Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Kanarie: ’n Musikale reis onderweg na selfontdekking

Tydsduur: 123 minute
Genre: Drama, Musiek, Oorlog
Ouderdomsbeperking: 16 LNPSV
Vervaardigers: Jaco Smit, Roelof Storm
Regisseur: Christiaan Olwagen
Draaiboek: Charl-Johan Lingenfelder, Christiaan Olwagen
Musiek: Charl-Johan Lingenfelder
Kinematografie: Chris Vermaak
Redigering: Eva Du Preez
Rolverdeling: Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto, Germandt Geldenhuys, Gerard Rudolf, Jacques Bessenger, Ludwig Binge, Francois Jacobs, De Klerk Oelofse, David Viviers, Andrico Goosen

Kanarie vertel die verhaal van ’n 18-jarige seun, Johan Niemand wat tydens sy militêre diensplig in 1985 met sy geloof, patriotisme en seksualiteit worstel. Dié kontroversiële verhaal beloof om tot diep in die psige van die Afrikaner te delf op soek na die waarheid oor die morele stryd wat hy vir dekades lank reeds as gevolg van die Christendom en die Bybel se siening rondom homoseksualiteit voer.

Die veelbekroonde draaiboekskrywer, Christiaan Olwagen slaag nes met sy vorige film, Johnny is nie dood nie, daarin om sy mede-skrywer, Charl-Johan Lingenvelder se ware lewensverhaal met soveel deernis en respek na die silwerskerm te bring. Hulle opspraakwekkende draaiboek getuig beslis van deeglike navorsing oor aktuele kwessies soos homofobie asook die onwrikbare realiteit van diensplig tydens die Grensoorlog. Die karakters se vloektaal wat selfs matrose sal laat bloos, versterk dus nie net die geloofwaardigheid van hulle dialoog nie, maar ook van dié film in sy groter geheel.

Schalk Bezuidenhout (Die Ware Naarheid) wat vir sy vlymskerp komedie bekendheid verwerf het, gaan kykers ongetwyfeld met sy emosiebelaaide vertolking van die hoofrol, Johan Niemand verras. Hy slaag daarin om hierdie uiters verwarde karakter se morele tweestryd sowel as die wyse waarop sy gebrokenheid deur musiek manifesteer met ’n ongeëwenaarde eerlikheid uit te beeld. Germandt Geldenhuys (Binnelanders) se vertolking van die oordadige Ludolf met wie die kykers maklik sal kan identifiseer, beloof om vir verskeie komiese oomblikke te sorg. Beer Adriaanse (Wonderlus) probeer regtig hard om die rol van Korporaal Crunchie intimiderend en temperamenteel te vertolk, maar nes Dominee Koch in die film daarop wys, kom hy egter dikwels nog steeds sag en teenstrydig voor.

Die oorspronklike musiek deur Charl-Johan Lingenfelder wat uit kontrasterende musiekgenres vanaf Boy George tot gewyde kerksang strek, lewer ’n onontbeerlike bydrae om die hoofkarakter op sy reis na selfontdekking te begelei. Die aweregse musieksekwense waartydens Johan in ’n trourok deur die strate paradeer, slaag ongetwyfeld daarin om die dramatiese effek van sy interne stryd rondom sy ware identiteit te kan versterk. Die koor se verwerking van die lied, Nader My God By U, weerspieël die tydsgees van die tagtigerjare in Suid-Afrika toe homoseksualiteit nog ’n groot skandvlek gedra het.

Daar word verskeie sentrale temas soos die ontnugtering van selfontdekking asook die begeerte na aanvaarding, vergifnis en genesing ondersoek wat beslis daarin slaag om ’n geloofwaardige stem aan lede van die LGBTQ gemeenskap te kan verleen. Die onverskrokke benadering en brutale eerlikheid waarmee iemand se ware lewensverhaal oorgedra word, sal ongetwyfeld verskeie debatte sowel as meningsverskille by die algemene publiek ontlok. Kanarie wat aan die Amerikaanse film, Call Me By Your Name herinner, sal slegs aanklank vind by diegene wat bereid is om hulle gemaksone te verlaat en die ongenaakbare waarheid rondom homoseksualiteit in die gesig te staar.