Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Nul Is Nie Niks Nie: Groot potensiaal ten spyte van terugslae

yellowyellowyellowyellowgray

Tydsduur: 101 minute
Ouderdomsbeperking: 7-9 PG
Genre: Drama
Vervaardigers: Red Head Productions & Faith In Motion Pictures
Regisseur: Morné du Toit
Draaiboek: Lizé Vosloo
Musiek: Geo Höhn
Redigering: Robert Dos Santos & Marius Rodrigues
Rolverdeling: Jaden van der Merwe, Pieter Louw, Daniah de Villiërs, Reine Swart, Luan Jacobs, Antoinette Louw, Morné du Toit, Marisa Drummond, Francois Jacobs, Kim Syster, June van Merch, Rafiq Jajbhay, Bradley Olivier

Nul Is Nie Niks Nie vertel die verhaal van hoe drie vriende, Drikus (Brad), Martin (Hoender) en  Christine (Chris) te werk gaan om eersgenoemde se laaste wens te bewaarheid om ’n zombie fliek te maak. Hulle verfilmingsproses stel hul nie slegs in staat om van skoolboelies, Drikus se oorbeskermende ouers en Hoender se kluisenaarma te ontsnap nie, maar ook om nuwe lewe in hulle gevrekte dorpie te blaas. Dié bemoedigende film oor die lewe, die dood en alles tussen-in beloof om oud en jonk te laat nadink oor wat nou eintlik sin en betekenis aan die lewe gee.

Lizé Vosloo maak haar debuut as draaiboekskrywer met ’n uitmuntende verwerking van Jaco Jacobs se gewilde jeugverhaal, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word. Daar word voortdurend tussen die chronologiese verloop van die gebeure en die karakters se persoonlike vertellinge daarvan op kamera gewissel om dit meer interaktief vir ’n jonger gehoor te maak. Dit bevat verskeie intertekstuele verwysing na nasionale sowel as internasionale rolprentvervaardigers en -regisseurs soos onder andere Jamie Uys en Stanley Kubrick se bekendste werke.

Die kinematograaf, Eduan Kitching van Die Pro faam slaag daarin om met sy wye, draaiskote asook sy lugskote van Waterval-Boven se landskap die algehele gevoel van moedeloosheid en verlatenheid onder die gemeenskap te beklemtoon. Die vinnige tempo van Robert Dos Santos en Marius Rodrigues se redigering en hul gebruik van spesiale effekte vir ’n videokamera lens verleen ’n eietydse gevoel aan dié film. Morné du Toit van Hoofmeisie faam het hom uitstekend van sy taak as regisseur gekwyt soos dit uit veral die jonger spelers se briljante vertolkings blyk.

Nul Is Nie Niks Nie spog met ’n splinternuwe vonds jong talent, naamlik Jaden van der Merwe, Pieter Louw en Daniah de Villiërs wat onderskeidelik die rolle van Hoender, Drikus en Chris vertolk. Die geloofwaardige vertolking van Hoender se kluisenaarma, Trisa deur Antoinette Louw van ’n Man Soos My Pa en Die Laaste Tango faam verdien ook spesiale vermelding. Dis egter June van Merch wat in haar kameerol as die koddige tannie Hantie die kollig steel.

Die oorspronklike musiek wat deur Geo Höhn van Treurgrond en Uitvlucht faam gekomponeer is, laat ongetwyfeld reg geskied aan die swaarmoedige atmosfeer wat oor die karakters en die ligging heers. Die temalied, Nooit te laat deur Faraway George slaag daarin om die somtotaal van hoop perfek vas te vang presies soos dit ook in dié inspirerende drama uitgebeeld word. Len Muller, Bouwer Bosch, Jeremy Loops en Bazil is van die ander kunstenaars wat ook op hierdie klankbaan gehoor kan word.

Hierdie ietwat byderwetse jeugfilm oor hoop, hoenders en natuurlik zombies, is beslis die eerste van sy soort in Afrikaans. Die kortstondigheid van die lewe en die finaliteit van die dood is onder andere van die temas wat hierin aangespreek word. Nul Is Nie Niks Nie sal met sy kombinasie van wiskundige metafore, dramatiese oomblikke en talle persoonlike deurbrake aanklank vind by elkeen wat nog steeds in nuwe hoop en tweede kanse glo.