Moffie: ’n Brutale blik op onderdrukte emosies

Tydsduur: 104 minute
Ouderdomsbeperking: 18
Genre: Oorlogsdrama
Vervaardigers: Eric Abraham, Jack Sidey, Thèrésa Ryan-van Graan
Regisseur: Oliver Hermanus
Draaiboek: Oliver Hermanus, Jack Sidey
Musiek: Braam du Toit
b>Kinematografie: Jamie Ramsay
Redigering: Alain Dessauvage
Rolverdeling: Kai Luke Brümmer, Ryan de Villiërs, Matthew Vey, Stefan Vermaak, Hilton Pelser, Wynand Ferreira, Hendrik Niewoudt, Shaun Chad Smit, Rikus Terblanche, Ludwig Baxter, Mitchell Christy, Jan Combrink

Moffie vertel die verhaal van hoe ’n 16-jarige Engelse dienspligtige, Nicholas van der Swart, in 1981 gedurende die Apartheidsjare in Suid-Afrika probeer het om die alledaagse wreedheid van die weermag, te midde van sy persoonlike stryd met homoseksualiteit, te oorleef. As ’n gay jongman, was hy net soveel van ’n bedreiging as die sogenaamde “Swart Gevaar” wat deur ’n blanke minderheid se patriargale Apartheidsregering tydens die Grensoorlog uitgewis of onderdruk moes word. Dié internasionaal-bekroonde oorlogsdrama, wat reeds by verskeie filmfeeste regoor die wêreld vertoon is, beloof om ’n stem te verleen aan alle mans, wat nie aan hulle emosies uiting kan gee nie en dan gevangenes word van dit wat hul nie kan sê nie.

Oliver Hermanus en Jack Sidey, die vervaardigers van Moffie, slaag met hulle verwerking van André-Carl van der Merwe se gelyknamige outobiografiese roman tot ’n kragtige draaiboek daarin om ’n ontstellende portret van die Afrikanervolk se psige te skets. Hierdie aangrypende verhaal wat vanuit die sogenaamde gay perspektief vertel word, is chronologies behalwe vir ’n enkele terugflits na Nicholas se kinderjare om vir kykers te wys hoekom hy geleer het om sy oë van mans weg te draai. Hy praat deurlopend baie meer met sy oë as sy lippe wat veroorsaak dat dialoog in dié draaiboek deurlopend uiters spaarsamig gebruik word, maar wanneer dit wel daarin voorkom, is dit meestal met onophoudelike vloekwoorde gevul.

Moffie se buitengewone jong ensemble-rolverdeling stel heelwat nuwe talent soos Kai Luke Brümmer, Ryan de Villiërs, Matthew Vey, Stefan Vermaak, Hilton Pelser, Wynand Ferreira, Hendrik Niewoudt, Shaun Chad Smit, Rikus Terblanche, Ludwig Baxter, Mitchell Christy en Jan Combrink bekend. Eersgenoemde se sagte, teer en selfbeheersde vertolking van die hoofkarakter, Nicholas van der Swart, wat ten spyte van sy baie subtiele weerstand teen die Apartheidsregering se oorheersend patriargale benadering self ook daaraan deelneem, is diep ontroerend. Elkeen van hierdie relatief onbekende akteurs, wat emosioneel sowel as fisiek tot die uiterste beproef word, lewer egter almal gesoute en subtiele vertolkings van hul onderskeie karakters onder Oliver Hermanus van Skoonheid faam se sensitiewe regie.

Jamie Ramsay van The Endless River faam se genuanseerde kinematografie word deur handgedrewe nabyskote gekenmerk, waardeur elke skielike beweging die bedreiging van moontlike geweld inhou. Die visuele prag van sy dromerige en sonverbleikte kinematografie vorm ’n sterk kontras met die afgryse van troepe se persoonlike trauma en die beknoptheid van hulle leefwêreld wat op kamera vasgevang word. Verskeie kameraskote van die seuns se jong, naakte, viriele en swetende liggame verleen vergestalting aan Nicholas se openlike nuuskierigheid en verbode begeertes terwyl hy sy mede-dienspligtiges onderlangs dophou.

Die meesleurende klankbaan deur Braam du Toit van Tornado and the Kalahari Horse Whisperer faam slaag daarin om die gruwelikheid van die troepe se fisiese en emosionele aftakeling op verskillende tye te versterk of verligting daarvoor te voorsien. Sy betowerende musiek word egter deur verskeie bekende klassieke werke van Johann Sebastian Bach, Antonio Vivaldi en Charles Edward Ives aangevul om sodoende hierdie byna koorsagtige atmosfeer te versterk. Die Amerikaanse sagte rock-groep, Seals and Crofts se 70’s-treffer, Summer Breeze, is heel gepas ingespan as agtergrondmusiek vir die hartstogtelike terugflits na ’n vormende oomblik in ’n jonger Nicholas se seksuele ontwaking. Hierdie film word op ’n hoogtepunt afgesluit deur Ben Ludik van Vaselinetjie faam se gestroopte herskepping van Sugar Man, Sixto Diaz Rodriguez se 80’s-treffer oor hunkering en ontsnapping, waaraan die ryk alt-stem van Rebekah Thompson reg laat geskied. 

Onregverdigheid, wreedheid, onsekerheid, bespotting, vernedering, uitermatige dissipline, indoktrinasie, terrorisme, diskriminasie en homofobie is sentraal-onderliggende temas, wat in hierdie omstrede film aangespreek word. Hoewel nabootsings van verskeie bekende tonele vanuit Top Gun (1986) en Full Metal Jacket (1987) hierin voorkom, herinner die idealsering van die gespierde manlike liggaam se jukstaposisionering met die uitmergelende militaristiese opleiding grotendeels aan Beau travail (1999). Moffie is beslis ’n grensverskuiwende film, wat deur elke Suid-Afrikaner gesien behoort te word, maar die kru-taal, eksplisiete geweld, sielkundige marteling en sterk vooroordeel maak dit ’n hoogs uitdagende kykervaring.