Oops! It appears that you have disabled your Javascript. In order for you to see this page as it is meant to appear, we ask that you please re-enable your Javascript!

Van Der Merwe: Suid-Afrikaanse legende wat vele laat skaterlag

yellowyellowgraygraygray

Tydsduur: 95 minute
Ouderdomsbeperking: 7-9 PG
Genre: Familiekomedie
Vervaardigers: Bruce Lawley, Bruce MacDonald, Murray MacDonald en Craig Jones
Regisseur: Bruce Lawley
Draaiboek: Bruce Lawley
Musiek: Jack Parrow
Redigering: Jessie Viljoen
Rolverdeling: Greg Kriek, Reine Swart, Ian Roberts, Matthew Baldwin, Benedikt Sebastian, Erica Wessels, Rob van Vuuren, Louw Venter, Rika Sennett, Chanelle de Jager, Barry Hilton, Clare Marshall, Adrienne Pearce, Lizette van der Merwe

Van Der Merwe vertel die verhaal van hoe ’n baie lomp boer, Van sukkel om sy familie se goedkeuring te kry nadat sy enigste dogter, Marike aan ’n Engelsman verloof geraak het. Dié onmoontlike situasie word selfs nog verder vererger deur sy tradisionele pa wat hom beveel om die troue tussen haar en ’n Britse mediese student, George stop te sit. Verskeie skreeusnaakse familie- en kultuurkonflik sowel as ongemaklike situasies en katastrofes beloof om filmgangers te laat skaterlag vir hierdie swartskaap van die familie se kenmerkende onvermoë om suksesvol te wees.

Bruce Lawley maak sy debuut as draaiboekskrywer en regisseur met hierdie komedie oor die buiteperd waarin daar aan die onderwerp van Suid-Afrika se gunsteling grappies lewe geskenk word. Die oorhoofse Engelse draaiboek span ongelukkig hierdie geliefde karikatuur van die Afrikaner in om sodoende sy voorkoms, optrede en dialoog gruwelik te stereotipeer. Buiten vir die elemente van “slapstick” komedie met Van wat gedurig in deure vasloop en met sy kop teen die bad val, grens dit ook soms aan toilethumor soos blyk uit die walglike toneel oor ’n hardlywige koei. Bruce MacDonald se kinematografie word gekenmerk deur nabyskote van voorwerpe asook lang skote van die karakters waarin die kamera voortdurend vanuit ’n effe-hoek of ’n hoog-bo hoek op die Afrikaner neerkyk.

Rob van Vuuren vertolk met sy interessante gesigsuitdrukkings, ekspressiewe oë en speelse geaardheid die titelrol, Van der Merwe in hierdie familiekomedie. Alhoewel hierdie komediant van Shucks! Your Country Needs You faam oor baie goeie komiese tydsberekening beskik, oorspeel hy Van ongelukkig tot so ’n mate dat die karakter sy geloofwaardigheid verloor. Ian Roberts (Babalas), Rika Sennett (Jonathan: Die Movie), Chanelle de Jager (Faan se Trein), Reine Swart (Kampterrein), Erica Wessels (Trouvoete) en Louw Venter (Hoener Met Die Rooi Skoene) gee lewe aan verskeie karakters wat geskep is om sy tekortkominge te beklemtoon.

Jack Parrow se satiriese temalied, Van der Merwe slaag ongetwyfeld daarin om hierdie tong-in-die-kies komedie perfek vas te vang. Die Campbells se sokkiedanstreffer, Rooi Rok Bokkie sorg vir groot vermaak tydens Van se karaoke by Blazers Karaoke Grill House. Nog ’n verrassing is die veelbekroonde Kurt Darren wat met ’n gasverskyning met ’n akoestiese weergawe van sy platinumtreffer, Kaptein maak.

Van Der Merwe handel oor watter soort mens iemand moet wees en hoe hy moet optree om die onderwerp van almal se grappies te kan wees. Die onderliggende tema is egter dat ’n mens, ongeag van jou omstandighede of tekortkominge altyd getrou moet bly aan wie jy is en nooit moet moed opgee nie. Hierdie goedvoel-fliek dien ook as bewys dat alle verskille oorkombaar is indien ’n mens vir jouself kan lag en dit kan regkry om die lewe nie té ernstig op te neem nie.

Hierdie persona-gebaseerde komedie wat aan Ace Ventura en Zoolander herinner, gebruik egter van ’n Suid-Afrikaanse aanslag om dit vir plaaslike filmgangers meer toeganklik te maak. Van Der Merwe mag moontlik aanklank vind by diegene wat van oppervlakkige vermaak hou, maar lewer ongelukkig nie enige noemenswaardige bydrae tot die Afrikaanse filmbedryf nie.