Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Droomman: ’n Reënmasjien wat wolke maak

Tydsduur: 71 minute
Ouderdomsbeperking: 13VL
Genre: Drama
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Sean Else
Kinematografie: Marius de Nysschen
Redigering: Natalie Varoy
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Armand Aucamp, Charlené Brouwer, Adrian Alper, David Konrad, Gerrit Schoonhoven, Roderick Jaftha

Droomman vertel die verhaal van hoe ’n byna woordlose verhouding tussen ’n stereotipiese bibliotekaresse, Liza en ’n misterieuse vreemdeling, Adam geleidelik groei totdat sy uitvind wat regtig in sy hede asook sy verlede skuil. Die junior stadsklerk, Ben gun Liza egter nie dié geluk nie en haar kollega, Wayne is effens skepties daaroor terwyl Adam se vriende, Teddy en Stubs haar teenwoordigheid in sy lewe met ope arms verwelkom. Hierdie menslike drama beloof om die kykers te inspireer om hulle persoonlike drome ook opnuut weer af te stof en na te jaag ongeag wat diegene rondom hulle ook al daarvan mag dink.

Sean Else van ’n Man soos my Pa faam slaag met sy oorspronklike draaiboek vir die klein skerm daarin om nie slegs die kykers se verbeelding te prikkel nie, maar ook om hulle enduit voor die kassie vasgenael te hou. Wolke wat weens hulle vloeibaarheid en aanpasbaarheid as ’n metafoor vir drome oftewel onvervulde potensiaal gebruik word, vind deur die loop van dié film in verskeie vorme gestalte, insluitende modelle, verhale en sketse. Teddy word as ’n derdepersoonsverteller ingespan tydens die proloog waarin die aanloop tot Adam en Liza se verhouding bespreek word asook die epiloog waarin nabetragting daaroor gehou word.

André Velts van Knysna faam se fyn aanvoeling vir regie is byna tasbaar in die deernisvolle wyse waarop al die betrokke akteurs die onderliggende motiverings van hulle onderskeie karakters uitbeeld. Armand Aucamp (Ballade vir ’n Enkeling) en Charlené Brouwer (Dis ek, Anna) wat die hoofrolle van Adam en Liza onderskeidelik vertolk, slaag beslis daarin om by die kykers empatie vir hulle omstandighede te kweek. Dis egter Adrian Alper (Susanna van Biljon) en Elsabé Zietsman (Dis koue kos, skat) wat met hulle vertolking van Wayne en Juffrou Rademeyer onderskeidelik vir verskeie ligte, komiese oomblikke sorg.

Marius de Nysschen se kinematografie word gekenmerk deur ’n kamera wat voortdurend in- en uit-zoem op die karakters om die emosionele intensiteit van hulle onderskeie situasies in die proses te verminder of te vermeerder. Hy maak verder ook gebruik van horisontale skote waar die kamera die karakters van agter volg om hulle weerloosheid te beklemtoon sowel as van nabyskote op die horlosie in die biblioteek om ’n tydsverloop aan te dui. Natalie Varoy maak van in- en uitdowing as ’n redigeringstegniek gebruik om sodoende ’n baie duidelike onderskeid tussen die realiteit en die karakters se verbeeldingswêreld te kan bewerkstellig.

Dié film wat deurgaans ’n uitstekende balans tussen ernstige en ligte oomblikke handhaaf, neem egter ’n onvoorspelbare dramatiese wending wat die kykers ongetwyfeld nog baie lank na afloop van die slottoneel sal bybly. Dit slaag daarin om hulle saam met die karakters op reis te neem na ’n wêreld waarin die verwesenliking van drome ’n werklikheid is sonder om in die proses die onvoorspelbaarheid van lewe heeltemal uit die oog te verloor. Droomman met sy talle beeldspraak en metafore sowel as sy pragtige, atmosferiese skote sal aanklank vind by enigeen wat al ooit aan die onmoontlike geglo en dan deur die lewe teleurgestel is.