Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Fiela se Kind: Nostalgie herbesoek

Tydsduur: 120 minute
Ouderdomsbeperking: 13 LPV
Genre: Geskiedkundige Drama
Vervaardigers: Danie Bester, Brett Michael Innes
Regisseur: Brett Michael Innes
Draaiboek: Brett Michael Innes
Musiek: Kyle Shepherd
Kinematografie: Tom Marais
Redigering: C.A. van Aswegen
Produksie-ontwerp: Chantel Carter
Kostuumontwerp: Mari van der Merwe
Rolverdeling: Zenobia Kloppers, Luca Bornman, Wayne Smith, Wayne van Rooyen, Drikus Volschenk, Melissa Willering, Mateo Olivier, Carla Classen, Cindy Swanepoel, Roget Ellis, Ivar Thomson, Chiara Roodt, Francois Stemmet, Wim Beukes, Gerald Steyn, Morné Steyn

Fiela se Kind vertel die verhaal van hoe Fiela Komoetie, ’n bruin vrou van die Langekloof in 1865 ’n verlore wit kind op die drumpel van haar voorstoep ontdek, ingeneem en soos haar eie grootgemaak het. Na ’n dekade in Fiela se sorg word hy egter deur regeringsowerhede weggeneem en gedwing om in die Knysna woud te gaan woon saam met Elias en Barta van Rooyen, wat beweer dat hy hulle verlore kind, Lukas is. Hierdie treffende verwerking, waarin ’n wordende stelsel groter en ongenaakbaarder as Fiela se moederliefde vir haar hanskind is, beloof om die konsepte van reg en verkeerd opnuut weer onder die soeklig te plaas. 

Die nuwe rolprentweergawe van Dalene Matthee se klassieke verhaal is vervaardig deur Danie Bester van The Film Factory in samewerking met Brett Michael Innes van Sink-faam wat ook die draaiboekskrywer en regisseur was. Dit volg op die oorspronklike verwerking wat in 1988 op die grootskerm verskyn het, met Shaleen Surtie-Richards, Dawid Minnaar, André Rossouw en Lida Botha in die hoofrolle, waarvan Chris Barnard die draaiboek en Katinka Heyns die regie behartig het. Hierdie aangepaste weergawe fokus egter hoofsaaklik op die verhouding tussen Fiela en die jonger sowel as ouer Benjamin in teenstelling tot die roman waarin die verhaal met behulp van ’n eerstepersoonsverteller vanuit Fiela, Benjamin en Elias se perspektiewe vertel word. 

’n Enorme rolverdeling bestaande uit Zenobia Kloppers, Wayne van Rooyen, Luca Bornman, Wayne Smith, Stefan Erasmus, Mateo Olivier, Keisha Louis, Carla Classen, Jordin Naudé, Kyra Phillips, Francois Stemmet, Drikus Volschenk, Cindy Swanepoel, Melissa Willering, Chiara Roodt, Gerald Steyn en Ivar Thomson, sorg vir heelwat debuut verskynings op die silwerdoek. Dis egter Zenobia Kloppers wat ’n onvergeetlike kragtoer lewer in die hoofrol as Fiela, ’n hoogs, intelligente, pligsgetroue, hardwerkende en trotse vrou gedurende ’n tydperk waarin blankes die bevoorregtes in Suid-Afrika was. Cindy Swanepoel verdien ook spesiale vermelding vir hoe sy daarin slaag om hoofsaaklik met haar gesigsuitdrukkings en lyftaal lewe te skenk aan die passiewe bosvrou, Barta, wie se kind jare gelede weggeraak het. 

Tom Marais, van Stroomop-faam, se uitstekende kinematografie word gekenmerk deur wye skote van die kontrasterende oop, droë vlaktes op die volstruisplaas in die Langekloof en welige plantegroei binne die Knysna woud wat byna elkeen afsonderlike karakters word. Die kamera volg dikwels vir Fiela sowel as Benjamin van agter om sodoende hulle weerloosheid teenoor omstandighede buite hul beheer doeltreffend te beklemtoon. Daar word verder ook deurlopend gebruik gemaak van verskeie naby skote op Benjamin se oë, gesig, hande en besittings waardeur die emosionele intensiteit van bepaalde tonele drasties verhoog word. 

Die oorspronklike musiek wat Kyle Shepherd, van Noem My Skollie-faam, vir hierdie film se klankbaan gekomponeer het, speel ’n baie belangrike rol in die oordrag van die onderskeie karakters se emosies aan die kykers. Die talentvolle Loki Rothman se klassieke verwerking van Karen Zoid en Francois van Coke se reuse treffer, Toe vind ek jou, wat deur sy suster, Margot Rothman uitgevoer word, dien heel gepas as temalied vir dié emosie-belaaide film. 

Die vernietigende impak van ’n soeke na identiteit, erfenis van familiegrond, magsvergryp en rasse-ongelykheid binne individuele gesinsverband is van die sentraal onderliggende temas wat in dié uitdagende en verrykende film aangespreek word. Alhoewel die nuutste weergawe van hierdie klassieke gunsteling plek-plek deur die taamlik stadige tempo asook lang pouses gekniehalter word, slaag dit wel daarin om ’n nuwe perspektief op die menslikheid van die hoofkarakter te bied deur haar donker kant te ondersoek. Fiela se Kind, met sy prentjiemooi natuurskoon, lewensveranderende tonele en minimum dialoog, sal beslis aanklank vind by diegene wat al ooit die onregverdigheid van die lewe eerstehands beleef het.