The Recce: ’n Ode aan families duskant die kaplyn

Tydsduur: 115 minute
Ouderdomsbeperking: 16 LV
Genre: Oorlogsdrama
Vervaardiger: Jac Williams, Johannes Ferdinand van Zyl, Jacques le Roux
Regisseur: Johannes Ferdinand van Zyl
Draaiboek: Johannes Ferdinand van Zyl
Kinematografie: Jacques van Tonder
Redigering: Jacques le Roux, Ronelle Loots
Musiek: Graham Ward
Kostuum-ontwerp: Nico Nigrini
Produksie-ontwerp: Pieter Bosman
Rolverdeling: Greg Kriek, Christia Visser, Elsabé Daneel, Albert Maritz, Marius Weyers, Grant Swanby, Maurice Carpede, Karlé Briedenhann, Sonni Chidiebere

The Recce vertel die verhaal van hoe Henk Viljoen tydens die Grensoorlog in 1981 besluit om na afloop van sy verpligte dienstydperk in die Suid-Afrikaanse Weermag aan te bly waar hy tydens ’n geheime opdrag verkeerdelik in die vyand se gebied dood verklaar word. Dié jong recce moet gevolglik alle moontlike vaardighede en hulpbronne tot sy beskikking inspan in ’n poging om sy kans op oorlewing in die oorlog geteisterde Angola te kan verseker terwyl sy swanger vrou, Nicola ongeduldig op sy tuiskoms wag. Hierdie meesleurende oorlogsdrama met sy talle naelbyt oomblikke beloof om kykers nie net op die punte van hulle stoele te hou nie, maar om hul ook weer opnuut die absolute sinneloosheid van enige oorlog te laat besef.

Johannes Ferdinand van Zyl wat sy debuut as vervaardiger, regisseur en draaiboekskrywer maak, het saam met Jac Williams van Man Makes a Picture hierdie uitdagende film tot stand gebring. Van Zyl se onkonvensionele draaiboek maak gebruik van terugflitse na die paartjie se herinneringe aan hulle gelukkiger tye saam alhoewel die gebeure meestal chronologies verloop. Die geloofwaardigheid daarvan word egter ongelukkig deur vele teenstrydighede en hoogs onwaarskynlikhede in die plotlyn asook ’n gebrek aan behoorlike navorsing in verband met bepaalde militêre omstandighede en range in die Suid-Afrikaanse Weermag gekniehalter.

Die kinematograaf, Jacques van Tonder se kamera volg die karakters dikwels van agter af sowel as van onder na bo om te beklemtoon hoe uitgelewer hulle elkeen aan hul onderskeie omstandighede is. Sy kinematografie word ook gekenmerk deur verskeie stadig bewegende skote om die spanning te verhoog, wye lugskote om die karakters se weerloosheid uit te beeld en ekstreme nabyskote op hulle gesigte om die intensiteit van hulle emosies te kan beklemtoon. Die redigeerder, Jacques le Roux wie se gebrek aan ervaring duidelik sigbaar is, word deur die ervare redigeerder, Ronelle Loots van Die Wonderwerker faam bygestaan.

Die geloofwaardigheid van bepaalde liggings is egter in gedrang soos baie duidelik blyk uit die feit dat al die oorlogstonele op verskeie plekke in die Oos- en Wes-Kaap van Suid-Afrika verfilm is terwyl dit eintlik in Angola afspeel. Gelukkig slaag Pieter Bosman en Nico Nigrini met hulle produksie- sowel as kostuumontwerp onderskeidelik daarin om die ware tydsgees gedurende die sewentiger- en tagtigerjare in Suid-Afrika besonder lewensgetrou uit te beeld. Die gebruik van verskeie spesiale effekte en kleur filters wat dit afrond, verseker ongetwyfeld dié film se plek as ’n visueel-stimulerende kunswerk binne die Suid-Afrikaanse filmlandskap.

The Recce spog met ’n uiters talentvolle rolverdeling, maar ongelukkig word hulle vermoëns deur die draaiboek se dikwels gebrekkige karakterisering beperk. Veteraanakteurs, Albert Maritz en Elsabé Daneel wat onderskeidelik die rolle van Henk se ouers, Leon en Sandra Viljoen vertolk asook Marius Weyers in die rol van Generaal Piet Visagie laat hulle egter nie hierdeur van stryk bring nie. Christia Visser van Ballade vir ’n Enkeling faam se oortuigende vertolking van Henk se treurende weduwee, Nicola verdien beslis ook spesiale vermelding.

Graham Ward se oorspronklike stemmingsmusiek slaag ongetwyfeld daarin om aan die talle dramatiese gebeure op die grens sowel as die sombere atmosfeer tuis reg te laat geskied. Daar is heelwat tonele waarin hierdie musiek alleen meer as voldoende is om die karakters se emosies aan die kykers te kan oordra. Die klankbaan van The Recce bestaan verder ook uit treffers soos Four Jacks and a Jill se Master Jack sowel as Medicine Boy se Bag of Bones.

Hierdie introspektiewe film bied ’n kritiese blik op ’n byna twintig jaar lange oorlog in “die bos” waarin verskeie aspekte soos familie, menslikheid, geweld, oorlewing en nalatenskap as sentrale temas ontgin word. Dit dwing Suid-Afrikaners tot ver agter die kaplyn in waar hulle al hul diepste vrese en grootste vraagstukke oor die verlede in die gesig moet staar, maar die eksplisiete uitbeelding van geweld asook die oormatige gebruik van vloektaal sal sensitiewe kykers ontstel. The Recce wat aan menslike dramas soos Lone Survivor en The Revenant herinner, sal aanklank vind by enigeen wat al ooit van hulle geliefdes in ’n oorlog verloor het.