Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Stille Nag: Onder ’n beskermengel se wakende oog

Tydsduur: 69 minute
Ouderdomsbeperking: 16 LV
Genre: Drama
Vervaardigers: Deon Opperman, Soné Combrinck
Regisseur: André Velts
Draaiboek: Deon Opperman
Musiek: Lindi Delport
Kinematografie: Marius de Nysschen
Redigering: Rob Verster
Produksie-ontwerp: Christian Joubert
Kostuumontwerp: Madelaine Lötter
Rolverdeling: Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Viljé Maritz, Luan Jacobs, Ruan Blum, Mila Guy

Stille Nag vertel die verhaal van hoe die Van Der Hoven gesin vir Oukersaand gereed maak  teen die agtergrond van die politieke noodtoestand waarin Suid-Afrika gedurende Desember 1986 gedompel was. Pa Christiaan en Ma Fransie wag saam met hulle regs polities gesinde seun, Adriaan en sy vrou, Antoinette asook hulle verstandelik gestremde broer, Daantjie op die tuiskoms van hulle ander seun, Gerhard wat homself vir die belange van die onderdruktes beywer. Hierdie menslike drama oor hulle botsende ideologieë beloof om die kykers opnuut weer oor die ongenaakbare impak van onvergewensgesindheid op gesinne bewus te maak.

Die draaiboekskrywer, Deon Opperman het na byna twintig jaar besluit om sy gelyknamige toneelstuk wat in 1990 reeds met ’n Fleur du Cap-toekenning vir die beste nuwe inheemse stuk bekroon is in ’n aangrypende film vir die kleinskerm te verwerk. Sy doeltreffende gebruik van situasionele ironie word aangewend om Kersdag as simbool van vrede en liefde in ’n dag van geweld en haat te laat ontaard sowel as om die gesinstafel as simbool van eenheid in ’n werktuig van verdeeldheid te verander. ’n Aanhaling vanuit D.J. Opperman se gedig, Negester en Stedelig wat Gerhard op sy broer, Daantjie se vooraf Kersgeskenk aangebring het, dien as vooruitwysing na sy verligte liberalisme wat ook duidelik uit sy ander Kersgeskenke sou blyk.

Die kinematograaf, Marius de Nysschen wissel tussen effe-hoeke en hoog bo hoeke om aan te dui dat hierdie verhaal vanuit die Engel, Mana se perspektief vertel word. Die voortdurende gebruik van lang skote op die leefvertrek van die huis suggereer dat dié engel bo-aan die Kersboom mettertyd die stille toeskouer van al die onderlinge verdeeldheid in die gesin word. Die emosionele intensiteit van bepaalde gebeure word deur middel van ekstreme nabyskote op Adriaan se gesig beklemtoon wanneer hy tydens sommige tonele direk in die kamera kyk.

Stille Nag spog met ’n indrukwekkende rolverdeling bestaande uit Sandra Prinsloo (’n Man Soos My Pa), Marius Weyers (Die Wonderwerker), Ruan Blum (Jou Romeo), Viljé Maritz (Verraaiers), Mila Guy (Liewe Kersfeesvader) en Luan Jacobs (Ballade vir ’n Enkeling). Ruan se ontroerende vertolking van die verstandelik gestremde broer, Daantjie wat die perspektief van liefde en onskuld verteenwoordig, sal ongetwyfeld die kykers se harte met sy toneelspel aanraak. Viljé verdien egter ook spesiale vermelding vir die geloofwaardige wyse waarop hy ’n oortuigde lid van ’n ver regse politieke party, die Afrikaner Weerstands Beweging vertolk.

André Velts van Raaiselkind-faam se toegewyde regie blyk duidelik uit die veteraanakteurs sowel as nuwelinge wat onverbeterlike spel lewer. Die produksie-ontwerper, Christian Joubert en die stelinkleder, Murray Kruger versterk die geloofwaardigheid van hierdie film deur ’n lewensgetroue uitbeelding van die meubels en dekor in die huis se leefvertrek te bied. Die  kostuum-ontwerp deur Madelaine Lötter asook grimering en hare deur Sarah Blatcher getuig ook van deeglike navorsing oor modes en tendense gedurende die tagtigerjare in Suid-Afrika.

Rob Verster slaag beslis met sy byna soomlose redigering daarin om dié ontroerende verhaal op ’n doeltreffende wyse tot ’n dramatiese eenheid saam te bind. Die beligtingstegnikus, Grant van Vuuren maak van onderbeligting sowel as ’n wasige fokus gebruik waardeur die broeiende onheil tydens die Van der Hovens se Kersfees beklemtoon word. Dié onheilspellendheid word op die spits gedryf deur Lindi Delport van Anders Orkes se aangrypende vertolking van die tradisionele Kerslied, Stille Nag wat die tragiese ironie van ’n dramatiese slottoneel versterk.

Die veelbekroonde skrywer, Deon Opperman wat vir televisiereekse soos Kruispad, Hartland, Donkerland en Bloedbroers ook verantwoordelik was, lewer weereens sosiale kommentaar op verskeie onderlinge teenstrydighede binne die Afrikanergeskiedenis. Die belangrikheid van familie en vergifnis asook die onversoenbaarheid van Christenskap en Apartheid sowel as die onderdrukking van vroue deur ’n onwrikbare patriargale sisteem gedurende die tagtigerjare is van die sentrale temas wat in hierdie film ter sprake kom. Stille Nag met sy grensverskuiwende draaiboek, weldeurdagte kinematografie en uitstekende toneelspel sal beslis aanklank vind by enige Afrikaner wat nie vir ongemaklike vrae oor sy herkoms en identiteit terugdeins nie.