Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Krotoa: Tragiese heldin vasgevang tussen twee kulture

yellowyellowyellowyellowyellow

Tydsduur: 122 minute
Ouderdomsbeperking: 13SV
Genre: Historiese Drama
Vervaardiger: Penguin Films
Regisseur: Roberta Durrant
Draaiboek: Kaye-Ann Williams & Margaret Goldsmid
Musiek: Murray Anderson
Kinematografie: Greg Heimann
Redigering: Maryke Kruger
Rolverdeling: Crystal-Donna Roberts, Armand Aucamp, Jacques Bessenger, Roeline Daneel, Deon Lotz, Marcel van Heerden, Brendon Daniels, Ernest St. Clair

Krotoa vertel die verhaal van hoe ’n elfjarige Khoi-prinses van haar stam weggeskeur word om vir haar oom, Autshumao oftewel Herrie Die Strandloper se handelsvennoot, Jan van Riebeeck te gaan werk. Hierdie dapper vrou word ’n invloedryke tolk tussen die Nederlanders en haar eie mense van die Goringhaicona stam, maar word uiteindelik deur albei nasies verwerp nadat sy tevergeefs probeer om dié twee kulture met mekaar te versoen. Dié geskiedkundige drama oor ’n tragiese heldin se onuitwisbare invloed op die hedendaagse multikulturele samelewing van Suid-Afrika beloof om filmgangers op ’n onvergeetlike avontuur na vervloë tye te neem.

Margaret Goldsmit en Kaye-Ann Williams maak hulle debuut as draaiboekskrywers met hierdie aangrypende verhaal wat allermins in ’n dokumentêre styl verval ten spyte daarvan dat dit deur ware gebeure geïnspireer is. Hulle postmoderne aanslag tot Krotoa is baie duidelik sigbaar in hul gebruik van haar aankoms as gevangene op Robbeneiland vir die openingstoneel waarna haar lewensverhaal terugskouend in drie dele vertel word.

Charis Williams lewer oortuigende spel as die 11-jarige Krotoa, maar dis egter Crystal-Donna Roberts van The Endless River faam wat as die volwasse Krotoa kykers se harte gaan steel. Brendon Daniels van Die Rebellie van Lafras Verwey faam verdien ook spesiale vermelding vir sy vertolking van haar oom, Herrie Die Strandloper. Armand Aucamp en Jacques Bessenger van Ballade vir ’n Enkeling faam wat onderskeidelik die rolle van Jan van Riebeeck en Pieter van Meerhof vertolk, lewer oudergewoonte onverbeterlike spel.

Roberta Durrant, skepper van verskeie televisiereekse soos Home Affairs en Ring of Lies se ervare regisseurshand blyk duidelik uit die noukeurige wyse waarop historiese figure vertolk word. Die kinematograaf, Greg Heimann se gebruik van wye vestigingskote wat tussen horisontale en hoog-bo hoeke wissel, beklemtoon hoe Krotoa aan die omstandighede van daardie tyd uitgelewer was. Die deurlopende voorkoms van donker beligting help nie net om die dramatiese ondertoon van die betrokke tonele te versterk nie, maar ook om die somber atmosfeer van hierdie film as ’n geheel vas te vang.

Die geloofwaardige wyse waarop die eerste fort, die dorpie en die tronk uitgebeeld word, getuig van weldeurdagte navorsing deur die kunsregisseur, Edward Liebenberg. Die kostuumontwerp van Emma Moss in samewerking met Francois Rademeyer se keuses vir die hare en grimering van elke karakter slaag daarin om die filmgangers moeiteloos na die laat sewentiende eeu te verplaas. Die oorspronklike musiek wat deur Murray Anderson gekomponeer is, slaag daarin om die tragiese lewensreis van Krotoa oftewel Eva op ’n besonder treffende wyse oor te dra.

Hierdie klassieke tragedie oor ’n vrou wat alles in die stryd gewerp het om ’n midde-weg tussen twee wêrelde te vind, bied ’n baie kragtige boodskap waarmee alle vroue sal kan identifiseer. Die universele temas soos identiteit en die onvermoë van die mens om in te pas asook vergifnis en versoening wat hierin aangespreek word, is veral binne ons huidige sosio-politiese konteks geweldig relevant. Krotoa bied ‘n aangrypende blik op ’n vergange era wat ongetwyfeld by enige Suid-Afrikaner aanklank sal vind, ongeag van watter nasie jy ook al afkomstig is.