Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Susters: ’n Kleurvolle, flambojante selfontdekkingsreis

Tydsduur: 95 minute
Genre: Romantiese Komedie
Ouderdomsbeperking: 7-9 PG D
Vervaardigers: Jenny Griesel en Johan Vorster
Regisseur: Corné van Rooyen
Draaiboek: Sandra Vaughn en Corine du Toit
Musiek: Andries Smit en Johan Vorster
Kinematografie: Sunel Haasbroek
Redigering: C.A. van Aswegen
Rolverdeling: Diaan Lawrenson, Leah van Niekerk, Quanita Adams, Sean Marco Vorster, Annelisa Weiland, Lida Botha, Johan Botha, Gert van Niekerk, Pierre Breytenbach

Susters vertel die verhaal van hoe drie vervreemde, aangenome susters na hulle ma, Martie se afsterwe deur middel van ’n vooraf uitgewerkte roete uiteindelik weer met mekaar herenig word. Lexie, die entomoloog, Jo, die mode-ontwerper en Cecile, die hygromanskrywer word deur hul ma se manlike verpleër, Frans en haar luislang, Kasper na die Kaap vergesel met die opdrag om haar as by hul strandhuis te gaan strooi. Dié avontuurfilm propvol eksentrieke karakters en ongelooflike natuurskoon beloof om kykers op ’n interessante selfontdekkingsreis te neem.

Die bekroonde regisseur, Corné van Rooyen van Hollywood in My Huis en Vaselinetjie faam verdien beslis ’n klop op die skouer vir sy betekenisvolle kleurgebruik wat op die Jules Verne-ikonografie gebaseer is. Die sterk kontras tussen die helder geel Landrover en die Karoo se vaal, uitgestrekte vlaktes word gebruik om die drie susters se onderskeie eensaamheid sowel as hul vervreemdheid van mekaar te beklemtoon. Die kinematograaf, Sunel Haasbroek slaag met haar wye draaiskote van asemrowende landskappe in Hartebeespoort, Williston en Kaap Agulhas daarin om die ideale atmosfeer vir hulle ontdekkingsreis te kan skep. Die gebruik van generiese rekenaarbeelde tydens die inleidings- en slottoneel om die drie susters binne Orion se gordel voor te stel doen egter afbreuk aan die geloofwaardigheid van dié film in sy geheel.

Die gewilde skryfpaar, Sandra Vaughan en Corine du Toit se stereotipe karakters, geforseerde humor en heelwat bisarre tonele lei ongelukkig meestal tot ’n onbevredigende draaiboek met hopeloos te veel oorbodige intriges. Die dinamika tussen Lexie, Jo, Cecile en Frans ontbreek ook grotendeels alhoewel Leah (As Jy Sing), Diaan Lawrenson (Raaiselkind), Quanita Adams (Jimmy In Pienk) en Sean-Marco Vorster (Die Windpomp) elkeen onderskeidelik bevredigende spel lewer. Dis egter Annelisa Weiland, Lida Botha, Gert van Niekerk, Pierre Breytenbach en Jo Black se kameerolle wat vir heelwat opwindende verrassings langs die pad sorg.

Die oorspronklike musiek wat deur Andries Smit vir dié film gekomponeer is met aanvullende musiek deur Johan Vorster beklemtoon die intensiteit van die vervreemdheid wat tussen die drie susters heers. Die temalied, Nooit Alleen wat deur Leah en Jo Black gesing word, slaag daarin om die drie susters se eensaamheid as ’n deurlopende tema aan te spreek en uiteindelik te weerlê. Die klankbaan bestaan verder ook uit ’n enorme verskeidenheid vanaf immergroen treffers soos Frans Briel se As ek sterf en Sonja Herholdt se Ek verlang na jou tot hedendaagse treffers soos Jo Black se Skepe, Gerhard Steyn se Baby Tjoklits en Karen Zoid se Afrikaners is plesierig.

Hierdie sogenaamde “chick-fliek” wat aan internasionale films soos The Secret Life of Walter Mitty en Around the Bend herinner, is ’n film vir vroue deur vroue om hulle te herinner aan hoe sterk hul werklik is. Tweede kanse, ’n toekoms en aanvaarding wat deur Lexie, Jo en Cecile onderskeidelik uitgesonder word as dit wat hulle ma vir hul elkeen nagelaat het, kan as sentrale temas in dié film beskou word. Susters met sy pittige terugflitse en sy tikkie magiese realisme sal by ma’s, dogters, sussies, oumas en vriendinne van alle ouderdomme aanklank vind.