Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Draadloos: Die eenvoud van Kersfees

Tydsduur: 72 minute
Ouderdomsbeperking: PG13
Genre: Drama
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: Hannes Müller
Draaiboek: Candice Johannes
Kinematografie: Eduan Kitching
Redigering: Juvan Redelinghuys
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Sandi Schultz, Schelaine Bennett, Pulane Sekepe, Shaleen-Surtie Richards, Simon Bruinders, Solomon Cupido, Duncan Johnson, J.P. Keyter, Bradley Olivier, Johnny Potsanyane, Johan Hendriksz

Draadloos vertel die verhaal van hoe ’n klein kerkgemeenskap in Hartseville onder leiding van Pastoor Miriam deur ’n onverwagse besoeker van Kaapstad genader word om hulle Kersfees-erediens op nasionale radio uit te saai. Die kerkraad en allerlei interessante gemeentelede is baie opgewonde oor die vooruitsig van ongekende roem en beraam allerhande planne om hulle beste voetjie voor te sit vir dié groot gebeurtenis. Die menslike drama met talle komiese oomblikke beloof om kykers nie net te laat skaterlag nie, maar om hulle ook opnuut weer oor die ware sin en betekenis van Kersfees te laat nadink.

Die oorspronklike draaiboek deur Candice Johannes met teksversorging deur Hannes Müller getuig van baie deeglike navorsing oor hoe ’n plattelandse kerk binne ’n bruin Afrikaanse gemeenskap funksioneer. Die karakters se dialoog wat deur ’n Kaaps-Afrikaanse dialek gekenmerk word, versterk die geloofwaardigheid van hierdie verhaal wat slegs uit bruin Afrikaanssprekendes bestaan. Die draaiboek bevat intertekstuele verwysings na Bybelverse soos Spreuke 2:6 sowel as verskeie dubbelsinnige opmerkings deur die karakters wat in sterk kontras met mekaar staan.

Hannes Müller het nie slegs vir Candice met haar draaiboek se teksversorging gehelp nie, maar was ook vir die regie van dié eerlike film verantwoordelik. Die bekende akteur, Hannes Müller van Groet Die Grotman faam se ervare regisseurshand is baie duidelik sigbaar in die onderskeie akteurs se briljante vertolkings wat vir heerlike komiese afleiding sorg.

Draadloos spog met ’n byna eksklusiewe bruin rolverdeling, insluitende Sandi Schultz (Nommer 37), Schelaine Bennett (Generations), Pulane Sekepe (Sink), Shaleen-Surtie Richards (Treurgrond), Simon Bruinders (Vaselinetjie), Solomon Cupido (As Jy sing), Duncan Johnson (Fluiters), Bradley Olivier (Die Ontwaking) en Johnny Potsanyane (Jou Romeo). Pulane Sekepe verdien egter spesiale vermelding vir haar briljante vertolking van die enigmatiese Suster Bernice met haar slinkse agenda om Pastoor Jacquekie in te katrol.

Eduan Kitching van Dominee Tienie faam se kinematografie word deur verskeie swenkskote van die kerkgebou en hoog-bo skote op die gemeentelede asook ’n ritmiese sekwens tydens die kerkbasaar gekenmerk. Die byna soomlose redigering deur Juvan Redelinghuys sorg vir ’n aangename kykervaring waardeur die onderliggende boodskap oor die belangrikheid van eenvoud ondersteun word.

Die tradisionele Kersmusiek soos Stille Nag, Hosanna in die Hoogste en Kom alle getroues lewer ’n ongelooflike belangrike bydrae tot die geloofwaardigheid van die Kersfees-erediens wat lewendig uitgesaai word. Christian Joubert se produksie-ontwerp en Madelaine Lötter se kostuumontwerp slaag albei daarin om die absolute eenvoud en armoede van hierdie trotse kerk-familie akkuraat te weerspieël sonder om enigsins aanstoot te gee.

Hierdie storie van ’n kerk-familie wat uiteindelik besluit om saam te staan en weer nuwe lewe in hulle gemeente te blaas, is nie ’n grensverskuiwende rolprent nie, maar sorg nietemin vir belangrike stof tot nadenke. Alhoewel hierdie verhaal binne die tradisioneel ernstige milieu van ’n kerkgebou afspeel, word dit in ’n baie ligte trant vertel soos duidelik uit die karakters se oor-en-weer geskerts blyk. Draadloos met sy belangrike lewenswaarhede asook komiese karakters is ’n moet-sien vir almal wat die rol van die kerk sowel as die samesyn van families tydens Kersfees belangrik ag.