Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Meerkat Maantuig: ’n Betowerende reis na vryheid

Tydsduur: 95 minute
Ouderdomsbeperking: 10-12 PG
Genre: Fantasie, Drama
Vervaardigers: André Scholtz en Dries Scholtz
Regisseur: Hanneke Schutte
Draaiboek: Hanneke Schutte
Musiek: Clare Vandeleur
Redigering: Warwick Allan
Kinematografie: Willie Nel
Rolverdeling: Anchen du Plessis, Themba Ntuli, Pierre van Pletzen, Rika Sennett, Drikus Volschenk, Hanlé Barnard

Meerkat Maantuig vertel die verhaal van hoe ’n vreesbevange dertienjarige meisie, Gideonette de la Rey na haar pa se dood besef dat sy die enigste oorlewende lid van haar familie met dié vervloekte familienaam is. Sy ontmoet op haar grootouers se plaas in Magoebaskloof ’n jong, dowe seuntjie, Bhubesi wat met behulp van sy tuisgemaakte maantuig haar probeer oorreed om van haar grootste vrese in die gesig te staar. Hierdie eienaardige reis van woordelose vriendskap waarop hulle twee gaan, beloof om kykers opnuut te laat nadink oor al die stories wat hulle lewens definieër en dikwels ook beperk.

Die talentvolle Hanneke Schutte van Jimmy In Pienk-faam was verantwoordelik vir die draaiboek sowel as die regie van hierdie betowerende verhaal wat oorspronklik deur Riana Scheepers se jeugnovella, Blinde Sambok geïnspireer is. Gideonette word as ’n eerstepersoonsverteller gebruik deur wie se oë die kykers rigtinggewende gebeurtenisse soos haar eie doop, haar pa se begrafnis en die maantuig se lansering kan waarneem.

Karakters word meestal vanuit ’n lae hoek van agter afgeneem waardeur hulle nabyheid aan die moontlike gevaar rondom hul gesuggereer word. Warwick Allen se weldeurdagte redigering slaag ongetwyfeld daarin om die onderskeie verbeeldingswêrelde van die karakters en die gehoor tot ’n oortuigende eenheid te versmelt.

Die bekroonde kinematograaf, Willie Nel maak van verskillende kleure lense gebruik om die magiese trefkrag van hierdie fantasie aansienlik te verhoog. Die byna wasige effek wat dit aan die film verleen, word gebruik om uit te beeld hoe die karakters se vrees vir die vloek eintlik ’n sluier oor hulle rasionele beskouïng van die werklikheid trek. Hierdie film word deur oorwegend donker tonele gekenmerk met slegs die enkele lig wat deur ’n bedlampie, flitslig, motor se ligte, maantuig se liggies en lig deur ’n venster verskaf word.

Meerkat Maantuig dien as ’n spoggerige vertoonvenster vir die opkomende jong talent van Anchen du Plessis wat al haar buiging in Vaselinetjie gemaak het en Themba Ntuli wat sy debuut in dié film maak. Uitmuntende spel deur veterane soos Pierre van Pletzen en Rika Sennett wat die rolle van oupa Willem en ouma Koekie onderskeidelik vertolk, verdien egter ook spesiale vermelding.

Die oorspronklike musiek vir Meerkat Maantuig wat deur die talentvolle jong komponis, Clare Vandeleur vir hierdie film gekomponeer is, lewer ’n onontbeerlike bydrae tot die intensiteit van bepaalde tonele daarin. Verskeie musiekinstrumente soos die Franse horing, trompet, viool, tjello en klavier word ingespan om die onheilspellende sowel as die sombere atmosfeer van hierdie misterieuse verhaal te versterk.

Dié donker sprokie wat aan fantasiefilms soos Moonrise Kingdom en The Secret Garden herinner, spreek tot ’n veel wyer gehoor as net kinders tussen die ouderdomme van tien en agtien jaar. Die sentrale tema wat hierin aangespreek word, is die wyse waarop vrese en beperkende geïnternaliseerde oortuigings van mense oor hul persoonlike vermoëns hulle verhoed om hul volle potensiaal te kan uitleef. Meerkat Maantuig met sy elemente van magiese realisme asook aangrypende rillertonele en emosiebelaaide onsekerhede sal aanklank vind by elkeen wie se lewe al ooit deur vrees oorheers is.