Griekwastad: ’n Persoonlike blik op die ontstellende werklikheid

Tydsduur: 103 minute
Ouderdomsbeperking: 18VSNL
Genre: Misdaad
Vervaardigers: Cobus van den Berg, Tim Theron, Tracey Lange, Deon Meyer, Jacques Steenkamp
Regisseur: Jozua Malherbe
Draaiboek: Tertius Kapp, Jacques Steenkamp
Musiek: Charl-Johan Lingenfelder
Kinematografie: Jozua Malherbe
Redigering: Lucian Barnard
Rolverdeling: Arnold Vosloo, Rolanda Marais, Brent Vermeulen, Alex van Dyk, Jane de Wet, Albert Pretorius, Esther von Waltsleben, Lida Botha, Johan Botha, Ira Blanckenberg, Deon Lotz, Gérard Rudolf, Jody Abrahams, Albert Maritz, Neels van Jaarsveld, Daniah de Villiërs, Tim Theron, Sisanda Henna, Marvin-Lee Beukes, Crystal-Donna Roberts

Griekwastad vertel die ware verhaal van hoe Deon Steenkamp en sy vrou, Christel, asook hulle tienerdogter, Marthella in April 2012 koelbloedig op hulle plaas, Naauwhoek vermoor is vanuit Kolonel Dick de Waal se perspektief. Dié misdaad het aan die lig gekom nadat hulle 15-jarige seun, Don Steenkamp, as die enigste oorlewende, Griekwastad se polisiestasie binnegestorm het met die nuus dat sy hele familie in ’n vermeende plaasaanval vermoor is. Hierdie film beloof om kykers nie slegs enduit op die punte van hulle stoele vasgenael te hou nie, maar hulle ook uit te daag om hulself in ’n emosielose misdadiger se skoene te plaas.

Die draaiboek deur Tertius Kapp van Dis ek, Anna faam is ’n meesterlike verwerking van die joernalis, Jacques Steenkamp se topverkoper misdaadroman, Die Griekwastad Moorde: Die moorde wat Suid-Afrika geruk het. Die beduidende postmoderne invloed blyk duidelik uit die nie-chronologiese storieverteltegniek wat gebruik word om aan kykers ’n indringende blik op die karakters se gedagtewêrelde, asook versamelde bewysstukke in die ondersoek, te bied. Die deurlopende onderbreking van die verhaal deur verskeie plaaslike gemeenskapslede se kommentaar op die Steenkamp familie ondersteun die skrywer se dokumentêre aanslag.

Arnold Vosloo, wat vir films soos The Mummy en Bones in Hollywood bekendheid verwerf het, keer vir die eerste keer in 30 jaar terug na die Suid-Afrikaanse silwerdoek met sy indringende vertolking van die hoofspeurder, Dick de Waal. Dis egter Alex van Dyk van Die Stropers faam wat die kollig steel met sy onderspeelde en genuanseerde vertolking van die jeugmisdadiger, Don Steenkamp se uitdrukkinglose gesig en skynbaar onbetrokke houding.

Die weldeurdagte, sensitiewe regie deur Jozua Malherbe van Wolwedans In Die Skemer faam word beklemtoon deur die emosionele intensiteit van sy rolverdeling se uiters geloofwaardige vertolkings. Dit is egter ook duidelik te bespeur in Malherbe se kinematografie wat deur die gebruik van ekstreme nabyskote op die karakters se oë, neuse en monde gekenmerk word. Die redigeerder, Lucian Barnard van Uitvlucht faam maak hoofsaaklik gebruik van vinnig, opeenvolgende sekwense om die hede en verlede tot ’n byna soomlose eenheid saam te bind, behalwe vir die gebruik van kruisdowing met Don se terugflits tydens sy ondervraging.

Die klankbaan se grieselrige musiek deur Charl-Johan Lingenfelder van Kanarie faam slaag ongetwyfeld daarin om die innerlike paniek van die gehoor oor die grusaamheid van die gebeure te vergestalt. Dit vorm ’n sterk kontras met die gewyde musiek van die kerkkoor onder leiding van Maria Rademan-Viviers van Twee faam by die Steenkamp familie se begrafnis.

Hierdie eiesoortige misdaad drama is beslis nie geskik vir sensitiewe kykers nie weens die eksplisiete geweld, seks en krutaal wat daarin voorkom ten spyte van die oorwegend taktvolle benadering tot die uitbeelding daarvan. Dit skroom dus glad nie om omstrede onderwerpe soos moord, verkragting en satanisme kaalvuis te takel of om konsepte soos die waarheid, asook die verskil tussen reg en verkeerd te bevraagteken nie. Griekwastad met sy boeiende spanningslyn, nugtere regie en uitmuntende toneelspel sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit hulle geliefdes onder verdagte omstandighede aan die dood moes afstaan.