Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Oorlewing C-Blok: ’n Winkeltrollie vol lewenservaring

Tydsduur: 72 minute
Ouderdomsbeperking: 16L
Genre: Drama
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Monique Nortjé
Kinematografie: Philip van Zyl
Redigering: Natalie Varoy
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Pietie Beyers, Leandie du Randt Bosch, Elize Cawood, David James

Oorlewing – C-Blok vertel die verhaal van hoe ‘n hawelose vrou, Denise, wat gereeld met haar winkeltrollie vol negosieware by ‘n woonstelblok smous, daarin slaag om twee van die inwoners se lewens ingrypend te beïnvloed. Sy tree as bemiddelaar op tussen Daniël en Klara wie se lewens skynbaar nie volgens plan verloop nie, alhoewel sy self besig is om van geheime uit haar verlede te vlug. Hierdie aangrypende menslike drama, gevul met verskeie komiese oomblikke asook kosbare lewenswyshede, beloof om kykers so tussendeur al die skaterlag beslis ook ‘n traan of twee te laat wegpink.

Die draaiboek is gebaseer op die gelyknamige radiodrama deur Erica Harris waarvoor sy as Beste Jong Skrywer van die RSG/Sanlam Radiodrama Skryfkompetisie in 2017 bekroon is. Monique Nortjé wat voorheen by die skryf van die televisiereeks, Swartwater betrokke was, maak haar debuut as draaiboekskrywer van ‘n vollengte film met haar vernuftige verwerking van dié gesogte radiodrama tot ‘n boeiende televisiefilm.

Die regisseur, André Velts van Die Pro faam slaag met sy leiding aan die onderskeie akteurs ongetwyfeld daarin om elke karakter se broosheid so geloofwaardig as moontlik aan die kykers uit te beeld. Dié film spog met ‘n briljante rolverdeling bestaande uit Elize Cawood (Lien Se Lankstaanskoene), Pietie Beyers (Sy Klink Soos Lente), Leandie du Randt (Vuil Wasgoed) en David James (Pad Na Jou Hart). Eersgenoemde verdien egter spesiale vermelding vir haar vertolking van die eksentrieke Denise waarmee sy daarin slaag om aan haar donker sowel as ligte kant reg te laat geskied.

Philip van Zyl se kinematografie word gekenmerk deur verskeie skote vanuit ‘n hele aantal uiteenlopende hoeke op die woonstelblok asook gesprekke tussen verskillende karakters, afhangende van die perspektief waaruit dit op ‘n bepaalde tydstip waargeneem word. Die beligtingstegnikus, Grant van Vuuren maak hoofsaaklik gebruik van donker beligting binne Daniël en Klara se onderskeie woonstelle as ‘n aanduiding van die onderliggende spanning wat tussen hulle aan die broei is. Natalie Varoy maak van ‘n byna soomlose redigeringstyl gebruik met die uitsondering van die enkele tonele waartydens die beeld in- en uitgedoof word om sodoende die dramatiese effek van die betrokke gebeure te verhoog.

Die mure van die C-Blok waarin Daniël en Klara woon, kan as simbool beskou word van die figuurlike mure wat hulle twee onderskeidelik rondom hulself gebou het om hul teen verdere seer- en swaarkry te kan beskerm. Die oormatige gebruik van vloektaal in hulle dialoog mag sensitiewe kykers moontlik ontstel, maar versterk die geloofwaardigheid van die emosionele pyn waarmee hul elkeen onderskeidelik worstel. Die sentrale tema wat deur hierdie film aangespreek word, is die wyse waarop die spreekwoordelike mure rondom mense hulle onderlinge verhoudinge met mekaar positief of negatief kan beïnvloed.

Dié besonder eerlike film skroom glad nie skroom om moeilike en dikwels selfs ongemaklike vrae oor die sin en betekenis van die lewe aan die kykers te rig nie. Oorlewing C-Blok met sy winkeltrollie vol lewenservaring waardeur die mure tussen mense afgebreek word, sal beslis aanklank vind by enigeen wie se vertroue al ooit deur hul medemens geskend is.