de Jager, Dana Snyman
Musiek: Dawie de Jager
Kinematografie: Eduan Kitching
Redigering: Quinn Lubbe
Produksie-ontwerp: Waldemar Coetsee
Kostuumontwerp: Marlé Drotsky
Rolverdeling: Frank Opperman, Henriëtta Gryffenberg, Deon Lotz, Carel Nel, Paul Eilers, Regardt van den Bergh, Gerrit Schoonhoven, Annette Engelbrecht, Luan Jacobs, Izel Bezuidenhout, Thapelo Mokoena

Dominee Tienie vertel die verhaal van hoe ’n predikant na afloop van sestien jaar in die bediening by ’n kruispad kom waar hy sy rol en die van sy gemeente binne die moderne samelewing bevraagteken. Hy besef dat hy sy hele lewe aan sy gemeente gewy het, maar ook dat hy in die proses sy vrou, Ester asook sy kinders, Helena en Marthiens verwaarloos het. Dié tragi-komedie wat op Dana Snyman se eenmanstuk, Die Klaagliedere van Dominee Tienie gebaseer is, beloof om kykers nie slegs op verskeie vlakke uit te daag nie, maar om hulle soms ook behoorlik te laat skaterlag.

Salmon de Jager wat vir rolprente soos Roepman, Verraaiers en Stuur Groete aan Mannetjies Roux verantwoordelik was, het ook dié aangrypende film se draaiboek, regie en vervaardiging behartig. Die draaiboek verval egter tydens Dominee Tienie se slotpreek in die oeroue strik om te vertel eerder as om te wys soos duidelik uit die statiese kameraskoot op die kansel blyk. Sy briljante regie en die goeie toneelspel wat dit kweek, vergoed gelukkig vir dié enkele glips wat met die draaiboek ingesluip het.

Eduan Kitching van Liewe Kersfeesvader-faam se kinematografie word deur verskeie hoog bo skote op sleutel elemente soos die dominee, gemeente en kerktoring asook voortdurende horisontale en vertikale kamerabewegings gekenmerk. Quinn Lubbe van Modder en Bloed-faam maak tydens die redigering van in- en uitdowingstegnieke gebruik om sodoende ’n duidelike onderskeid tussen drome en realiteit te tref.

Frank Opperman wat volksbesit geword het vir sy rol as Ouboet in Orkney Snork Nie vertolk die titelrol van die sielsmoeë Dominee Tienie Benadé met groot deernis en begrip vir die hedendaagse uitdagings van ’n predikant. Deon Lotz (’n Pawpaw vir my Darling) se natuurlike talent is opnuut sigbaar wanneer Tienie se ou studentevriend, Johan hom een aand met raad oor sy preekstyl besoek. Henriëtta Gryffenberg (Die Sonkring) lewer uitmuntende spel as die onverskrokke Ester Benadé oftewel Mevrou Dominee wat smiddae vir die dorp se kinders klavierlesse aanbied.

Dawie de Jager van Stroomop-faam is verantwoordelik vir die klankbaan, insluitende sy oorspronklike komposisie, Old Hands wat bepaalde tonele se emosionele subteks effektief belig. Ali Heyns se saksofoon wat op Johan Sebastian Bach se klassieke treffer, Jesu, joy of man’s desire gehoor kan word, skep ’n gewyde atmosfeer tydens die veelbesproke troue in die Moedergemeente. Hierdie film word egter deur die alternatiewe groep, Fokofpolisiekar se treffer, Ek skyn heilig afgesluit wat in sterk kontras met die gereformeerde waardes en tradisies van die kerk staan.

Hierdie tragi-komedie na aanleiding van ’n drastiese afname in kerkbywoning bied ’n uiters relevante boodskap oor verskeie kritiese vraagstukke rondom geloof sowel as identiteit waarmee die meeste Afrikaners sal kan identifiseer. Dit neig egter soms terug na sy oorsprong as ’n eenmanstuk wanneer daar eerder op woorde as visuele motiewe en tegnieke staat gemaak word om dié boodskap oor te dra. Dominee Tienie met sy hartroerende sowel as skreeusnaakse oomblikke sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit oor die doel van sy of haar aardse bestaan besin het.