Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Soek jy ’n lift: Die waarheid moet uit

Tydsduur: 63 minute
Ouderdomsbeperking: 16L
Genre: Komedie
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: Marisa Drummond
Draaiboek: Christel van den Bergh
Kinematografie: Philip van Zyl
Redigering: Regardt Botha
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Mila Guy, Adam Heyns, Adriaan van As, Lilani Prinsen, Mari Molefe Van Heerden, Johan Joubert, Paula Davids, Runaldo Hendricks

Soek jy ’n lift vertel die verhaal van hoe ’n pasgetroude paartjie, Francois (a.k.a Frannie) en Carmen (a.k.a Electra) gedwing word om hulle grootste geheime teenoor mekaar te ontbloot wanneer hulle op hul huweliksnag saam in ’n hysbak vasgevang is. Die strooimeisie, Claudie (a.k.a Katjie) en strooijonker, Pieter Combrinck (a.k.a Brink, a.k.a Kombi) dra ook belangrike geheime met hul saam, maar die waarheid het mos ’n manier om altyd op die mees ongeleë tye en plekke uit te kom. Hierdie effens gewaagde film met sy talle ongemaklike oomblikke sowel as verskeie kwinkslae beloof om kykers nie slegs telkemale te laat asem ophou nie, maar om hulle ook behoorlik te laat skaterlag.

Die pittige draaiboek wat deur die akteur, wyle Andrew Thompson (Verraaiers) geïnspireer is, kom uit sy vriendin en aktrise, Christel van den Bergh (Getroud Met Rugby) se pen terwyl die vervaardiger, Deon Opperman ook met die taalversorging hand bygesit het. Daar word van verskeie terugflitse gebruik gemaak in ’n poging om die invloed van bepaalde situasies uit die hoofkarakter, Carmen se verlede op die huidige gebeure te kan verduidelik. Die jong karakters se dialoog word gekenmerk deur kru- en vloektaal wat gemaklik van hulle tonge afrol om aan hul onderskeie verleenthede, frustrasies en spanning uiting te gee.  

Die regisseur, Marisa Drummond van die kykNETsepie, Getroud Met Rugby se ferm hand is hier ook duidelik sigbaar in die geloofwaardige wyse waarop elke akteur sy/haar onderskeie rol vertolk. Hierdie film dien as ’n vertoonvenster vir verskeie jong, opkomende talent soos  Mila Guy (Liewe Kersfeesvader), Adam Heyns (Wonderlus), Lilani Prinsen (Beurtkrag) en Adriaan van As (Damduikers, die damduikers). Dis egter Mari Molefe Van Heerden (Villa Rosa) in die kameerol van Nomvula wat die kollig steel met haar uitmuntende vertolking van dié skreeusnaakse beampte in die hysbak se beheerkamer.

Die kinematograaf, Philip van Zyl gebruik handgedrewe skote om aan te dui wanneer die hysbak gaan staan of beweeg en skote vanuit ’n hoog-bo hoek om die personeellede in die beheerkamer se perspektief op die vasgekeerde paartjie uit te beeld. Die geloofwaardigheid van hulle perspektief op die hysbak word verder versterk deur die kleurversorger, Marius de Nysschen wat dié hele toneel slegs in swart-en-wit voorstel. Regardt Botha maak van in- en uitdowing tydens die redigeringsproses gebruik om sodoende ’n duidelike onderskeid te kan  tref tussen die troue se onthaal en die gebeure wat dit voorafgaan sowel as wat daarop volg.

Die belangrikheid van eerlikheid tussen vriende is die sentrale onderliggende tema wat in hierdie film aangespreek word deur uit te beeld hoe vinnig ’n sprokiestroue in ’n nagmerrie kan ontaard indien ’n paartjie die waarheid van mekaar weerhou. Dié komiese film slaag ongetwyfeld daarin om die stereotipiese liefdesverhaal van die stralende bruidegom en bruid behoorlik op sy kop te keer deur te illustreer hoe die liefde dikwels alles behalwe volmaak is. Soek jy ’n lift met sy naelbyt oomblikke en onverwagse intriges sal beslis aanklank vind by enigeen wat al ooit in die naam van liefde iets belangriks van hulle geliefdes weerhou het.