Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Playboyz: Onkonvensionele planne om geld te maak

Deur Leoné Prinsloo en Fanie Nel

Tydsduur: 68 minute
Ouderdomsbeperking: 16L
Genre: Komedie
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: Marisa Drummond
Draaiboek: Deon Opperman
Kinematografie: Darren Dressels
Redigering: Juvan Redelinghuys
Musiek: Dirk van der Westhuizen, Stefan Ludik, Johan Vorster
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Tiaan Rautenbach, Stefan Ludik, Wynand van Vollenstee, Louis Minnaar, Anlia van Rensburg, Deidré Wolhuter, Deanré Reiners, Natania van Heerden, Lynelle Kenned, Arno Greeff, Arno Marx, Gert van Niekerk

Playboyz vertel die verhaal van hoe vyf vriende, Mike, Ryno, Rollie, Sean en Emma deur hulle onderskeie finansiële probleme gedwing word om op ’n effens meer onortodokse wyse geld in te samel. Mike se sakevennoot het hom ingedoen, Sean se pa het hom onterf nadat hy sy studies gestaak het, Rollie se skuldeisers blaas in sy nek, Ryno se eksmeisie dagvaar hom vir meer onderhoud en Emma wag nog op haar groot deurbraak as aktrise. Dié komiese film met sy sterk seksuele ondertoon beloof om die kykers nie slegs behoorlik te laat skater van die lag nie, maar ook vir hulle iets aanloklik vir die oog te bied.

Deon Opperman het dié gelyknamige toneelstuk wat hy saam met Garth Holmes geskryf het in ’n pittige draaiboek propvol kwinkslae vir die klein skerm verwerk. Dit bevat onder meer verskeie intertekstuele verwysings na gesagsfigure soos Donald Trump, Cyril Ramaphosa en Nelson Mandela wat deur die karakters aangehaal word om aan hulle emosies uiting te gee. Die karakters se dialoog word egter deurlopend deur verskeie vloekwoorde sowel as subtiele seksuele opmerkings gekenmerk wat sensitiewe kykers moontlik kan ontstel.

Playboyz spog met ’n sterbelaaide rolverdeling, insluitende Stefan Ludik (Trouvoete), Deànré Reiners (Verskietende Ster), Arno Greeff (Vaselinetjie), Anlia van Rensburg (Agent 2000: Die Laksman) en Lynelle Kenned (Wonderlus). Dis egter Wynand van Vollenstee (Platteland) se meesterlike vertolking van Rollie van der Merwe, die glibberige sakeman met sy koddige sêgoed, verdraaide idiome, ongevraagde advies en onrealistiese drome wat die kollig steel.

Die kinematograaf, Darren Dressels maak van nabyskote op die karakters se gesigte en lywe tydens hulle oefensessies gebruik om hierdie film se seksuele ondertoon op ’n baie subtiele wyse aan die kykers oor te dra. Die beligtingstegnikus, Grant van Vuuren maak van ’n lae sleutelbeligting met ’n pers lens filter tydens die karakters se optrede binne die fiktiewe kroeg, Doppies gebruik om die geloofwaardigheid daarvan te versterk.

Die regisseur, Marisa Drummond van Getroud met Rugby faam en die choreograaf, Ignatius van Heerden het hulleself uitstekend van hul taak gekwyt om die toneelspel, drama en musiek tot ’n natuurlike eenheid saam te bind. Hierdie film se klankbaan bestaan uit EDEN se legendariese treffer, Lyf Teen Lyf en Dirk van der Westhuizen se immergewilde snit, Gooi Jou Suiker Op My wat as musiek vir die karakters se dansroetines ingespan word. Stefan Ludik se alter ego, Elvis Se Seun sorg verder vir die nodige boere-rock met sy treffer, Moenie terug hou sowel as sy duet saam met Chané Valentine, Kry my op die dansvloer.

Dié effens opspraakwekkende film waarin aktuele kwessies soos sekssisme aangespreek word, slaag daarin om die stereotipe van vroulike kroegdansers behoorlik op sy kop te keer. Hierdie vyf vriende se reis herinner kykers opnuut daaraan dat ’n mens enige klip wat die lewe in jou pad mag rol met hope waagmoed en ’n tikkie vindingrykheid te bowe kan kom. Playboyz met sy opwindende kombinasie van komedie, dans en musiek sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit onverwagse uitdagings langs hulle lewenspad moes trotseer.