Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Liewe Lisa: Waarheen jou hart jou lei

Tydsduur: 96 minute
Genre: Drama, Romanse
Ouderdomsbeperking: 13 DLS
Vervaardiger: Johan Tobias Cronjé
Regisseur: Hendrik Cronjé
Draaiboek: Hendrik Cronjé
Musiek: Danie du Toit
Kinematografie: Johan Pieter Nel, Ebert Steyn
Redigering: Hendrik Cronjé
Rolverdeling: Hendrik Cronjé, Elani Dekker, Marco Spaumer, Albert Maritz, Barbara-Marie Immelman, Zane Meas, Altus Schreuder, Stian Bam, Crystal-Donna Roberts, Johannes Nel

Liewe Lisa vertel die verhaal van hoe ’n aspirant skrywer, Daniël daarin kon slaag om met die hulp van ’n eenvoudige visserman, Tom sy ware potensiaal te bereik nadat die koers van sy lewe heeltemal ontspoor het. Dié rigtinglose jong man het tydens sy finale jaar op universiteit in ’n buite-egtelike verhouding betrokke geraak met Michelle, die vrou van ’n invloedryke sakeman, Frans waarna hy later ook op dieselfde sakeman se dogter, Lisa verlief raak. Dié innoverende romantiese drama oor die sorgelose vryheid van die jeug en die ongenaakbare grootword proses beloof om kykers saam met Daniël op ’n ontnugterende selfontdekkingsreis te neem.

Hendrik Cronje wat vir sy rol as Lukas Mulder in 7de Laan bekendheid verwerf het, vertolk nie slegs die hoofrol van Daniël nie, maar maak nou ook sy debuut as ’n draaiboekskrywer, regisseur en redigeerder. Elani Dekker wat kykers in Jou Romeo en Vaselinetjie leer ken het, verras met ’n natuurlike vertolking van die titelrol, Lisa wie ongetwyfeld baie diep in kykers se harte gaan inkruip. Zane Meas wat veral as Neville Meintjies in 7de Laan bekend is, verdien egter ook spesiale vermelding vir die deernisvolle wyse waarop hy die rol van Tom vertolk.

Die postmoderne draaiboek waarin die hoofkarakter, Daniël ook as ’n verteller optree, maak van voortdurende terugflitse gebruik om sodoende meer lig op sy verlede te werp. Die gebruik van verskeie minder tradisionele storie vertel tegnieke veroorsaak dat die lyn tussen fiksie en realiteit geleidelik al hoe meer vervaag soos die rolprent vorder. Hendrik se effens onervare regisseurshand is geneig om ’n gebrek aan geloofwaardigheid en motivering in elkeen van die akteurs se vertolkings van hulle onderskeie karakters teweeg te bring.

Johannes Pieter Nel wat tydens die 2018 kykNET Silwerskermfees as die Beste Kinematograaf vir sy kortfilm, Benjamin aangewys is, was saam met Ebert Steyn verantwoordelik vir dié film se kinematografie wat deur verskeie hoog-bo en wye skote gekenmerk word. Die karakters se soeke na hulleself word voortdurend beklemtoon deur die kamera wat hul elkeen telkemale van agter volg. Hendrik maak tydens die redigeringsproses van verskeie redigeringstegnieke, insluitende in- en uit-dowing asook kruis-dowing in die slottoneel gebruik.

Danie du Toit, die stigterslid van die veelbekroonde alternatiewe groep, Spoegwolf het die oorspronklike musiek vir Liewe Lisa gekomponeer, insluitende Lenie Blou en Die Rivier wat die misterieuse ondertoon van hierdie film nog verder versterk. Dialoog tussen die karakters is dikwels oorbodig tydens tonele waar hulle emosies slegs deur middel van dié musiek oorgedra word.

Hierdie film wat deur The Graduate geïnspireer is, spreek van ’n sintetiese en eklektiese filmstyl soos duidelik blyk uit die uiteenlopende aantal vertel tegnieke en redigeringstyle wat daarin aangetref word. Alhoewel dié film deur jongmense vir jongmense gemaak is, sal kykers van enige ouderdom daarmee kan vereenselwig, veral diegene wat al die pyn van ontrouheid en gebroke verhoudings eerstehands ervaar het. Liewe Lisa met sy pragtige atmosferiese skote asook talle liefdesdriehoeke sowel as verskeie ligte komiese oomblikke sal aanklank vind by enigeen wat al ooit ernstige onsekerhede rakende hulle toekomsplanne beleef het.