Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Skemerson: ’n Persoonlike reis na self-aanvaarding

Tydsduur: 91 minute
Genre: Drama
Ouderdomsbeperking: 10-12 PG
Vervaardigers: Pietie Beyers, Niel van Deventer, Charlené Brouwer
Regisseur: Phillip Rademeyer
Draaiboek: Pietie Beyers
Musiek: Riku Lätti
Kinematografie: William Collinson
Redigering: Christiaan Scheepers
Produksie-ontwerp: Chris Joubert
Kostuum-ontwerp: Anine Scheepers
Rolverdeling: Pietie Beyers, Anneke Weidemann, Elize Cawood

Skemerson vertel die verhaal van hoe ’n jong man, Sella se stryd met Patologiese twyfel, ’n intense vorm van Obsessiewe Kompulsiewe Gemoedsversteuring, hom laat besluit om sy eie lewe te neem. Hy ontmoet egter op pad na die berugte Bloukransbrug ’n jong vrou, Emma en haar terminaal sieklike moeder, Ludi wat vir hom ’n nuwe perspektief op die lewe gee. Hierdie lewensveranderende film beloof om ’n besonder insiggewende blik aan kykers te bied op die angswekkende beleweniswêreld van iemand wat aan dié gemoedstoestand ly.

Pietie Beyers wat met Skemerson as draaiboekskrywer debuteer, slaag met sy eerlike en deernisvolle benadering tot Sella se lewensverhaal daarin om empatie vir hom by die kykers te kweek. Dié draaiboek wissel tussen ’n stemboodskap deur die hoofkarakter se onsigbare suster aan hom sowel as sy dialoog met die ander karakters en voortdurende terugflitse om hierdie aangrypende verhaal te kan vertel. Laasgenoemde word baie effektief benut om op ’n geloofwaardige wyse gestalte te gee aan die onsamehangende gedagtes en irrasionele vrese wat onophoudelik deur sy kop bly maal.

Die draaiboekskrywer, Pietie Beyers van Sy Klink Soos Lente faam wat self ’n erkende lyer van Obsessiewe Kompulsiewe Gemoedsversteuring is, vertolk die hoofrol van Sella wat aan dieselfde gemoedstoestand ly. Sy geloofwaardige vertolking word ondersteun deur Anneke Weidemann (Die Wonderwerker) en Elize Cawood (Lien Se Lankstaanskoene) wat in Emma en Ma se rolle onderskeidelik ongeëwenaarde toneelspel lewer. Dis egter opvallend dat dié karakters eers sowat vyftien minute na die openingstoneel aan kykers bekend gestel word.

Phillip Rademeyer wat sy debuut as regisseur maak, slaag beslis met sy weldeurdagte leiding aan hierdie onderskeie akteurs daarin om reg te laat geskied aan die ontstellende werklikheid van geestesongesteldhede.

William Collinson se kinematografie word gekenmerk deur wye skote van die asemrowende natuurskoon op Stormsrivier en Nature’s Valley in die Oos-Kaap waar Skemerson verfilm is. Dié kinematograaf van Jagveld faam maak gebruik van handgedrewe skote en nabyskote op Sella se hande sowel as sy gesig om sodoende die stryd in sy oë vas te vang. Besondere donker beligting word deurlopend gebruik om die somberheid van sy gemoed sowel as die onheilspellendheid van die gebeure in sy lewe te beklemtoon.

Die oorspronklike musiek wat deur Riku Lätti van Abraham faam gekomponeer is, dui aan hoe Sella se angswekkende gedagtes en irrasionele vrese hom fisies sowel as emosioneel van almal rondom hom vervreem. Hierdie stemmingsmusiek sonder enige dialoog is dikwels meer as voldoende om sy onsekerhede, bekommernisse en vrese aan die kykers uit te beeld.

Dié menslike drama wat deur ware gebeure geïnspireer is, dien as ’n welkome spreekbuis vir diegene wat self aan Obsessiewe Kompulsiewe Gemoedsversteuring ly of iemand ken wat daarmee worstel. Dit slaag nie slegs daarin om die kykers van depressie, angs en allerlei verwante gemoedstoestande bewus te maak nie, maar ook om die stigma te verwyder wat so dikwels daaraan kleef. Skemerson met sy beperkte rolverdeling, minimalistiese dialoog en briljante emosionele subteks sal beslis aanklank vind by enigeen wat aan die belangrikheid van hoop en tweede kanse in die lewe glo.