Poppie Nongena: Nimmereindigende moederliefde ken geen perke

Tydsduur: 106 minute
Ouderdomsbeperking: 13
Genre: Geskiedkundige Drama
Vervaardiger: Helena Spring
Regisseur: Christiaan Olwagen
Draaiboek: Saartjie Botha, Christiaan Olwagen
Kinematografie: Vicci Turpin
Redigering: Eva du Preez
Produksie-ontwerp: Birrie le Roux, Surisa Surisa
Kostuumontwerp: Sylvia van Heerden
Rolverdeling: Clementine Mosimane, Rolanda Marais, Anna-Mart van der Merwe, Dawid Minnaar, Thembalethu Ntuli, Aphiwe Sithole, Nomsa Nene, Deon Nebulane, Chris Gxalaba, Letlolo Zimkhita Mohlabeng

Poppie Nongena vertel die verhaal van hoe ’n Afrikaanssprekende Xhosa-moeder met die Apartheidsregering onderhandel om by haar man, Stone, asook hulle kinders, Bonisile, Thandi en Weekend in die Kaap te mag aanbly nadat sy deur onmenslike paswette weggejaag word. Sy word gedwing om haar huis te verlaat en haarself in ’n onafhanklike tuisland, Mdantsane naby Oos-Londen, te gaan vestig nadat sy jare lank by Ian en Antoinette Swanepoel, asook hulle twee dogters, Magriet en Chrissie, in Kaapstad gewerk het. Dié historiese periodefilm, wat met ’n allemintige veertien toekennings by die 2019 kykNET Silwerskermfees bekroon is, beloof om kykers op ’n ingewikkelde reis van introspeksie en selfondersoek te neem.

Christiaan Olwagen (Kanarie) en Saartjie Botha (Lien Se Lankstaanskoene) het Elsa Joubert se legendariese roman, Die Swerfjare van Poppie Nongena, tot ’n insiggewende draaiboek vir die silwerskerm verwerk. Dit fokus hoofsaaklik op die mees politiese en tragiese jaar in Poppie se lewe rondom Kersfees in 1976 gedurende die studente-onluste in Kaapstad, Sharpeville en Soweto, wat vanuit ’n persoonlike perspektief vertel word. Sentraal-onderliggende temas soos familie, liefde en innerlike konflik word aangespreek deur ondersoek in te stel na die dag-tot-dag lewe van ’n gewone vrou in buitengewone omstandighede, sowel as die botsende waardesisteme van verskillende generasies.

Hierdie film spog met ’n uitmuntende rolverdeling, insluitend Clementine Mosimane (Liefling Die Movie), Chris Gxalaba (Mandela and De Klerk), Anna-Mart van der Merwe (Dis koue kos, skat), Dawid Minnaar (Die Wonderwerker), Rolanda Marais (Die Seemeeu) en Nomsa Nene (Jump The Gun). Mosimane verdien egter staande toejuiging vir haar hartroerende vertolking van die hoofrol, Eunice “Poppie” Nongena, waarmee sy elke slagoffer tydens die destydse Apartheidsregering verteenwoordig.

Die bekroonde regisseur, Christiaan Olwagen, slaag ongetwyfeld daarin om kykers diep te ontroer met gesaghebbende vertolkings, wat hy uit sy rolverdeling put. Sy kenmerkende styl van lang, ononderbroke kameraskote en sekwense van tot 8 minute elk word gebruik om die belangrike aspek van tyd te beklemtoon soos Poppie as gevange van ’n tyd en pasboek, sowel as die “tyd is verby!”-aggressie en -dringendheid van oproerige studentebewegings.

Die kinematograaf, Vicci Turpin van Four Corners faam, verkry inspirasie van Italiaanse Neo-Realisme en hedendaagse natuurkundiges om kykers sodoende vanuit die oogpunt van die hede na die verlede van die 1970’s te laat kyk. Haar klem op natuurlike lig, asook die gebruik van ’n “easy rig” bied aan kykers ’n oorlogsdokumentêr se handgedrewe skote en ooghoogte gevoel, maar sonder om die noukeurigheid en beheer van “Steadicam” prys te gee.

Hierdie vreeslose Suid-Afrikaanse film oor die dapperheid, deursettingsvermoë en uiteindelike opstand van ’n matriarg te midde van uitdagings soos diversiteit en diskriminasie, is vandag nog steeds relevant ten spyte van Apartheid wat intussen afgeskaf is. Hoewel dit ’n moeilik verteerbare verhaal is, word Poppie se diepgaande liefdesverhouding met haar familie tog deur humor, hoop, sagtheid en vermaaklike insigte gekenmerk, wat oud en jonk sal inspireer. Poppie Nongena met sy delikate storievertelling, kunsgerigte skote en ongelooflike toneelspel, sal beslis aanklank vind by diegene wat al ooit in hul lewe met enige vorm van onreg of lyding gekonfronteer is.