Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Leon van Nierop se fliekresensie: Pain and Glory

Deur Leon van Nierop

Wat gebeur as ’n seun, wat onbewus is van sy seksualiteit, op ’n ontvanklike ouderdom besef wat begeerte is? Die ervaring is so intens, dat die kind sy bewussyn verloor van skone baldadige verwondering. Hierdie bewuswording en self-ontdekking oorweldig die gehoor.

Berei jou voor op ’n fees van die oë. Nie noodwendig ooglekkergoed nie, maar ’n stimulasie van die sintuie. Dié flambojante bossiekop-rolprentmaker hou van helder kleure. Lakens was nog nooit so engel-wit en vol herinneringe nie. En ’n kralegordyn lyk soos ’n rolprent-reënboog.

Rooi is nog een van Almodóvar se gunsteling-kleure. Hy onthou veral in rooi hoe ’n ontluikende filmmaker ’n medium ontdek het wat suurstof aan sy siel bied en hom laat verstaan het dat film lewe is. Dit definieer wie hy is en praat ’n kragtige taal. In plaas van ’n kwas, verf hy nou met beelde.

Al klink dit dalk baie geleerd en hoogdrawend, is dit nie die geval nie. Pain and Glory is een van Almodóvar se mees toeganklike en vermaaklike films.

Hy besin oor ’n rolprentmaker, (dalk hy self?), knap onderspeel deur Antonio Banderas, wat na 32 jaar vrede maak met ’n dwelmverslaafde akteur, gespeel deur Asier Etxeandia.  Salvador probeer Alberto (Etxeandia) oorhaal om hul gerestoureerde rolprent voor ’n gehoor aan te bied.  Maar twee vulkane bots en herinneringe spoel soos water oor humeure.

Water is ’n sentrale motief wat die gedagtestroomtegniek verteenwoordig. Tonele speel af wanneer hulle nodig is, nie soos ’n draaiboekstruktuur vereis nie.

Salvador se grootste probleem is om vrede te maak met sy ma (Penelope Cruz) wat nooit gepraat het oor haar seun se seksualiteit nie. Sy spreek dit aan voordat sy stilweg na die anderkant oorstap in een van die mees aandoenlike tonele wat nog op film verewig is. Ander temas soos politieke onderdrukking onder Generaal Franco, sosiale probleme, kuns wat emosies uitbeeld en die hantering van fisieke en innerlike pyn, word ook aangespreek.

Die doel van pyn – dus die verstaan van jouself deur jou emosies in film te verwerk, vorm nog een van die temas in hierdie aandoenlike, verbluffende kommentaar op die krag van film en huldeblyk aan menswees.