Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Racheltjie de Beer: Ysige hand van die noodlot

Tydsduur: 105 minute
Ouderdomsbeperking: 10-12PG
Genre: Geskiedkundige Drama 
Vervaardiger: Johan Kruger
Regisseur: Matthys Boshoff
Draaiboek: Brett Michael Innes, Matthys Boshoff
Musiek: Chris Letcher
Kinematografie: Willie Nel
Redigering: Warwick Allen
Produksie-ontwerp: Chantel Carter
Kostuumontwerp: Sulet Meintjes
Rolverdeling: Stian Bam, Antoinette Louw, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Zonika de Vries, Seputla Sebogodi, Charlie Bouguenon, Beaté Opperman, Johannes Jordaan

Racheltjie de Beer vertel die legende van hoe die grofsmid, Herman de Beer, in 1843 met sy 12-jarige dogter, Rachel, en vyfjarige seun, Jamie, na die Witwatersrand goudvelde getrek het, slegs vyf jaar nadat hulle ma, Marie, oorlede is. Nadat hulle ossewa onklaar geraak het, vind hulle noodgedwonge verblyf by ’n bejaarde egpaar, George en Maria Lundt, asook hulle dogter, Sara, wat hulle aanraai om op hierdie afgeleë plaas, Tierkloof, aan te bly totdat die dreigende sneeu opgeklaar het. Dié geskiedkundige drama, met ’n ondertoon van verskeie sub-genres soos misterie, fantasie en gruwel, beloof om kykers nie slegs enduit te boei nie, maar ook onwillekeurig aan hulle nostalgiese hartsnare te pluk. 

Brett Michael Innes (Sink) het saam met die regisseur, Matthys Boshoff, sy gelyknamige topverkoper-roman tot ’n volwaardige filmdraaiboek ontwikkel. Dié avontuur-drama bevat verskeie magiese elemente met betrekking tot die taal van plante asook Racheltjie en haar oorlede moeder se verhouding wat ’n bykans spookagtige ervaring tot gevolg het. Boshoff maak met hierdie legendariese verhaal ’n indrukwekkende debuut as die regisseur van ’n vollengte film waardeur hy kykers uitnooi om empatie te hê met die onderskeie karakters. 

Racheltjie de Beer spog met ’n ensemble rolverdeling, insluitend Zonika de Vries, Johannes Jordaan, Stian Bam, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Antoinette Louw, Charlie Bouguenon, Seputla Sebogodi en Beaté Opperman. Bam (Modder en Bloed) is met die toekenning vir Beste Akteur by die 2019 kykNET Silwerskermfees bekroon vir sy briljante vertolking van die patriarg, Herman. De Vries (Dis koue kos, skat) en Louw (Die Laaste Tango) verdien egter ook albei spesiale vermelding vir die genuanseerde wyses waarop hulle onderskeidelik ’n meisie op die drumpel van adolessensie en ’n volwasse vrou met verydelde drome vertolk. 

Willie Nel (Meerkat Maantuig) se kinematografie word gekenmerk deur verskeie hoog-bo skote asook nabyskote van die karakters se gesigte, hande en voete sowel as lang en wye skote met ’n diep fokus van die wyd-uitgestrekte Oos-Vrystaatse landskap. Dallas Ncala, die beligtingstegnikus, se uitsluitlike gebruik van natuurlike lig bied ’n unieke sintuiglike ervaring aan kykers om die son op hul vel te voel, die gras te ruik en behoorlik van die koue te bibber.

Racheltjie de Beer is tydens vanjaar se kykNET Silwerskermfees met ’n spesiale toekenning vir Visuele Effekte onder leiding van Hilton Treves bekroon. Meer as 220 verskillende visuele effekte word in hierdie film aangetref, insluitend rekenaargegenereerde beelde van luiperde, zebras en bobbejane sowel as stormwolke en vallende sneeu. Warwick Allen (Leading Lady) slaag egter met sy uitsonderlike redigeringsvermoë daarin om alle verskillende kameraskote en rekenaargegenereerde beelde tot ’n soomlose eenheid saam te bind.

Chantel Carter (Fiela se kind) se produksie-ontwerp, wat deur Afrikaner-kultuurgoedere in die vorm van verskeie rekwisiete gekenmerk word, slaag daarin om aan die leefwêreld en gewoontes van binnelandse plaasmense gedurende die negentiende eeu reg te kan laat geskied. Sulet Meintjes (Verskietende Ster) se kostuumontwerp sowel as Gerlia Groenewald (Dominee Tienie) se grimering dien verder as ’n histories geloofwaardige uitbeelding van kleredrag en modegiere tydens die 1800’s se goudstormloop in Suid-Afrika.

Dié film se oorspronklike klankbaan wat Chris Letcher (Sink) gekomponeer het, beklemtoon die onheilspellende grusaamheid van hierdie onvermydelike tragedie wat op die karakters wag. Die welbekende Suid-Afrikaanse volkswysie, Al lê die berge nog so blou, wat tydens die slottoneel gehoor kan word, sluit hierdie nostalgiese ervaring op ’n hoogtepunt af.

Die mens se stryd teen die magtige natuur asook die rol van gesinsdinamiek in verlies is van die sentraal onderliggende temas wat in dié film ondersoek word terwyl ander kwessies soos menstruasie, selfmoord en depressie nooit volkome ontwikkel word nie. Alhoewel dié epiese drama dikwels vertraag word deur lang, uitgerekte insidente wat tydsaam ontvou, slaag dit egter nog steeds daarin om dié ikoniese kinderheldin ook vir toekomstige geslagte relevant te laat bly. Racheltjie de Beer met sy uitmuntende vertolkings, atmosferiese kameraskote en professionele regie sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit voor ’n byna onmoontlike keuse in sy/haar lewe te staan gekom het.