Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Nommer 37: Die anner kant vannie (ver)kyker

Tydsduur: 110 minute
Genre: Misdaadriller
Ouderdomsbeperking: 16 DLV
Vervaardigers: Benjamin Overmeyer, Bradley Joshua
Regisseur: Nosipho Dumisa
Draaiboek: Nosipho Dumisa
Musiek: James Matthes
Kinematografie: Zenn van Zyl
Redigering: Simon Beesley
Rolverdeling: Irshaad Ally, Monique Rockman, Ephraim Gordon, Sandi Schultz, Danny Ross, David Manuel, Elton Landrew, Deon Lotz

Wat gebeur in die woonstel Nommer 37? Die film bekyk ooglopend die misdaad en dwelmhandel op die Kaapse Vlaktes van naby, deur Randal se eie ervarings en die situasie waarin hy homself bevind, en wat hy alles van ver, deur ’n verkyker sien. Dié film speel af in ’n fiktiewe woonstelblok genaamd Haven Mansions op die Kaapse Vlaktes. Die verhaal word vertel vanuit die perspektief van Randal, ’n verbitterde eks-krimineel en parapleeg wie kniediep in die skuld staan en wat in sy desperate pogings om ’n netelige lot vry te spring ’n kat-en-muis speletjie met ’n gevaarlike bendeleier speel.

Die bekroonde regisseur, Nosipho Dumisa wat een van die eerste swart narratiewe rolprentmakers in Suid-Afrika is, maak haar debuut as die regisseur van ’n vollengte speelfilm met Nommer 37 wat sy en Travis Taute aanvanklik in 2014 as kortfilm vir die kykNET Silwerskermfees ingeskryf het. Dié film dra baie sterk sosiale temas (soos dwelms, bendes, vrees, gierigheid) in hul brutaliteit en strak eerlikheid oor.

Irshaad Ally (wat die hoofkarakter, Randal Hendricks speel) vertolk die rol van ’n gebroke man met ’n begeerte tot ’n beter lewe geloofwaardig. Irshaad se eie ervaring van ’n laaitie wat op die Kaapse Vlaktes groot geword het en ook moeilike tienerjare beleef het (hy het nooit skool klaargemaak nie, het betrokke geraak by die verkeerde mense, het dwelms gebruik en is gearresteer) dra aansienlik by tot egtheid van sy vertolking van Randal Hendricks.

Die byspelers lewer egter nie ten alle tye ’n geloofwaardige vertolking van hul karakters sowel as hul omstandighede nie. Monique Rockman wat Randal se meisie, Pam speel, hou iets van haar karakter terug en dit voel by tye asof sy Pam sterker kon speel. David Manuel (Noem My Skollie) speel sy karakter, Lawyer, die berekende en genadelose dwelm- en wapensmokkelaar, met intensiteit. Danny Ross (24 Hours to Live) se vertolking skep die indruk dat hy die tipiese identiteit van ’n bendeleier of geldskieter aanneem sonder dat hy sy eie stempel daarop afdruk.

Die film gebruik verder klank om tot in die gehoor se bewussyn te boor. Oorheersende stilte neem die kykers se gedagtes oor wat hulle op die gebeure laat reflekteer. Dit dui ook Randal se gemoedstoestand aan. Na hierdie stilte is daar nie ’n stelselmatige oorgang tot dialoog nie, maar onmiddelike dialoog wat die kykers se aandag weer verskuif. Hierdie klankbaan word uitgeken aan James Matthes se ontradisionele benadering tot ’n tradisionele rolprentstyl.

Nommer 37 volg die tipiese resep van ’n misdaadriller: ’n Man met ‘n plan wat misluk, ’n netelige situasie, die protagonis wie proaktief in plaas van reaktief reageer, ’n tweestryd met gereg en “dala wat jy moet doen”. Tog, bly die film eg Suid-Afrikaans met sy milieu wat in die Kaap gevestig is en die temas wat dit aanspreek asook kras realiteite sowel as die waarheid van misdaad: die wat sien, hou hulself blind of korrup. Tot en met die laaste toneel word die kyker geboei met die storie van ’n sterker motief as net geld en ’n dieper begeerte as ’n beter lewe. Dié film is nou nie elke man se film nie, maar as jy hou van misdaad, rillers, bloed en die brutaliteit van die wêreld is dit definitief die kyk werd.