Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Stroomop: Vasgevang in die maalkolk van die lewe

Tydsduur: 106 minute
Genre: Avontuur, Drama
Ouderdomsbeperking: 10-12 PG
Vervaardigers: Danie Bester, Ivan Botha, Donnalee Roberts
Regisseur: Ivan Botha
Draaiboek: Ivan Botha, Donnalee Roberts, Sean Robert Daniels
Musiek: Dawie de Jager
Kinematografie: Tom Marais
Redigering: C.A. van Aswegen
Rolverdeling: Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Chanelle de Jager, Ilse Klink, Carla Classen, Armand Aucamp, Kevin Smith, Neels Clasen, Elize Cawood, Franci Swanepoel

Stroomop vertel die verhaal van hoe vyf uiteenlopende vroue, Lana, Vivian, Adrie, Diona en Nixie se onderskeie lewenservaringe hulle as gevolg van voorgeskrewe avontuurterapie deur hulle selfhelpgroep op die ontstuimige waters van die Oranjerivier laat beland. Die onderlinge wrywing tussen hulle gee egter aanleiding tot ’n ongeluk waartydens hulle gids, Guy vermis raak en hulle uiteindelik in hierdie genadelose wildernis slegs op hulself vir oorlewing aangewese is. Hierdie inspirerende avontuurdrama beloof om nie net vir verskeie naelbyt oomblikke te sorg nie, maar om kykers ook opnuut weer oor die ware sin en betekenis van die lewe te laat nadink.

Ivan Botha en Donnalee Roberts wat vir die reuse lokettreffers, Pad Na Jou Hart en Vir Altyd verantwoordelik was, het saam met Sean-Robert Daniels, van The Writers Block, die weldeurdagte draaiboek ontwikkel. Daar word voortdurend tussen die hede en verlede gewissel met behulp van verskeie terugflitse om elkeen van die vyf vroue se traumatiese verledes effektief aan kykers te kan oordra. Ivan Botha wat met dié film sy regisseursdebuut maak, verras met ’n asemrowende visuele skouspel wat ongetwyfeld by alle natuurliefhebbers en adrenalienverslaafdes aanklank sal vind.

Die gerespekteerde kinematograaf, Tom Marais maak van verskeie ekstreme nabyskote op die karakters se oë en hande gebruik om hul interne emosionele spanning te beklemtoon. Verskeie wye skote wat vanaf hoog-bo tot horisontale en diagonale hoeke wissel sowel as karakters wat dikwels van agter afgeneem word, beklemtoon hoe uitgelewer hul werklik aan die omgewing is.

Die veteraan redigeerder, C.A. van Aswegen het homself oudergewoonte oortref met die wyse waarop hy verskeie vertraagde beeldoorgange gebruik om die dramatiese stemming, ritme en tempo van dié film effektief te komplementeer. Die gebruik van kruisdowing sowel as ’n wasige kamera-fokus stel kykers in staat om die omgewing vanuit die oë van die vyf vroue wat lei aan dehidrasie en algehele uitputting te kan waarneem. Die donker tonele met slegs die lig van ’n kampvuur wat die karakters se gesigte verlig, beklemtoon nie net die dreigende gevare rondom hulle nie, maar skep ook ’n veilige ruimte waarbinne hulle hul ervarings met mekaar kan deel.

Stroomop spog met ’n indrukwekkende rolverdeling, insluitende Armand Aucamp (Ballade vir ’n Enkeling), Donnalee Roberts (Pad Na Jou Hart), Simoné Nortmann (Vir die Voëls), Ilse Klink (Dis ek, Anna) en Chanelle de Jager (Thys & Trix) wat almal uitstekende spel lewer. Dis egter laasgenoemde se vertolking van Adrie, ’n mollige, gefrustreerde huisvrou met drie woelwater seuns en ’n voorliefde vir lekker eet wat ongetwyfeld baie diep in kykers se harte gaan inkruip. Carla Classen wat haar silwerskermdebuut in die rol van Nixie, Diona se verbitterde en eiewys dogter maak, is beslis ook ’n opwindende, jong talent wat van nog hope potensiaal getuig.

Die oorspronklike stemmingsmusiek deur Dawie de Jager asook klankredigering deur Charlotte Buys en Basiami Segola beklemtoon dié film se dramatiese ondertoon. Stroomop se klankbaan bestaan buiten vir hierdie film se sielvolle temalied uit die pen van Danie du Toit ook uit Johnny Cash se You are my sunshine, Victoria de la Harpe se Brave en Spoegwolf se Bittermaan.

Dié boeiende lewensdrama wat in sommige opsigte aan Wild herinner, ontgin selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en uiteindelike genesing as sentrale temas. Dié vyf vroue se oorkoming van hulle eie onsekerhede is wat aan hul die innerlike krag gee om te midde van buitengewone teenspoed stroomop te kan swem teen dit wat die samelewing van hulle verwag. Stroomop sal ten spyte van sy oorheersend vroulike rolverdeling aanklank vind by vroue sowel as mans wat al ooit hul ware self moes vind nadat hul deur die maalkolk van die alledaagse lewe verswelg is.