Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Thys & Trix: Sibbes saai amok in die polisiediens

Tydsduur: 96 minute
Genre: Aksie-Komedie
Ouderdomsbeperking: 16 DL
Vervaardigers: Danie Bester, Bouwer Bosch, Leandie du Randt Bosch
Regisseur: Quentin Krog
Draaiboek: Quentin Krog, Frannie van der Walt, Sean-Robert Daniels
Musiek: Loki Rothman
Kinematografie: Brendan Barnes
Redigering: C.A. van Aswegen
Rolverdeling: Leandie du Randt Bosch, Bouwer Bosch, Brendon Daniels, Zak Hendrikz, Dorette Potgieter, Charlie Bouguenon, Carine Rous, Ivan Zimmerman, Chanelle de Jager, Deon Coetzee, Sherman Pharo

Thys en Trix vertel die verhaal van hoe ’n broer en suster in die polisiediens moet voorgee dat hulle getroud is sodat hul die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ’n verlammende hallusineringsmiddel kan ondersoek. Hierdie twee ywerige, maar onbeholpe polisielede word deur Speurder Solomons as hulle huiskneg vergesel na ’n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai waar lede van die berugte misdaad-sindikaat woon. Dié skreeusnaakse aksie-komedie beloof om kykers nie net behoorlik te laat skater van die lag nie, maar om hulle ook end-uit op die punte van hul stoele te hou.

Die mede-skrywer sowel as regisseur, Quentin Krog se besondere oog vir detail is duidelik sigbaar in die wyse waarop hy daarin slaag om aan die dikwels byna absurde tonele op die grootskerm lewe te gee. Brendan Barnes van Vir die Voëls-faam se kinematografie word gekenmerk deur verskeie hoog-bo skote wat beklemtoon hoe elkeen van die karakters aan hulle onderskeie omstandighede uitgelewer is.

Die vlymskerp draaiboek wat Quentin Krog en Sean-Robert Daniels van Vir die Voëls-faam in samewerking met die nuweling, Frannie van der Walt ontwikkel het, is deur Bouwer en Leandie se oorspronklike konsep geïnspireer. Die spitsvondige, dog natuurlike dialoog wat daarin voorkom, sorg vir verskeie onvergeetlike kwinksale wat oor die potensiaal beskik om almal in die toekoms nog volksbesit te word. Die skrywers slaag egter ook daarin om kykers te verras deur Thys en Trix se onderlangse twis dikwels onverwags met ’n dieper deernis en begrip vir mekaar te vervang wat hierdie draaiboek beslis alles behalwe voorspelbaar maak.

Thys en Trix spog met ’n baie interessante rolverdeling bestaande uit verskeie groot name, insluitende Bouwer Bosch (Trouvoete), Leandie du Randt-Bosch (Jagveld), Brendon Daniels (Krotoa), Dorette Potgieter (Hoener met die Rooi Skoene), Zak Hendrikz (Eintlik Nogal Baie), Ivan Zimmerman (Verraaiers), Chanelle de Jager (Van der Merwe), Deon Coetzee (Stilte) en Charlie Bouguenon (Vuil Wasgoed). Die natuurlike kameraadskap tussen die eersgenoemde twee wat in Klein Karoo en Mooirivier ook teenoor mekaar gespeel het, verhoog beslis hulle onderskeie karakters se geloofwaardigheid. Carine Rous van Semi-Soet verdien egter ook spesiale vermelding vir haar uitmuntende vertolking van die vaal weduwee, Heidi Bekker.

Die oorspronklike musiek vir die klankbaan wat deur Loki Rothman van Liewe Kersfeesvader faam gekomponeer is, wissel tussen ’n baie vinnige tempo tydens die aksietonele en ’n meer gematigde tempo tydens die misterieuse, onheilspellende situasies. Karlien van Jaarsveld se bekende treffer, Geskeurde Jeans is verder ook ingespan om ’n gepaste ritme te verleen aan die absurde openingstoneel waartydens Thys en Trix na ’n misdaadtoneel ontbied word.

Hierdie aksie-komedie wat aan Keeping up with the Joneses en We’re the Millers herinner, maak van kleurvolle karakters gebruik om kykers saam met hulle deur baie skreeusnaakse oomblikke op hul onkonvensionele reis te neem. Dit skroom geensins om met die huidige Suid-Afrikaanse regering se onvermoë die spot te dryf nie, alhoewel dit egter nog steeds van oorwegend konserwatiewe humor gebruik maak. Thys en Trix sal aanklank vind by enigeen wat hulleself al ooit as gevolg van hul eie toedoen in ’n ongemaklike situasie bevind het.